1Die manne van Efraim het egter vir hom gesê: “Wat het jy ons aangedoen, om ons nie op te roep toe jy teen die Midianiete gaan veg het nie?” Hulle het heftig teen hom uitgevaar. 2Hy het vir hulle gesê: “Wat het ek nou eintlik vermag in vergelyking met julle? Is Efraim se naoes nie beter as Abiëser se druiweoes nie? 3Dit is in julle hand wat God die •aanvoerders van Midian, Oreb en Seëb, gegee het. Wat kon ek vermag in vergelyking met julle?” Eers nadat hy hierdie woorde gesê het, het hulle gegriefdheid teenoor hom bedaar.
4Gideon het by die Jordaan aangekom, en hy en die driehonderd man wat by hom was, het oorgetrek. Hulle was uitgeput, maar het steeds voortgegaan met die agtervolging. 5Hy sê toe vir die mense van Sukkot: “Gee asseblief rondebrode vir die manskappe wat my volg, want hulle is uitgeput. Ek is besig om Sebag en Salmunna, die konings van die Midianiete, te agtervolg.” 6Maar die aanvoerders van Sukkot vra hom: “Is die handpalms van Sebag en Salmunna nou al in jou hand, dat ons vir jou leër brood moet gee?” 7Toe sê Gideon: “Dis waar, maar wanneer die Here vir Sebag en Salmunna in my hand gee, gaan ek julle liggame met woestyndorings en braambosse dors.”
8Daarvandaan het hy opgegaan na Pniël en vir hulle dieselfde gesê. Maar die manne van Pniël het hom op dieselfde manier geantwoord as wat die manne van Sukkot geantwoord het. 9Hy het toe ook vir die manne van Pniël gesê: “Wanneer ek veilig terugkom, sal ek hierdie toring afbreek.”
10Sebag en Salmunna was in Karkor. Hulle leër was saam met hulle, ongeveer vyftienduisend. Dit was al wat oor was van die hele leër van die mense uit die ooste. Dié wat geval het, was egter honderd-en-twintigduisend, elkeen met 'n swaard gewapen.
11Gideon het toe opgetrek met die pad van die nomade, aan die oostekant van Nobag en Jogboha. Hy het die leër aangeval terwyl hulle houtgerus was. 12Toe Sebag en Salmunna vlug, het hy hulle agtervolg. Hy het die twee konings van die Midianiete, Sebag en Salmunna, gevang, en die hele leër is deur vrees oorweldig.
13Terwyl Gideon, seun van Joas, oor die Gereshoogte teruggekeer het van die geveg, 14het hy 'n jong man van die manne van Sukkot gevang. Hy het hom uitgevra, en die jong man het vir hom die name van die aanvoerders van Sukkot en sy oudstes neergeskryf – sewe-en-sewentig man. 15Toe Gideon by die manne van Sukkot kom, sê hy vir hulle: “Kyk, hier is Sebag en Salmunna, oor wie julle my gespot het met die woorde, ‘Is die handpalms van Sebag en Salmunna nou al in jou hand, dat ons aan jou moeë manne brood moet gee?’ ” 16Hy neem toe die oudstes van die dorp, en ook woestyndorings en braambosse. Hy het die manne van Sukkot daarmee laat kennis maak. 17Die toring van Pniël het hy afgebreek en die manne van die dorp doodgemaak.
18Daarop het hy vir Sebag en Salmunna gevra: “Van waar was die manne wat julle by Tabor doodgemaak het?” Hulle sê toe: “Hulle was soos u; elkeen met die voorkoms van 'n koningseun.” 19Toe sê Gideon: “Dit was my broers, seuns van my ma. So waar as die Here leef, as julle hulle laat leef het, sou ek julle nie doodgemaak het nie.” 20Daarop sê hy vir Jeter, sy eersgeborene: “Staan op; maak hulle dood!” Die jong man het egter nie sy swaard getrek nie, want hy was bang – hy was immers nog maar 'n seun. 21Sebag en Salmunna sê toe: “Staan jý op en val ons aan, want iemand se krag wys of hy 'n man is.” Gideon staan toe op en maak Sebag en Salmunna dood. Hy het die halfmaantjies gevat wat aan die nekke van hulle kamele was.
22Die manne van Israel het toe vir Gideon gesê: “Heers oor ons, u sowel as u seun en kleinseun, want u het ons verlos uit die hand van die Midianiete.” 23Maar Gideon het hulle geantwoord: “Dit is nie ek wat oor julle sal heers nie, en my seun sal ook nie oor julle heers nie. Die Here alleen heers oor julle.” 24Gideon het ook vir hulle gesê: “Ek wil aan julle 'n versoek rig: Gee elkeen vir my 'n ring uit sy buit.” Die Midianiete het goue ringe gehad, want hulle was Ismaeliete. 25“Ons gee dit graag!” sê hulle, en sprei 'n oorkleed oop. Elkeen het 'n ring uit sy buit daarop gegooi. 26Die gewig van die goue ringe wat hy gevra het, was eenduisend sewehonderd sikkel goud; dit was afgesien van die halfmaantjies, die oorbelle en die purperrooi kledingstukke wat die Midianitiese konings gedra het, en afgesien van die kettinkies wat aan hulle kamele se nekke was.
27Daarmee het Gideon 'n efod gemaak en dit in sy tuisdorp, in Ofra, opgestel. Die hele Israel is daar deur die efod tot afgodsdiens verlei; en dit het vir Gideon en sy huis 'n valstrik geword.
28So het die Midianiete die knie gebuig voor die Israeliete. Hulle kon nie weer hulle koppe oplig nie. Die land het veertig jaar lank rus gehad in Gideon se leeftyd.
29Jerubbaäl, seun van Joas, het in sy eie huis gaan woon. 30Gideon het sewentig seuns gehad wat hy verwek het, want hy het baie vroue gehad. 31Ook sy byvrou wat in Sigem was, het vir hom 'n seun in die wêreld gebring, en hy het hom Abimeleg genoem. 32Gideon, seun van Joas, het op 'n hoë ouderdom gesterf. Hy is in die graf van Joas, sy vader, begrawe in Ofra, wat aan die familie van Abiëser behoort.
33Maar net nadat Gideon dood is, het die Israeliete weer agter die Baäls aan gehoereer. Hulle het Baäl-Berit hulle god gemaak. 34Die Israeliete het nie meer gedink aan die Here hulle God wat hulle gered het uit die hand van al hulle vyande rondom hulle nie. 35Hulle het ook nie trou bewys aan die huis van Jerubbaäl, dit is Gideon, vir al die goeie dinge wat hy aan Israel gedoen het nie.