Levitikus 17
Net een offerplek
1Die Here het met Moses gepraat en vir hom gesê: 2“Praat met Aäron en sy seuns en met al die Israeliete en sê vir hulle, ‘Dit is wat die Here beveel het: 3As daar enigiemand van die huis van Israel is wat 'n bees, 'n skaap of 'n bok binne of buite die kamp keelaf sny, 4en wat dit nie na die Tent van Ontmoeting bring om dit vir die Here as offer aan te bied voor die •tabernakel van die Here nie, sal dit teen daardie man as bloedskuld gehou word. Hy het bloed vergiet en daardie man moet heeltemal van sy mense afgesny word.’ 5Dit is sodat die Israeliete hulle offerdiere wat hulle gewoonlik in die oop veld slag, vir die Here na die ingang van die •Tent van Ontmoeting moet bring, na die priester toe, en dat hulle dit as •maaltydoffers vir die Here moet slag. 6Die priester moet die bloed teen die altaar van die Here by die ingang van die Tent van Ontmoeting sprinkel en die vet verbrand as 'n aangename geur vir die Here. 7Hulle mag nie weer hulle offerdiere slag vir die •veldgode, agter wie hulle aan hoereer nie. Dit is 'n voorskrif wat altyd geld vir hulle en hulle nageslag. 8Vir hulle moet jy sê, ‘As daar enigiemand van die huis van Israel is, en van die •vreemdelinge wat tydelik by julle woon, wat 'n •brandoffer of maaltydoffer wil bring, 9en dit nie na die ingang van die Tent van Ontmoeting neem om dit vir die Here te offer nie, sal daardie man van sy mense afgesny word.’ ”
Bloedverbod
10“As daar enigiemand uit die huis van Israel is, of van die vreemdelinge wat tydelik by hulle woon, wat enige bloed eet, sal Ek teen daardie persoon draai wat die bloed eet en Ek sal hom heeltemal van sy mense afsny. 11Omdat die lewe van 'n liggaam in die bloed is, het Ék vir julle die bloed gegee om by die altaar te gebruik, om versoening vir julle lewens te doen. Dit is immers die bloed wat deur die lewe vir 'n persoon versoening doen. 12Daarom het Ek vir die Israeliete gesê, ‘Niemand onder julle mag bloed eet nie. Die vreemdeling wat tydelik by julle woon, mag ook nie bloed eet nie.’ 13As daar enigiemand onder die Israeliete is, en van die vreemdelinge wat tydelik by julle woon, wat wild of 'n voël jag wat geëet mag word, moet hy die bloed daarvan laat uitloop en dit met grond bedek, 14want dit is elke dier se lewe. Sy bloed is sy lewe, daarom het Ek vir die Israeliete gesê, ‘Julle mag glad nie die bloed van enige dier eet nie, want die lewe van elke dier is sy bloed. Elkeen wat dit eet, sal afgesny word.’ 15Enigiemand onder die gebore Israeliete en die vreemdelinge wat iets eet wat doodgegaan het of verskeur is, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy sal •onrein wees tot die aand. Dan is hy rein. 16As hy nie sy klere was en sy liggaam met water afspoel nie, sal hy sy skuld moet dra.”
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.