Absalom se terugkeer
1Joab, seun van Seruja, het besef dat die koning se gedagtes by Absalom was. 2Joab stuur toe iemand na Tekoa en laat kom daarvandaan 'n slim vrou. Hy het vir haar gesê: “Maak tog asof jy rou; trek rouklere aan en moet jou nie met olie invryf nie. Gedra jou soos 'n vrou wat nou al baie lank treur oor 'n dooie. 3Gaan dan na die koning en stel hierdie saak aan hom.” Joab het haar toe voorgesê wat om te sê.
4Die vrou uit Tekoa het dit toe vir die koning gaan sê. Sy het neergeval met haar gesig teen die grond, en toe diep neergebuig. Sy het gesê: “Help tog, o koning!” 5Toe die koning vir haar vra “Wat wil jy hê?” het sy geantwoord: “Ag, ek is 'n weduwee. My man is dood. 6U slavin het twee seuns gehad. Hulle het in die veld aan die baklei geraak, en daar was niemand wat tussenbeide kon tree nie. Die een het die ander platgeslaan en hom doodgemaak. 7En sowaar, nou het die hele familiegroep teen u slavin opgestaan en sê, ‘Lewer die een uit wat sy broer doodgeslaan het, sodat ons hom kan doodmaak vir die lewe van sy broer wat hy vermoor het. Ons wil hom uitwis, ook al is dit die erfgenaam.’ Hulle gaan my enigste kooltjie vuur wat oorgebly het, uitdoof, en so vir my man geen naam of nakomeling laat oorbly op die aardbodem nie.”
8Die koning sê toe vir die vrou: “Gaan maar huis toe; ek sal opdragte gee oor jou.” 9Maar die vrou uit Tekoa sê vir die koning: “Op my, my heer die koning, en op my naaste familie, gaan die skuld rus; maar u en u troon gaan onskuldig wees.” 10Toe sê die koning: “Die man wat jou hieroor aanspreek, moet jy na my toe bring. Hy sal nie weer aan jou raak nie.” 11Daarop sê sy: “Die koning moet asseblief, met die aanroep van die Naam van die Here u God die bloedwreker daarvan weerhou om nog meer vernietiging aan te rig, dat hulle nie my seun uitwis nie.” Toe sê hy: “So waar as die Here leef, geen haar van jou seun sal op die grond val nie.”
12“Mag u slavin asseblief 'n woord met my heer die koning praat?” het die vrou gevra, waarop hy toe antwoord: “Praat!” 13Toe sê die vrou: “Waarom het u dan so iets teen die volk van God beplan? Met hierdie uitspraak van die koning is hy aan 'n skuldige gelyk, aangesien die koning nie die een wat hy weggejaag het, laat terugkeer nie. 14Ja, ons moet beslis sterf, soos water wat uitgestort is op die grond en nie weer herwin kan word nie. God neem nie 'n lewe weg nie, maar Hy beraam planne, sodat die een wat weggejaag is nie van Hom moet wegdryf nie. 15En nou, die rede waarom ek gekom het om hierdie saak aan my heer die koning voor te lê, is omdat die mense my bang gemaak het. U slavin het toe gedink, ek moet tog met die koning praat. Miskien voldoen die koning aan die versoek van sy dienares; 16ja, die koning sal gehoor gee om sy dienares te red uit die greep van die man wat daarop uit is om my en my seun saam uit te wis, weg van die eiendom van God. 17U slavin het ook gedink, die woord van my heer die koning sal tog vir my rus bring; want soos 'n engel van God, so is my heer die koning, deurdat hy die goeie en die slegte aanhoor. Die Here u God, mag Hy met u wees.”
18Die koning reageer toe daarop en sê vir die vrou: “Moenie vir my enigiets wegsteek van wat ek vir jou gaan vra nie.” Die vrou het geantwoord: “My heer die koning moet asseblief praat.” 19Toe vra die koning: “Is die hand van Joab saam met jou in hierdie hele saak?” Die vrou het geantwoord en gesê: “So waar as wat u leef, my heer die koning, niemand kan verskil van enigiets wat my heer die koning sê nie. Ja, u dienaar Joab, dit is hy wat my opdrag gegee het, en dit is hy wat al hierdie woorde aan u slavin voorgesê het. 20Om die saak te versluier, het u dienaar, Joab, hierdie ding gedoen. Maar my heer is so wys soos 'n engel van God om alles te weet wat in die land gebeur.”
21Die koning sê toe vir Joab: “Nou maar goed, ek voldoen aan hierdie versoek. Gaan dan, bring die jong man Absalom terug.” 22Joab het neergeval met sy gesig teen die grond, diep neergebuig en die koning geprys. Hy het gesê: “Vandag weet ek, u dienaar, dat ek guns gevind het in u oë, my heer die koning, omdat die koning aan die versoek van u dienaar voldoen.”
23Joab het gereedgemaak en na Gesur vertrek. Hy het Absalom na Jerusalem gebring. 24Die koning het egter gesê: “Hy moet na sy huis afdraai. My gesig mag hy nie sien nie.” Absalom het toe na sy huis afgedraai, maar die gesig van die koning het hy nie gesien nie.
25In die hele Israel was daar nie 'n man so mooi soos Absalom wie se lof mense so baie besing het nie. Van kop tot tone was daar geen gebrek aan hom nie. 26Wanneer hy sy hare geskeer het – aan die einde van elke jaar het hy dit geskeer; ja, wanneer dit te swaar geword het, moes hy dit skeer – dan het die hare van sy kop tweehonderd sikkel geweeg, volgens die koninklike gewigsmaat. 27Vir Absalom is daar drie seuns en 'n dogter gebore. Haar naam was Tamar. Sy was 'n besonder mooi vrou.
28Absalom het twee jaar in Jerusalem gewoon, maar die gesig van die koning het hy nie gesien nie. 29Absalom ontbied toe vir Joab om hom na die koning te stuur, maar hy het geweier om na hom te gaan. Hy het hom 'n tweede keer ontbied, maar Joab het steeds geweier om te gaan. 30Hy sê toe vir sy werkers: “Kyk, Joab se stuk land is langs myne. Hy het gars daarop. Gaan steek dit aan die brand.” Absalom se werkers het toe die stuk land aan die brand gesteek. 31Joab het opgestaan en toe hy by Absalom, by sy huis aankom, vra hy vir hom: “Waarom het jou werkers die stuk land wat aan my behoort, aan die brand gesteek?” 32Waarop Absalom vir Joab sê: “Kyk, ek het jou ontbied om vir jou te sê, ‘Kom hierheen, sodat ek jou na die koning kan stuur om te vra: “Waarom het ek van Gesur af gekom? Dit sou vir my beter gewees het as ek steeds daar was.” ’ Ek wil nou voor die koning verskyn. As ek aan iets skuldig is, moet hy my maar doodmaak.” 33Joab het na die koning gegaan en dit aan hom oorgedra. Hy het Absalom toe ontbied. Toe hy by die koning kom, het hy diep voor hom gebuig, met sy gesig teen die grond, voor die koning. Die koning het Absalom toe gesoen.