Laaste dae van Antiogus
1Koning Antiogus het deur die noordelike provinsies gereis en gehoor dat Elimaïs, 'n stad in Persië, bekend was vir sy rykdom van silwer en goud. 2Die heiligdom in dié stad was baie ryk. Daar was goue harnasse, borsplate en wapens wat Filippus se seun Aleksander, die koning, die Macedoniër, wat heel eerste oor die Grieke regeer het, daar agtergelaat het. 3Hy het vertrek en probeer om die stad in te neem en te plunder, maar hy kon nie, want sy plan het aan die inwoners van die stad bekend geword. 4Hulle het hom in die geveg teengestaan. Hy het gevlug en met groot droefheid daarvandaan vertrek en na Babilon teruggekeer. 5Daar het toe iemand na Persië gekom en aan hom rapporteer dat die leërafdelings wat die land van Juda ingeval het, op die vlug geslaan het, 6en dat Lisias, een van die voorste vegters, eers met 'n sterk leërmag uitgetrek het, maar voor die Judeërs omgedraai het, en dat die Judeërs versterk is met wapens, voorrade en die groot hoeveelheid oorlogsbuit wat hulle by die verslane leërafdelings geneem het, 7en dat hulle die gruwel wat hy op die altaar in Jerusalem gebou het, afgebreek het, en die heiligdom met hoë mure omring soos dit vantevore was, asook sy stad Bet-Sur. 8Toe die koning hierdie nuus hoor, was hy verbysterd en uiters geskok. Hy het op sy bed neergeval en siek van verdriet geword omdat dinge nie vir hom uitgewerk het soos hy beplan het nie. 9Hy het baie dae daar gelê, want groot verdriet het hom bly oorweldig en hy het besef dat hy besig was om dood te gaan. 10Toe het hy al sy Vriende geroep en vir hulle gesê: “Die slaap wyk uit my oë en my hart het ineengestort van bekommernis. 11Ek het vir myself gesê, ‘Hoe het ek in hierdie vloedgolf van benoudheid beland waarin ek my nou bevind, want ek was goedhartig en geliefd toe ek die mag gehad het.’ 12Maar nou onthou ek die kwaad wat ek in Jerusalem gedoen het; ek het al die silwer- en goue voorwerpe wat in die stad was, gevat en sonder rede soldate gestuur om die inwoners van Juda uit te wis. 13Ek besef nou dat dié ellendes my om hierdie rede getref het. En kyk, ek vergaan van groot droefheid in 'n vreemde land.” 14Hy het toe vir Filippus, een van sy Vriende, ontbied en hom oor sy hele koninkryk aangestel. 15Hy het aan hom sy kroon, sy lang stola en sy ring gegee met die doel om sy seun Antiogus op te voed en voor te berei om koning te word. 16Koning Antiogus het daar in die honderd-nege-en-veertigste jaar gesterf. 17Lisias het verneem dat die koning gesterf het en het sy seun Antiogus, wat hy van jongs af grootgemaak het, aangestel as koning en hom Eupator genoem.
Beleg van Jerusalem en Bet-Sur
18Die mense van die vesting het Israel rondom die heiligdom vasgekeer, hulle aanhoudend skade probeer berokken en die heidennasies probeer versterk. 19Judas het besluit om hulle te vernietig en het die hele volk bymekaargeroep om hulle te beleër. 20Die volk het byeengekom en die vesting in die honderd-en-vyftigste jaar beleër, en katapulte en oorlogswerktuie gemaak. 21Van hulle het uit die beleg ontsnap en sommige van die goddeloses uit Israel het by hulle aangesluit. 22Hulle gaan toe na die koning en sê: “Hoe lank nog sal u nie reg laat geskied nie, en nie ons broers wreek nie? 23Ons was immers tevrede om u vader te dien, om volgens sy voorskrifte te leef en sy opdragte te gehoorsaam. 24Ons volk het mos die vesting beleër en hulleself van ons vervreem. Verder het hulle almal van ons vir wie hulle gevind het, doodgemaak en ons erfporsies geplunder. 25Hulle het nie net vir ons aangeval nie, maar ook al die aangrensende gebiede. 26En kyk, hulle het op hierdie dag die vesting in Jerusalem beleër om dit in te neem. Hulle het ook die heiligdom en Bet-Sur versterk. 27As u hulle nie vinnig voorspring nie, sal hulle nog groter dinge doen as dit, en u sal nie in staat wees om hulle te keer nie.”
Gevegte tussen Judas en Antiogus
28Toe die koning dit hoor, was hy woedend, en hy het al sy Vriende, die aanvoerders van sy leërmag en die aanvoerders van die perderuiters bymekaargeroep. 29Leërmagte huursoldate het vanuit ander koninkryke en die eilande van die seë na hom toe gekom. 30Sy leërmagte het bestaan uit honderdduisend voetsoldate, twintigduisend perderuiters en twee-en-dertig olifante wat gewoond was aan oorlog. 31Hulle het deur Idumea gekom, Bet-Sur beleër en baie dae lank geveg en oorlogswerktuie gebou. Maar die Judeërs het uitgekom, die oorlogswerktuie aan die brand gesteek en dapper geveg. 32Judas het van die vesting af vertrek en kamp opgeslaan in Bet-Sagaria, teenoor die kamp van die koning. 33Die koning het toe vroeg in die oggend opgestaan en vinnig sy kamp met die pad langs na Bet-Sagaria verskuif. Die leërmagte het vir die oorlog gereedgemaak en op trompette geblaas. 34Hulle het vir die olifante rooiwyn en swartmoerbeisap gewys om hulle aan te hits tot die geveg 35en die diere onder die linies verdeel. By elke olifant het hulle 'n duisend man opgestel, geklee in ysterharnasse en met bronshelms op hulle koppe, met vyfduisend uitgesoekte ruiters aan elke olifant toegewys. 36Hulle was voor die tyd reeds oral waar die dier was, en waar hy ook al gegaan het, het hulle saamgegaan en nie van hom af weg beweeg nie. 37Op die olifante was sterk beskermende skuttorings van hout wat met tuie op elke dier vasgegord was, en op elkeen was vier sterk manne wat van hulle af geveg het, en sy Indiër. 38Hy het die res van die perderuiters aan elke kant van die twee flanke van die leërafdeling opgestel om aan te val terwyl hulle self deur die linies beskerm word. 39En toe die son op die skilde van goud en brons geskyn het, het dit teen die berge weerkaats en met die glans van helder vuurfakkels geskyn. 40'n Sekere deel van die koning se leërafdeling was op die berghoogtes ontplooi en ander dele op die vlaktes, en hulle het doelgerig en ordelik vorentoe beweeg. 41Almal wat die geluid van die menigte, hulle opmars en die gekletter van hulle wapens gehoor het, het gebewe, want die leërafdeling was baie groot en sterk.
42Judas en sy leërafdeling het tot by die voorste ry van die linie beweeg, en seshonderd man van die koninklike leërafdeling het gesneuwel. 43Eleasar, wat Avaran genoem is, het gesien dat een van die diere in die koninklike harnas was en dat hy hoër as al die ander diere was. Hy het gedink dat die koning op dié dier was 44en het homself gegee om sy volk te red en vir hom 'n ewige naam te maak. 45Hy het midde-in die gevegslinie dapper op hom afgehardloop en mense links en regs doodgemaak; hulle het na weerskante voor hom padgegee. 46Hy het onder die olifant ingekruip, daar stelling ingeneem en hom doodgemaak, waarna die dier bo-op hom op die grond geval het. Daar het hy gesterf. 47Maar toe die Judeërs die mag van die koninkryk en die aanslag van sy leërmagte sien, het hulle daarvoor gewyk.
48Die manne van die koning se leërafdeling het opgetrek na Jerusalem om die Judeërs aan te val, en die koning het Juda en die berg Sion beleër. 49Hy het vrede gemaak met die inwoners van Bet-Sur en hulle het uit die stad gegaan, aangesien daar nie vir hulle genoeg kos was om in die stad beleër te bly nie, want dit was die sabbatsjaar in die land. 50Die koning het Bet-Sur ingeneem en 'n garnisoen daar gelos om dit te bewaak. 51Hy het baie dae lank die heiligdom beleër en werptuie, oorlogswerktuie, vuurwerpers, katapulte en pylwerpers om pyle af te skiet, asook slingers, opgestel. 52Die Judeërs het self ook oorlogswerktuie teen dié van die koninklike leër ingespan en baie dae lank geveg, 53maar daar was nie kos in voorraad nie; dit was die sewende jaar en die mense wat van die heidennasies gered en na Juda gebring is, het reeds alles wat van die voorrade oor was, opgeëet. 54Net 'n paar manne het in die heiligdomme agtergebly, want die hongersnood het die meeste oorweldig. Gevolglik het hulle uitmekaargegaan, elkeen na sy eie plek toe.
Vredesverdrag tussen Antiogus en die Judeërs
55-56Lisias het gehoor dat Filippus uit Persië en Medië teruggekeer het, asook die leërmagte wat saam met die koning gereis het, en dat hy probeer om beheer oor sake te verkry. Filippus is deur koning Antiogus, terwyl hy nog geleef het, aangestel om sy seun Antiogus groot te maak om koning te word. 57Lisias het toe haastig bevel gegee om terug te trek, en aan die koning, die aanvoerders van die leërmag en die manskappe gesê: “Ons word elke dag swakker en ons voedselvoorraad is min, die plek wat ons beleër, is sterk, en die sake van die koninkryk vereis ons aandag. 58Laat ons nou hierdie mense die regterhand van vriendskap bied en met hulle en hulle hele volk vrede maak 59en hulle toelaat om soos voorheen volgens hulle voorskrifte te leef, want dit was omdat ons hulle voorskrifte afgeskaf het, dat hulle kwaad geword en al hierdie dinge gedoen het.” 60Die voorstel het byval gevind by die koning en sy aanvoerders, en hy het 'n boodskap na die Judeërs gestuur om vrede te maak – wat hulle aanvaar het. 61Die koning en sy aanvoerders het 'n eed voor hulle afgelê en op grond daarvan het hulle uit die vesting gekom. 62Maar toe die koning by die berg Sion kom en die plek se vesting sien, het hy die eed wat hy afgelê het, verbreek en beveel dat die muur rondom afgebreek word. 63Hy het haastig vertrek en na Antiogië teruggekeer en Filippus daar in beheer van die stad aangetref. Hy het teen hom geveg en die stad met geweld ingeneem.