Profesie en spreek in tale
1Jaag die liefde na, en streef na die gawes van die Gees, veral om te profeteer.
2Die een wat in tale spreek, praat nie met mense nie, maar met God. Niemand verstaan hom nie; deur die Gees praat hy verborgenhede. 3Die een wat profeteer, praat egter wel met mense om hulle op te bou, te bemoedig en te vertroos. 4Die een wat in tale spreek, bou homself op, terwyl die een wat profeteer, die •gemeente opbou. 5Ek wil hê dat julle almal in tale spreek, maar meer nog dat julle profeteer. Die een wat profeteer, is van groter waarde as die een wat in tale spreek; tensy hy dit kan uitlê, sodat die gemeente daardeur opgebou kan word.
6Broers, as ek dan nou na julle kom en in tale spreek, watter nut het ek vir julle; tensy ek tot julle voordeel 'n openbaring of 'n insig of 'n profesie of 'n lering meedeel? 7Dit sal wees soos lewelose dinge wat klank voortbring, 'n fluit of 'n lier. As dit nie onderskeibare klanke voortbring nie, hoe sal 'n mens weet wat op die fluit of die lier gespeel word? 8As 'n trompet 'n onduidelike klank voortbring, wie sal gereedmaak vir oorlog? 9So ook julle – as julle tonge nie 'n duidelik verstaanbare boodskap oordra nie, hoe sal enigiemand verstaan wat daar gesê word? Want julle sal in die wind praat. 10Daar mag hoeveel verskillende tale in die wêreld wees, en tog is nie een sonder klank nie. 11As ek nie die betekenis van die klank ken nie, sal ek vir die spreker daarvan 'n vreemdeling wees, en hy vir my. 12So ook met julle. Aangesien julle julle beywer vir die gawes van die Gees, streef daarna om uit te munt met die oog op die opbou van die gemeente.
13Daarom moet die een wat in tale spreek, bid dat hy dit kan uitlê. 14Want as ek in 'n taal bid, bid my gees wel, maar my verstand is onvrugbaar. 15Wat is dan die slotsom? Ek sal deur die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid; ek sal deur die gees lofsange sing, maar ek sal ook met die verstand lofsange sing. 16Want as mens net in die gees 'n lofprysing bring, hoe sal iemand in die posisie van 'n oningeligte “•amen” kan sê op jou danksegging, aangesien hy nie verstaan wat jy sê nie? 17Jy mag wel goed dank betuig, maar dit dien nie tot opbou van die ander persoon nie. 18Ek dank God dat ek selfs meer as julle almal in tale spreek. 19Maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand praat om ook ander te kan onderrig, as om duisende woorde in 'n onverstaanbare taal te praat.
20Broers, moenie kinders wees in julle denke nie; wees wel klein kindertjies wat die kwaad betref, maar volwassenes in julle denke.
21In die Wet staan daar geskryf,
“in vreemde tale en deur die lippe van vreemdes
sal Ek met hierdie volk praat,
en selfs dan sal hulle nie na My
luister nie,”
sê die Here. 22Hiervolgens is die spreek in tale 'n teken, nie vir gelowiges nie, maar vir ongelowiges, terwyl profesie nie vir ongelowiges is nie, maar vir gelowiges. 23As die hele gemeente dan op een plek vergader en almal in tale spreek, en daar kom oningeligtes of ongelowiges binne, sal hulle nie sê, “Julle is van julle sinne beroof” nie? 24Maar indien almal profeteer en 'n ongelowige of 'n oningeligte persoon kom binne, word hy deur almal tot insig gebring en tot verantwoording geroep. 25Die geheime van sy hart word blootgelê, en hy sal met sy gesig op die grond val, God aanbid en erken: “Werklik, God is in julle midde.”
Goeie orde in die samekomste
26Wat volg hieruit, broers? Wanneer julle saamkom, het elkeen 'n psalm, 'n lering, 'n openbaring, 'n taal of 'n uitleg. Laat alles steeds tot opbou geskied. 27Wanneer iemand in 'n taal spreek, laat dit verkieslik net twee of drie sprekers wees, om die beurt, en laat iemand dit uitlê; 28maar as daar nie iemand is wat dit kan uitlê nie, laat hy in die •gemeente swyg. Laat hy met homself en met God praat. 29Laat twee of drie profete praat, en die ander dit sorgvuldig beoordeel. 30Indien 'n openbaring gemaak is aan een van die ander wat daar sit, laat die vorige spreker swyg. 31Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal onderrig en bemoedig kan word. 32Die geeste van profete is aan profete onderworpe. 33Want God is nie 'n God van wanorde nie, maar van vrede. So hoort dit in al die gemeentes van die •heiliges.
34Laat die vroue in die gemeentes swyg, want hulle word nie toegelaat om te praat nie, maar moet hulleself onderwerp, soos die wet ook sê. 35Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hulle eie mans daaroor uitvra, want dit is 'n skande vir 'n vrou om in die gemeente te praat.
36Is die woord van God van julle afkomstig? Of het dit slegs julle bereik? 37As enigeen meen dat hy 'n profeet is of dat hy geestelik is, behoort hy die dinge wat ek aan julle skryf, as 'n opdrag van die Here te erken. 38Maar enigeen wat dit misken, word misken.
39Daarom, my broers, beywer julle om te profeteer, en moenie die spreek in tale belet nie. 40Laat alles egter gepas en ordelik verloop.