Omverwerping van Onias
1Maar genoemde Simon, wat die informant was oor die tempelskatte en sy vaderland, het sleg gepraat van Onias, en gesê dat dit hy was wat Heliodorus opgesteek het en die aanstigter van die slegte gebeure was, 2en hy het dit gewaag om die weldoener van die stad, beskermer van volksgenote en yweraar vir die wette, 'n samesweerder teen die regering te noem. 3Simon se vyandigheid het só toegeneem dat een van sy goedgekeurde agente moord gepleeg het. 4Toe Onias die gevaar van die twis insien, asook dat Apollonius, die seun van Menestheus, goewerneur van Koile-Sirië en Fenisië, die boosheid van Simon laat toeneem het, 5het hy na die koning gegaan, nie as aanklaer van sy medeburgers nie, maar met sowel die algemene as persoonlike welsyn van die hele volk in gedagte. 6Want hy het ingesien dat dit sonder koninklike aandag onmoontlik was dat daar weer vrede in openbare sake kon kom en Simon sy dwaasheid sou staak.
Hoëpriesterskap van Jason
7Toe Seleukus die lewe met die dood verwissel het, en Antiogus, wat Epifanes genoem is, die koningskap geërf het, het Jason, die broer van Onias, deur korrupsie die hoëpriesterskap verkry. 8Hy het in 'n versoekskrif aan die koning driehonderd-en-sestig talent silwer belowe, asook tagtig talent uit 'n ander bron van inkomste. 9Hierby het hy ook beloof om nog honderd-en-vyftig talent te betaal, mits hy toegelaat sou word om op sy gesag 'n gimnasium en 'n opleidingsentrum vir jongmense tot stand te bring en om die inwoners van Jerusalem as burgers van Antiogië in te skryf. 10Nadat die koning toegestem het en Jason die amp gekry het, het hy onmiddellik sy volksgenote die Griekse leefwyse laat aanvaar. 11Hy het ook die koninklike voorregte tersyde gestel wat vir die Judeërs gegeld het, en wat beding is deur Johannes, die vader van Eupolemus, wat as ambassadeur opgetree het om vriendskap en 'n alliansie met die Romeine te bewerkstellig. Hy het verder die lewenswyse wat in ooreenstemming met die wet was, vernietig en gebruike wat strydig met die wet was, ingevoer. 12Want hy het genot daaruit geput om onder die tempelberg self 'n gimnasium te bou en die beste jong manne oorgehaal om 'n Griekse hoed te dra. 13Daar was ook 'n buitensporige vergrieksing en toename in vreemde gewoontes as gevolg van die uiterste boosheid van die goddelose, vals hoëpriester, Jason. 14Die gevolg was dat die priesters nie meer ywerig die altaardiens verrig het nie, maar die •tempel geminag het, die offers verwaarloos het, en ná die teken vir die diskusgooi hulle gehaas het om aan die skouspel in die stoei-arena deel te neem, wat strydig met die wet was. 15En hulle het geminag wat deur hulle vaders geëer is, en die grootste waarde aan die Griekse eerbewyse geheg. 16As gevolg hiervan het 'n groot ramp hulle getref, want juis diegene wie se gewoontes hulle nagestreef het en in elke opsig wou naboots, het hulle vyande geword en hulle gestraf. 17Want dit is nie 'n geringe saak om teen die wette van God te sondig nie – maar dit sal die gebeure hierna aantoon. 18Toe die vyfjaarlikse spele in Tirus gehou is en die koning teenwoordig was, 19het die bose Jason afgesante van Jerusalem, burgers van Antiogië, gestuur om driehonderd dragme silwer vir die offer aan Herkules te neem. Dié wat dit geneem het, het besluit om dit nie vir die offer te gebruik nie, omdat dit nie betaamlik was nie, maar dit vir 'n ander uitgawe aan te wend. 20Hierdie geld was bedoel vir die offer aan Herkules deur die een wat dit gestuur het, maar as gevolg van dié wat dit geneem het, is dit aan die bou van driespaanbote bestee. 21Toe Apollonius, seun van Menestheus, na Egipte gestuur is vir die kroningsfees van Filometor as koning, het Antiogus verneem dat Filometor vyandiggesind was teenoor sy regering, en hy het maatreëls getref vir sy eie veiligheid. Daarom het hy, nadat hy by Joppe aangekom het, na Jerusalem gegaan. 22Hy is op luisterryke wyse deur Jason en die stad ontvang en met fakkels en krete verwelkom. Op dieselfde wyse het hy toe met sy leërmag na Fenisië vertrek.
Menelaus as hoëpriester
23Ná drie jaar het Jason vir Menelaus, 'n broer van die reeds genoemde Simon, gestuur om geld vir die koning te neem en om hom te herinner aan sake wat aandag moet kry. 24Maar toe hy aan die koning voorgestel is, het hy hom geprys en homself voorgedoen as 'n man met gesag, en die hoëpriesterskap vir homself verkry deur driehonderd talent silwer meer aan te bied as Jason. 25En nadat hy die koninklike opdragte gekry het, het hy teruggekeer, hoewel hy niks besit het wat die hoëpriesterskap waardig was nie – want hy het die humeur van 'n wrede tiran gehad en woede-uitbarstings gekry soos 'n wilde dier. 26Aan die een kant is Jason, wat sy eie broer ondermyn het, deur 'n ander ondermyn en gedwing om na die land van die Ammoniete te vlug. 27Aan die ander kant het Menelaus wel voortgegaan om die amp te beklee, maar niks van die geld betaal wat volgens ooreenkoms aan die koning beloof is nie. 28Toe Sostratus, die bevelvoerder van die bergvesting, dit herhaaldelik vra – want hy was verantwoordelik vir die insameling van die inkomste – is die twee hieroor deur die koning ontbied. 29Toe het Menelaus sy eie broer, Lisimagus, as sy opvolger in die hoëpriesterskap agtergelaat, en Sostratus het sy verantwoordelikhede oorgedra aan Krates, die bevelvoerder van die Cipriese troepe.
30Toe sake so gestaan het, het dit gebeur dat die inwoners van Tarsus en Mallus in opstand gekom het, omdat stede aan Antiogis, die koning se byvrou, as geskenk gegee is. 31Gevolglik het die koning vinnig gekom om sake tot bedaring te bring en vir Andronikus, 'n man met 'n hoë rang, as opvolger agtergelaat. 32Aangesien Menelaus gedink het dat dit 'n geskikte geleentheid is om aan te gryp, het hy sommige van die goue voorwerpe van die tempel gesteel en aan Andronikus geskenk, terwyl hy daarin geslaag het om ander voorwerpe in Tirus en die omliggende stede te verkoop. 33Nadat Onias deeglik van hierdie feite bewus geword het, het hy vir sy eie veiligheid gevlug na 'n heiligdom by Dafne, geleë naby Antiogië, en Menelaus bestraf. 34Daarom het Menelaus Andronikus eenkant geneem en hom aangemoedig om Onias dood te maak. Andronikus het toe na Onias gegaan en hom met lis geflous en hom hartlik gegroet met ede en hom die regterhand gereik. Alhoewel Onias agterdogtig was, het Andronikus hom oorreed om uit die skuilplek te kom en hom toe dadelik doodgemaak, sonder respek vir wat reg is. 35Oor hierdie onregverdige moord op die man was daarom nie net die Judeërs nie, maar ook baie van die ander nasies verontwaardig en kwaad. 36Toe die koning uit die landstreek van Silisië teruggekeer het, het die Judeërs van die stad by hom gekla. Ook die Grieke het hulle wrewel oor die wederregtelike dood van Onias gedeel. 37Antiogus was daarom diep bedroef en met jammerte vervul. Hy het gehuil oor die gestorwene se verstandigheid en voortreflike gedrag. 38Toe het sy woede opgevlam en hy het onmiddellik Andronikus se pers kleed afgevat, sy klere afgeskeur en hom deur die hele stad gelei na die presiese plek waar Andronikus goddeloos teen Onias opgetree het. Daar het hy die bloeddorstige moordenaar doodgemaak en het die Here Andronikus vergeld met die straf wat hy verdien het. 39Met die medewete van Menelaus het Lisimagus baie dade van heiligskennis in Jerusalem gepleeg. Toe die nuus na die omstreke versprei het, het die menigte teen Lisimagus versamel omdat baie van die goue voorwerpe reeds weggedra was. 40Maar toe die skare in opstand gekom het en met woede vervul is, het Lisimagus ongeveer drieduisend man bewapen en onregverdige mag begin uitoefen. Hulle is aangevoer deur 'n sekere Auranus, gevorderd in jare, maar net so dom as wat hy oud was. 41En toe die inwoners agterkom dat Lisimagus besig was om hulle aan te val, het sommige klippe gegryp. Ander het dik stukke hout gegryp, en sommige het van die as wat daar gelê het, gegryp en dit in die verwarring na diegene saam met Lisimagus gegooi. 42Die gevolg was dat hulle baie van hulle gewond, sommige selfs neergevel het, en almal op die vlug gejaag het. Hulle het die tempelrower self by die skatkamer onderwerp. 43Hieroor was daar 'n hofsaak teen Menelaus. 44En toe die koning by Tirus aankom, het die drie manne wat deur die Raad van Oudstes gestuur is, die saak voor hom bepleit. 45Maar omdat Menelaus reeds sy saak aan die verloor was, het hy aan Ptolemeus, die seun van Dorumenes, 'n aansienlike som geld beloof om die koning oor te haal. 46Daarom het Ptolemeus die koning eenkant na 'n suilegang geneem, asof hy sy geheue wou verfris, en hom oorgehaal om van plan te verander. 47Vir Menelaus, wat die oorsaak van al die kwaad was, het die koning vrygespreek op die aanklagte. Die ongelukkiges wat onskuldig bevind sou word, selfs al het hulle voor die Skittiërs hulle saak bepleit, het hy ter dood veroordeel. 48Hulle wat ter verdediging van die stad, sy mense en die heilige voorwerpe gepraat het, het baie gou die onregverdige straf ondergaan. 49Daarom het selfs die mense van Tirus wat dié misdaad gehaat het, op luisterryke wyse voorsien wat vir hulle begrafnis nodig was. 50Maar Menelaus en sy maghebbers het aan bewind gebly as gevolg van die geldgierigheid van die burgers. Hy het toegeneem in die kwaad en die hoofsamesweerder teen die burgers geword.