Jeremia by Gedalja
1Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het nadat Nebusaradan, die •aanvoerder van die lyfwag, hom vrygelaat het in Rama. Toe hy hom laat haal het, is hy met handboeie geboei tussen al die ballinge van Jerusalem en Juda wat weggevoer is na Babilonië. 2Die aanvoerder van die lyfwag het Jeremia laat haal en vir hom gesê: “Die Here jou God het hierdie onheil oor hierdie plek aangekondig, 3en die Here het dit laat gebeur en gedoen soos Hy gesê het. Omdat julle teen die Here gesondig het en nie na sy stem geluister het nie, het hierdie dinge met julle gebeur. 4En nou, kyk, ek bevry jou vandag van die handboeie wat aan jou hande is. As jy dit goedvind om saam met my na Babel te gaan, kom dan! Ek sal my oog oor jou hou. Maar as jy dit nie goedvind om saam met my na Babel te gaan nie, laat dit daarby! Kyk, die hele land lê oop voor jou – waar jy dit ook al goed en reg vind om heen te gaan, gaan daarheen!” 5Hy het nog nie geantwoord nie, toe sê Nebusaradan: “Keer dan terug na Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, wat die koning van Babilonië oor die dorpe van Juda aangestel het, en bly saam met hom tussen die mense, of gaan waarheen dit ook al vir jou reg lyk om te gaan.” Die aanvoerder van die lyfwag het toe vir hom padkos en 'n geskenk gegee, en hom laat gaan.
6Jeremia het na Gedalja, seun van Agikam, in Mispa gegaan. Hy het by hom gebly tussen die mense wat in die land oor was.
Moord op Gedalja
7Toe al die bevelvoerders van die leërafdelings wat nog in die veld was, hulle en hulle manskappe, hoor dat die koning van Babilonië vir Gedalja, seun van Agikam, in die land aangestel het, en dat hy mans, vroue en kinders, en mense uit die armstes van die land, wat nie in ballingskap na Babilonië weggevoer is nie, aan hom toevertrou het, 8het hulle na Gedalja in Mispa gekom. Dit was Ismael, seun van Netanja, Joganan en Jonatan, seuns van Kareag, asook Seraja, seun van Tangumet, en die seuns van Efai uit Netofa, en ook Jesanja, seun van 'n man uit Maäga – hulle en hulle manskappe. 9Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, het vir hulle en hulle manskappe 'n eed afgelê: “Moenie bang wees om die Galdeërs te dien nie. Bly in die land en dien die koning van Babilonië, dan sal dit goed gaan met julle. 10Wat my betref – kyk, ek gaan in Mispa bly in diens van die Galdeërs, wat na ons toe sal kom. Maar julle, samel wyn, somervrugte en olyfolie in en plaas dit in julle houers! Gaan woon dan in julle dorpe waarvan julle die beheer oorneem!”
11Ook al die Judeërs wat in Moab en by die Ammoniete en in Edom en al die ander lande was, het gehoor dat die koning van Babilonië 'n oorblyfsel vir Juda agtergelaat het, en dat hy Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, oor hulle aangestel het. 12Al die Judeërs het toe teruggekeer uit al die plekke waarheen hulle verdryf was. Hulle het na die land van Juda gekom, na Gedalja in Mispa. Hulle het baie groot hoeveelhede wyn en somervrugte ingesamel. 13Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings wat in die veld was, het na Gedalja in Mispa gekom 14en vir hom gesê: “Is jy hoegenaamd bewus daarvan dat Baälis, koning van die Ammoniete, vir Ismael, seun van Netanja, gestuur het om jou om die lewe te bring?” Maar Gedalja, seun van Agikam, het hulle nie geglo nie.
15Joganan, seun van Kareag, het in Mispa in die geheim vir Gedalja gesê: “Laat ek gaan en Ismael, seun van Netanja, doodslaan; niemand sal dit weet nie. Waarom moet hy jou om die lewe bring? Waarom moet die hele Juda wat by jou byeengekom het, verstrooi word, en die oorblyfsel van Juda tot niet gaan?” 16Maar Gedalja, seun van Agikam, het vir Joganan, seun van Kareag, gesê: “Moenie hierdie ding doen nie, want wat jy oor Ismael sê, is 'n leuen.”