Vyfde treurlied: Gebed om mededoë
1Onthou, Here, wat met ons gebeur het;
kyk tog, en sien ons vernedering raak!
2Ons erfenis is oorhandig aan vreemdes,
ons huise aan buitelanders.
3Weeskinders het ons geword –
ons is sonder 'n vader;
ons moeders is soos weduwees.
4Ons betaal vir ons drinkwater;
ons hout kom teen 'n prys.
5Ons agtervolgers blaas in ons nekke;
ons is uitgeput, ons word nie rus gegun nie.
6Ons moes 'n verdrag sluit met Egipte,
ook met Assirië,
om met brood versadig te word.
7Ons voorouers het gesondig;
hulle is nie meer daar nie,
maar ons dra hulle skuld.
8Slawe heers oor ons;
niemand red ons uit hulle hand nie.
9In lewensgevaar verkry ons ons brood,
weens die swaard in die woestyn.
10Ons vel gloei soos 'n oond;
ons brand van honger.
11Vroue is in Sion verkrag,
jong meisies in die stede van Juda.
12Vorste is aan hulle hande opgehang;
oudstes is met minagting behandel.
13Jong manne moet met meulstene werk;
jong seuns steier onder hout.
14Oudstes het uit die stadspoort verdwyn,
ook die jong manne se snarespel.
15Vreugde het verdwyn uit ons hart;
ons dans het in roubeklag verander.
16Die kroon het van ons kop geval.
Wee ons, want ons het gesondig.
17Hieroor het ons hart gebreek,
hieroor het ons oë dof geword:
18oor die berg Sion verlate is,
oor jakkalse daar ronddwaal.
19U, Here, U heers vir ewig.
U troon is van geslag tot geslag.
20Waarom vergeet U ons vir altyd,
waarom verlaat U ons vir goed?
21Bring ons terug na U toe, Here,
sodat ons kan terugkeer;
maak ons dae nuut soos voorheen,
22tensy U ons heeltemal verwerp het,
tensy U uitermate woedend vir ons is.