1Niemand is so roekeloos
dat hy hom sal wakker maak nie.
En wie is die een wat dan
voor My sal standhou?
2Wie het al teen My standpunt ingeneem,
sodat Ek hom moes vergoed?
Alles onder die hemel behoort aan My.
3Ek sal nie swyg oor sy ledemate,
oor die saak van geweldige krag
en sy mooi vorm nie.
4Wie het al sy bokleed afgestroop?
En sy dubbele pantser –
wie dring daardeur?
5Die deure van sy gesig,
met sy verskriklike tande reg rondom –
wie het dit al oopgemaak?
6Sy rug het rye skilde,
hulle sit styf teen mekaar, dig verseël.
7Die een so na aan die ander,
nie eers lug kan daartussen deurbeweeg nie.
8Hulle kleef aan mekaar,
sluit so dig dat hulle
nie geskei kan word nie.
9Wanneer hy nies, flits daar ligte,
sy oë is soos die ooglede van die dagbreek.
10Uit sy bek kom fakkelligte,
vuurvonke spat daaruit;
11uit sy neusgate kom rook,
soos uit 'n aangeblaasde, gloeiende kookpot.
12Sy asem laat gloeiende kole vlam vat,
'n vlam kom uit sy bek.
13In sy nek setel sterkte,
en voor hom uit dans krag.
14Die skubbe van sy lyf kleef aan mekaar,
is aan hom gegiet – onbeweeglik.
15Sy hart is so hard soos klip,
so hard soos 'n onderste maalklip.
16Wanneer hy opkom,
is magtiges vreesbevange,
deins hulle terug vir die breek van die water.
17'n Swaard wat hom wel bereik,
hou nie stand nie,
nie 'n spies, wapen of pylpunt nie.
18Yster is vir hom soos strooi,
brons soos verrotte hout.
19'n Pyl laat hom nie vlug nie,
klippe uit 'n slingervel
verander vir hom in strooi.
20'n Knuppel is vir hom soos strooi,
hy lag vir die suising van 'n kromswaard.
21Onder aan hom
is die skerp punte van potskerwe;
hy sleep 'n dorsslee oor die modder.
22Hy laat die diep waters
soos 'n pot kook;
die groot water maak hy
soos 'n pot waarin salf berei word.
23Agter hom laat hy 'n glinsterende pad –
mens sou dink die diep waters is grys hare.
24Op die grond bestaan sy gelyke nie,
hy wat gemaak is om nie te vrees nie.
25Op al wat hoog is, sien hy neer;
hy is koning oor al die trotse diere.”