1Dawid het nog net 'n entjie van die kruin van die berg af weggetrek, toe kom Siba, die dienaar van Mefiboset, hom skielik tegemoet met 'n paar opgesaalde donkies, gelaai met tweehonderd brode, 'n honderd blokke saamgeperste rosyne, honderd somervrugte en 'n kruik wyn. 2Die koning vra toe vir Siba: “Wat wil jy hiermee doen?” Siba het geantwoord: “Die donkies is vir die koning se huisgesin om op te ry, die brood en die somervrugte is vir die dienaars om te eet, en die wyn is vir hulle wat in die woestyn uitgeput raak, om te drink.” 3“En waar is die seun van jou heer?” vra die koning toe, waarop Siba die koning antwoord: “Kyk, hy het in Jerusalem gebly, want hy het gesê, ‘Vandag gee die huis van Israel die koningskap van my vader aan my terug.’ ” 4Toe sê die koning vir Siba: “Kyk, alles wat aan Mefiboset behoort, is nou joune.” Siba het gesê: “Ek buig in eerbied. Mag ek genade vind in u oë, my heer die koning.”
5Toe koning Dawid by Bagurim kom, kom daar skielik 'n man uit die dorp, 'n verlangse familielid van Saul; sy naam was Simeï, seun van Gera. Terwyl hy uitkom, skel hy 6en gooi klippe na Dawid en al die amptenare van koning Dawid, al was die mense en al die krygsmanne aan sy regter- en aan sy linkerkant. 7Dit is wat Simeï al skellend gesê het: “Uit hier! Uit hier, jou moordenaar, jou skobbejak! 8Die Here het al die bloedvergieting in die huis van Saul, in wie se plek jy koning geword het, op jou laat neerkom. Die Here het die koningskap in die hand van jou seun Absalom gegee. En hier sit jy nou met jou eie teenspoed, omdat jy 'n moordenaar is.”
9Abisai, seun van Seruja, sê toe vir die koning: “Waarom skel hierdie dooie hond my heer die koning uit? Laat ek tog daarheen gaan en sy kop afkap.” 10Maar die koning het geantwoord: “Hoe moet ek julle verstaan, seuns van Seruja? Hy skel so omdat die Here vir hom gesê het, ‘Skel Dawid uit!’ Wie kan dan sê, ‘Waarom maak jy so?’ ” 11Dawid het vir Abisai en al sy dienaars gesê: “Kyk, my seun wat ek self verwek het, soek my lewe – hoeveel te meer dan nou hierdie Benjaminiet? Laat hom met rus; laat hom skel as die Here dit vir hom gesê het. 12Miskien sien die Here my trane raak en laat die Here weer vir my die goeie terugkeer in die plek van Simeï se geskel op hierdie dag.” 13Dawid en sy manne het padlangs gehou, en Simeï het naby hom al langs die rant gestap, terwyl hy loop en skel en klippe en los grond in sy rigting gooi.
14Die koning en al die mense by hom het uitgeput by die Jordaan aangekom en daar asem geskep.
Agitofel en Gusai by Absalom
15Absalom en al die manskappe, die manne van Israel, het intussen in Jerusalem aangekom. Agitofel was ook by hom. 16Toe Gusai, die man uit Ereg, die vriend van Dawid, by Absalom kom, sê hy dadelik vir Absalom: “Lank lewe die koning! Lank lewe die koning!” 17Maar Absalom het vir Gusai gevra: “Is dit nou jou trou teenoor jou vriend? Waarom het jy nie saam met jou vriend gegaan nie?” 18Gusai het Absalom geantwoord: “Nee, want die een wat deur die Here, en hierdie manskappe en al die manne van Israel gekies is, aan hom behoort ek en by hom sal ek bly. 19Boonop: Wie moet ek dan dien? Is dit nie sy seun nie? Soos ek in die teenwoordigheid van u vader gedien het, so sal ek voor u dien.”
20Toe sê Absalom vir Agitofel: “Gee julle nou raad. Wat moet ons doen?” 21Agitofel het Absalom geantwoord: “Gaan in by die byvroue van jou pa wat hy agtergelaat het om die paleis op te pas. Die hele Israel sal hoor dat jy jou veragtelik gemaak het by jou pa. Dit sal die hande sterk van almal wat by jou is.” 22Daar is toe vir Absalom 'n tent oopgespan op die dak van die paleis, en Absalom het ten aanskoue van die hele Israel by sy vader se byvroue ingegaan. 23Die raad van Agitofel wat hy in dié tyd gegee het, was so goed asof iemand 'n woord van God gevra het. Dit is hoe al die raad van Agitofel aan Dawid sowel as aan Absalom beskou is.