Die Brief van Jeremia
'n Afskrif van 'n brief wat Jeremia gestuur het aan die ballinge wat weggevoer sou word na Babilonië deur die koning van die Babiloniërs. Dit bevat 'n boodskap aan hulle soos dit deur God aan hom opgedra is.
Inleiding
1Vanweë die sondes wat julle teen God gepleeg het, sal julle as krygsgevangenes na Babilon weggevoer word deur Nebukadnesar, die koning van die Babiloniërs. 2Wanneer julle eers in Babilonië is, sal julle vir baie jare, vir 'n lang tyd, daar bly woon – tot sewe geslagte lank. Daarna sal Ek julle in vrede daarvandaan uitlei. 3Maar nou sal julle in Babilonië gode van silwer, goud en hout sien wat op skouers gelig word en wat vrees inboesem by die nasies. 4Pasop dan dat julle nie heeltemal soos die vreemde stamme word en vrees vir hulle gode julle beetpak nie – 5selfs al sien julle 'n menigte voor en agter die gode wanneer hulle die gode aanbid. Sê dan in julle gedagte: “Here, vir Ú moet ons aanbid.” 6Want my engel is by julle; hy ondersoek julle siele.
Eerste waarskuwing: Aard van afgodsbeelde
7Die tonge van afgodsbeelde is glad geskuur deur 'n skrynwerker en hulle is verguld en versilwer. Maar dit is alles bedrog en hulle kan nie praat nie. 8Soos vir 'n praalsieke meisie neem hulle goud waaruit hulle krone maak vir die koppe van hulle gode. 9Soms gebeur dit ook dat die priesters goud en silwer van hulle gode sal verduister en op hulleself sal spandeer, en dat hulle daarvan vir tempelprostitute sal gee. 10Hulle verfraai hulle gode met klere asof hulle mense is – hierdie gode van silwer, goud en hout. Maar hulle red hulleself nie eers van roes en van wurmkos word nie. 11Die gode is wel omhul in 'n purperrooi kleed, maar hulle gesigte moet afgevee word weens die stof uit die tempel wat dik op hulle lê. 12So 'n god hou 'n septer vas soos 'n mens, 'n distriksregter, maar hy kan nie diegene wat teen hom oortree, doodmaak nie. 13In sy regterhand hou hy 'n dolk en 'n oorlogsbyl, maar hy sal homself nie van oorlog en rowers kan bevry nie.
14Kennelik is hulle nie gode nie. Julle moet hulle dus nie vrees nie.
Tweede waarskuwing: Hulpeloosheid van afgode
15Want soos iemand se gebruiksvoorwerp nutteloos word wanneer dit gebreek is, net so is hulle gode wanneer hulle in die tempels neergesit word. 16Hulle oë is vol van die stof van die voete wat daar ingaan. 17Iemand wat die koning beledig het en ter dood veroordeel is, word in die binneplein toegesluit; net so verskans die priesters die gode agter deure, slotte en grendels sodat rowers hulle nie plunder nie. 18Hoewel die gode niks daarvan kan sien nie, steek die priesters baie lampe op – selfs meer vir die gode as vir hulleself. 19Dit is met die gode soos met 'n balk uit hulle tempel: Hulle hart word van binne uitgevreet, by wyse van spreke. Allerlei goggas kom uit die grond en vreet hulle en hulle klere op, en hulle kom dit nie eers agter nie. 20Hulle gesigte is swart van die rook wat uit die tempel kom. 21Om hulle lyf en kop fladder vlermuise, swaeltjies en allerhande ander voëls – selfs katte gaan op hulle sit.
22Hieruit sal julle weet dat hulle nie gode is nie. Julle moet hulle dus nie vrees nie.
Derde waarskuwing: Leweloosheid van afgode
23Die gode is met goud ter versiering bedek, maar as iemand die aanslag nie opvryf nie, gaan hulle beslis nie blink nie. Selfs toe hulle gegiet is, was hulle van niks bewus nie. 24Hulle is teen die hoogste prys aangekoop, tog is daar geen asem in hulle nie. 25Omdat hulle nie voete het nie, word hulle op die skouers gedra, en bewys hulle daardeur aan die mense hulle eie nutteloosheid. Selfs hulle eie tempeldienaars skaam hulle daarvoor dat die god, indien dit op die grond sou val, weer deur hulle staan gemaak moet word. 26En as iemand dit weer regop plaas, kan dit nie vanself beweeg nie, en as dit skuins oorhel, kan dit beslis ook nie orent kom nie. Maar net soos vir dooies, word geskenke voor hulle neergesit. 27Hulle priesters misbruik die offervleis deurdat hulle dit verkoop. Net so ook misbruik hulle vroue van die offervleis deur dit te pekel, maar hulle gee daarvan nóg aan die armes, nóg aan die hulpbehoewendes. Boonop raak vroue wat menstrueer of so pas 'n bevalling gehad het, aan die offers.
28Aangesien julle dan hieruit weet dat hulle nie gode is nie, moet julle hulle nie vrees nie.
Vierde waarskuwing: Daadloosheid van afgode
29Waarom sou hulle dan gode genoem word? Dit is dan vroue wat die gode van silwer, goud en hout bedien. 30En in hulle tempels sit die priesters met geskeurde klere, hulle koppe kaalgeskeer, hulle baarde afgeskeer en hulle hoofde ontbloot, 31terwyl hulle weeklaag en skreeu voor hulle gode soos sommige rouklaers by 'n begrafnismaaltyd. 32Die priesters neem ook van die gode se klere om daarmee hulle vroue en kinders te klee. 33As die gode aan die hand van iemand iets kwaads of goeds ervaar, sal hulle so iemand nie kan terugbetaal nie. Hulle kan nóg 'n koning aanstel, nóg hom onttroon. 34Net so kan hulle glad geen rykdom óf glad geen geld uitdeel nie. As iemand wat 'n eed teenoor hulle gesweer het, dit glad nie gestand doen nie, sou hulle dit glad nie kon afdwing nie. 35Hulle sal glad nie iemand uit die dood kan red nie, ook glad nie 'n swakke teen 'n sterke beskerm nie. 36Hulle kan glad nie aan 'n blinde persoon sy sig teruggee nie, ook glad nie 'n behoeftige se nood verlig nie. 37Hulle sou hulle glad nie oor 'n weduwee kon ontferm nie, ook nie 'n weeskind versorg nie. 38Hierdie houtgoed wat verguld en versilwer is, kan vergelyk word met klippe wat in die berg gekap is. En hulle tempeldienaars sal beskaamd staan.
39Hoe kan hulle dan as gode beskou of gode genoem word?
Vyfde waarskuwing: Belaglikheid van afgodediens
40Hierbenewens maak die Galdeërs self hierdie gode belaglik, want wanneer hulle 'n stom man teëkom, een wat nie kan praat nie, bring hulle hom na Bel met die versoek dat Bel hom laat praat – so asof Bel hom kan verstaan! 41Alhoewel hulle dit self bemerk het, kan hulle die gode nie laat staan nie, want hulle het geen insig nie. 42Die vrouens, omgord met biesiestringe, lê in die strate rond en brand semels as wierook. 43En wanneer een van hulle weggetrek is deur een van die verbygangers om gemeenskap te hê, spot sy die vrou langs haar omdat dié nie waardig geag is soos sy nie en haar biesiestring nog nie stukkend is nie. 44Alles wat met die gode gedoen word, is vals.
Hoe kan hulle dan as gode beskou of gode genoem word?
Sesde waarskuwing: Afgode as mensemaaksels
45Hierdie goed is deur skrynwerkers en goudsmede gemaak en hulle kan niks anders wees as wat die vakmanne met hulle beoog het nie. 46Selfs diegene wat hulle skep, leef glad nie besonder lank nie. Hoe kan hulle maaksels dan gode wees? 47Want al wat hulle die nageslag laat erf, is bedrog en skande. 48Wanneer oorlog en rampe die gode tref, is dit die priesters wat onder mekaar bepaal waar hulle met die gode kan gaan skuil. 49Hoe is dit dan moontlik dat 'n mens nie kan besef dat hierdie goed, wat hulleself nóg uit oorlog nóg uit rampe kan red, nie gode is nie? 50Want wat maar hout is, verguld en versilwer, sal hierna as 'n bedrogspul herken word. Alle nasies en konings sal insien dat hulle nie gode is nie, maar die handewerk van mense, en dat daar geen goddelike werking in hulle is nie.
51Wie besef nog nie dat hulle nie gode is nie?
Sewende waarskuwing: Kragteloosheid van afgode
52Hulle kan glad nie 'n koning oor 'n land aanstel nie, ook glad nie vir mense reën skenk nie. 53Hulle kan glad nie hulle eie regspraak behartig nie, en ook glad nie iemand red wat onreg ly nie, aangesien hulle magteloos is. Hulle is immers soos kraaie tussen hemel en aarde. 54Want ook as 'n brand sou uitbreek in die huis van gode van hout, goud of silwer, sal hulle priesters vlug en behoue bly, maar die gode sal verbrand word soos die middelste balke. 55Teen 'n koning of vyande kan hulle glad nie weerstand bied nie.
56Hoe kan hulle dan as gode aanvaar of beskou word?
Agtste waarskuwing: Afgode as buit van diewe
57Gode van hout, goud en silwer sal hulle glad nie teen diewe óf teen rowers kan verweer nie. Die sterkes onder die diewe en rowers sal die goud en die silwer en die klere wat die gode aanhet, afstroop en daarmee wegloop, en die gode sal hulleself glad nie kan help nie. 58Hoeveel beter is dit nie om 'n koning te wees wat sy dapperheid bewys of 'n houer in 'n huis wat sy eienaar nuttig kan gebruik, as om vals gode te wees nie, of om 'n deur in 'n huis te wees wat alles daaragter beveilig, eerder as vals gode. Selfs om 'n houtpilaar in 'n paleis te wees, is beter as om vals gode te wees. 59Want son, maan en stralende sterre word uitgestuur met 'n doel, en hulle gee gehoor. 60Net so ook weerlig: wanneer dit blits, is dit van ver af sigbaar. Op dieselfde wyse waai ook die wind oor die hele aarde. 61En as God die wolke beveel om die hele wêreld te oordek, sal hulle die opdrag uitvoer. Ook die vuur wat van bo af uitgestuur word om berge en bosse te vernietig, doen soos beveel word. 62Nie wat hulle voorkoms of hulle krag betref, kan die gode met hierdie dinge vergelyk word nie. 63Daarom kan hulle nie as gode beskou óf gode genoem word nie, aangesien hulle nóg by magte is om 'n oordeel te vel, nóg om 'n mens goed te behandel.
64Aangesien julle dan weet dat hulle nie gode is nie, moet julle hulle nie vrees nie.
Negende waarskuwing: Volkome onmag van afgode
65Hulle kan glad nie konings vervloek nie, hulle ook nie seën nie. 66Hulle sal glad nie vir die nasies tekens aan die hemel kan laat verskyn nie, ook nie soos die son straal nie, ook nie lig gee soos die maan nie. 67Selfs die diere, wat in staat is om na 'n skuilplek te vlug en so hulleself te beskut, is beter as hulle.
68Op geen wyse blyk dit vir ons dat hulle gode is nie. Daarom moet julle hulle nie vrees nie.
Tiende waarskuwing: Hulpeloosheid van afgode
69Want soos 'n voëlverskrikker in 'n komkommerland wat niks beskerm nie, só is hulle gode van hout, goud en silwer. 70Soos 'n doringbos in 'n tuin waarop elke voël gaan sit, soos 'n lyk in die duisternis uitgegooi, só is hulle gode van hout, goud en silwer. 71Uit die purper wat verrot en die marmer wat op hulle verslyt, sal julle weet dat hulle nie gode is nie. Uiteindelik sal hulle opgevreet word en 'n skande in die land wees.
72Daarom is dit beter dat 'n regverdige mens nie afgodsbeelde het nie – want hy sal ver van skande wees.