1Al die bevelvoerders van die leërafdelings en Joganan, seun van Kareag, asook Jesanja, seun van Hosaja, en die hele volk, klein en groot, het nader gegaan 2en vir die profeet Jeremia gesê: “Laat ons smeekbede asseblief voor u neergelê word, en bid vir ons tot die Here u God, vir hierdie hele oorblyfsel, want ons het as 'n klein klompie oorgebly uit baie, soos u ons met u eie oë hier sien. 3Laat die Here u God aan ons bekend maak die pad waarop ons moet gaan, en wat ons te doen staan.” 4Die profeet Jeremia het toe vir hulle gesê: “Ek het gehoor. Kyk, ek gaan tot die Here julle God bid, soos julle versoek, en ek sal elke woord wat die Here julle antwoord, aan julle bekend maak. Ek sal niks van julle weerhou nie.” 5En hulle, hulle sê toe vir Jeremia: “Mag die Here 'n ware en betroubare getuie teen ons wees as ons nie presies optree volgens elke woord waarmee die Here u God u na ons stuur nie! 6Of dit nou goed of sleg is, na die stem van die Here ons God, na wie ons u stuur, sal ons luister, sodat dit met ons goed kan gaan as ons luister na die stem van die Here ons God.”
7Ná tien dae het die woord van die Here tot Jeremia gekom. 8Hy het Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings wat by hom was, en ook die hele volk, klein en groot, geroep 9en vir hulle gesê: “So sê die Here, die God van Israel na wie julle my gestuur het om julle smeekbede voor Hom neer te lê, 10‘As julle inderdaad in hierdie land bly, sal Ek julle opbou en nie afbreek nie; Ek sal julle plant en nie uitruk nie, want Ek het berou oor die onheil wat Ek julle aangedoen het. 11Moenie bang wees vir die koning van Babilonië, vir wie julle so bevrees is nie! Moenie vir hom bang wees nie,’ is die uitspraak van die Here, ‘want Ek is by julle om julle te verlos en julle uit sy hand te red. 12Ek sal aan julle barmhartigheid bewys, sodat ook hy julle barmhartig sal wees en julle na julle grond sal laat terugkeer. 13Maar as julle sê, “Ons wil nie in hierdie land bly nie,” en, sonder om na die stem van die Here julle God te luister, 14sê, “Nee, na Egipteland wil ons gaan, waar ons nie oorlog sal beleef of die geluid van •ramshorings sal hoor, of broodgebrek sal ly nie; daar wil ons bly” ’ ” – 15nou dan, hoor daarom die woord van die Here, oorblyfsel van Juda! So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “As julle vas van voorneme is om na Egipte te gaan, en julle gaan om as •vreemdelinge daar te woon, 16dan sal die swaard waarvoor julle bang is, julle daar in Egipteland inhaal. Die hongersnood waaroor julle beangs is – daar in Egipte sal dit op julle hakke sit, en daar sal julle sterf. 17Al die manne wat van voorneme is om na Egipte te gaan om daar as vreemdelinge te woon, sal deur die swaard, hongersnood en pessiekte sterf. Daar sal nie vir hulle iemand wees wat ontvlug van of ontkom aan die onheil wat Ek oor hulle sal bring nie.” 18Ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Soos my toorn en woede oor die inwoners van Jerusalem losgebars het, so sal my woede oor julle uitbars wanneer julle na Egipte toe gaan. Julle sal 'n voorbeeld van verdoeming, 'n skrikbeeld, 'n vervloeking en 'n bespotting wees; en julle sal hierdie plek nooit weer sien nie.”
19“Die Here het oor julle uitspraak gelewer, oorblyfsel van Juda, ‘Moenie na Egipte gaan nie!’ Julle moet goed besef dat ek julle vandag gewaarsku het; 20want julle het julle eie lewens op die spel geplaas toe julle my na die Here julle God gestuur het met die woorde, ‘Bid vir ons tot die Here ons God! Alles wat die Here ons God sê, dra dit presies so aan ons oor, en ons sal dit uitvoer.’ 21Ek het dit vandag aan julle oorgedra, maar julle luister nie na die stem van die Here julle God oor alles waarmee Hy my na julle gestuur het nie. 22Daarom, weet vir seker dat julle deur die swaard, hongersnood en pessiekte sal sterf op die plek waarheen julle begeer om te gaan om daar as vreemdelinge te woon.”