1In die honderd-twee-en-sewentigste jaar het koning Demetrius sy leërmagte byeengebring en na Medië gegaan om hulp te kry sodat hy teen Trifo kon oorlog maak. 2Arsakes, die koning van Persië en Medië, het gehoor dat Demetrius sy gebiede binnegegaan het en het een van sy bevelvoerders gestuur om hom lewend gevange te neem. 3Hy het gegaan, Demetrius se leërafdeling verslaan en hom gevange geneem, na Arsakes gebring en in die gevangenis gegooi.
Lofsang oor Simon
4Die land van Juda
was in Simon se dae rustig
en hy het die goeie vir sy volk nagestreef.
Sy mag en aansien het die Judeërs
die hele tyd geval.
5Saam met al sy aansien
verower hy ook Joppe as hawe,
en verkry toegang tot die eilande
van die see.
6Hy brei sy volk se grense uit
en kry die land in sy mag.
7Hy neem baie krygsgevangenes,
regeer oor Geser, Bet-Sur
en die vesting,
en verwyder die •onreinhede daaruit.
Niemand staan hom teen nie.
8Hulle bewerk hulle land in vrede –
die land lewer sy opbrengs
en die bome van die vlaktes
hulle vrugte.
9Die oudstes sit in die strate,
almal praat oor goeie dinge,
en die jong manne trek pragtige
oorlogsklere aan.
10Hy verskaf voedsel aan die stede
en rus hulle toe met toerusting
vir versterking
totdat sy roemryke naam genoem word
tot aan die einde van die aarde.
11Hy bring vrede in die land;
Israel verheug hulle met groot vreugde.
12Elkeen sit onder sy wingerdstok
en sy vyeboom
en niemand maak hulle beangs nie.
13Niemand bly in die land agter
om teen hulle oorlog te voer nie;
die konings word in hierdie tyd verpletter.
14Hy ondersteun al die nederiges
van sy volk;
hy streef die Wet na
en verdryf elke wettelose
en bose mens.
15Hy hou die heiligdom in ere
en vul die toerusting
van die heiligdom aan.
Vernuwing van vriendskapsverdrae met Rome en Sparta
16Daar is in Rome verneem dat Jonatan gesterf het en mense tot so ver as Sparta was diep bedroef. 17Maar toe hulle hoor dat sy broer Simon in sy plek hoëpriester geword het en dat hy self oor die gebiede en die stede daarin regeer, 18het hulle op skryftablette van brons vir hom geskryf ten einde die vriendskapsverdrag en bondgenootskap wat hulle met sy broers Judas en Jonatan gesluit het, met hom te hernu. 19Dit is voor die volksvergadering in Jerusalem gelees. 20Hier volg die afskrif van die briewe wat die Spartane gestuur het:
“Die hoë amptenare en die stad van die Spartane
aan Simon, die hoëpriester, die oudstes, die priesters en die res van die Judese burgers, broers:
Gegroet!
21“Die gesante wat na ons volk gestuur is, het berig van julle glorie en roem. Ons was bly oor hulle koms. 22Ons het wat deur hulle vertel is, soos volg in die raadsbesluite van die volk opgeteken, ‘Numenius, seun van Antiogus, en Antipater, seun van Jason, gesante van die Judeërs, het na ons gekom om die vriendskapsverdrag met ons te hernu.’
23“ ‘Die volk was bly om die mans eervol te ontvang en om 'n afskrif van hulle woorde op te neem in die •boekrolle wat deur die volk daarvoor aangewys is, sodat die Spartaanse volk dit kan onthou. Hulle het 'n afskrif hiervan vir Simon, die hoëpriester, geskryf.’ ”
24Hierna het Simon vir Numenius met 'n groot goue skild, wat 'n duisend mina weeg, na Rome gestuur om 'n bondgenootskap met hulle te sluit.
Oorkonde aan Simon
25Toe die volk hierdie dinge hoor, het hulle gevra: “Hoe kan ons Simon en sy seuns vergoed? 26Want hy, sy broers en sy vaderhuis het sterk gestaan, teen die vyande van Israel geveg en hulle verdryf, en Israel se vryheid gevestig.” Hulle het dit op skryftablette van brons neergeskryf en dit teen pilare op die berg Sion aangebring. 27Hier volg die afskrif van die geskrif:
“Op die agttiende Elul van die jaar honderd twee-en-sewentig, dit is die derde jaar van Simon die groot hoëpriester, is ons in Asaramel, 28in 'n groot vergadering van die priesters, die volk, die hoë amptenare van die volk en die oudstes van die gebied soos volg meegedeel, 29‘Aangesien daar dikwels oorloë in die gebied was, het Simon, seun van Mattatias, 'n priester uit die nakomelinge van Joarib, en sy broers hulleself aan gevaar blootgestel en die vyande van hulle volk teengestaan om hulle heiligdom en die Wet in stand te hou. Hulle het vir hulle volk groot roem verwerf. 30Jonatan het hulle volk bymekaargebring, hulle hoëpriester geword en is met sy volk verenig. 31Toe hulle vyande hulle land wou binneval en hulle hande na die heiligdom uitsteek, 32het Simon hulle teengestaan en ter wille van sy volk geveg. Hy het baie van sy eie geld bestee en die manskappe van sy volk se leërmag bewapen en aan hulle soldy betaal. 33Hy het die stede van Juda en Bet-Sur, wat op die grense van Juda was en waar die wapens van die vyande vroeër was, versterk en daar Judese manskappe as garnisoen gestasioneer. 34Hy het Joppe, wat aan die see lê, en ook Geser, wat op die grense van Asdod is, waar die vyande vroeër gewoon het, versterk en Judeërs daar laat woon. Hy het alles aan hulle voorsien wat nodig was om dit te herstel.
35“ ‘Die volk het Simon se trou en die roem wat hy besluit het om vir sy volk te verwerf, gesien en hom as hulle aanvoerder en hoëpriester aangestel – omdat hy al hierdie dinge gedoen het en vanweë die geregtigheid en trou wat hy aan sy volk bewys het. Hy het op elke manier probeer om die roem van sy volk te vergroot. 36In sy tyd het hy daarin geslaag om deur sy toedoen die heidennasies uit hulle land te verdryf, en ook dié in die Stad van Dawid in Jerusalem, wat vir hulleself 'n vesting gebou het waaruit hulle gegaan en die gebied rondom die heiligdom verontreinig en groot skade aan sy reinheid gedoen het.
37“ ‘Hy het Judese mans daarin laat woon en dit versterk as beveiliging van die gebied en stad, en hy het die mure van Jerusalem hoër gemaak.
38“ ‘In die lig hiervan het koning Demetrius hom in die amp van hoëpriester bevestig. 39Hy het hom een van sy Vriende gemaak en groot eer aan hom betoon, 40want hy het gehoor –
“ ‘dat die Judeërs deur die Romeine vriende, bondgenote en broers genoem word;
dat hulle Simon se gesante eervol ontvang het;
41dat die Judeërs en die priesters besluit het dat Simon vir altyd hulle aanvoerder en hoëpriester moes bly totdat 'n betroubare profeet na vore tree;
42dat hy hulle generaal moes wees en verantwoordelikheid moes neem vir die heiligdom, en persone moes aanstel vir die tempeldiens, oor die gebied, die wapens en die vestings;
43dat hy verantwoordelikheid moes neem vir die heiligdom;
dat hy deur almal gehoorsaam moes word;
dat alle kontrakte in die gebied in sy naam geskryf moes word;
dat hy 'n purperkleed moes aantrek en goud moes dra; en
44dat dit nie vir enigeen van die volk of van die priesters toelaatbaar is om iets hiervan ongeldig te maak en wat deur hom gesê word, teen te spreek nie, 'n wanordelike byeenkoms in die land sonder hom byeen te roep nie, 'n purperkleed aan te trek en 'n goue gespe te dra nie.
45“ ‘Elkeen wat in stryd hiermee optree of iets hiervan verwerp, sal skuldig wees.’ ”
46Die hele volk het besluit om aan Simon die reg te gee om volgens hierdie regulasies op te tree. 47Simon het dit aanvaar en ingestem om hoëpriester te wees en om generaal en etnarg van die Judeërs en die priesters te wees en om almal te beskerm.
48Hulle het beveel dat hierdie geskrif op skryftablette van brons aangebring word, dat dit op 'n opvallende plek binne die ringmuur van die heiligdom geplaas word 49en dat afskrifte daarvan in die skatkamer geberg word sodat Simon en sy seuns daaroor kon beskik.