Bel en die draak
Ontmaskering van die priesters van Bel
1Toe koning Astuages by sy voorvaders begrawe is, het Kores, die Pers, sy koninkryk oorgeneem. 2Daniël was 'n vertroueling van die koning en geëerd bo al sy vriende.
3Die Babiloniërs het 'n afgod met die naam Bel gehad. Elke dag het hulle hom van twaalf mate gesifte meel, veertig skape en ses metretes wyn voorsien. 4Die koning het hom ook vereer en gewoonlik elke dag gegaan om hom te aanbid, maar Daniël het sy God aanbid. 5Die koning vra hom toe: “Hoekom aanbid jy nie vir Bel nie?”
Hy antwoord: “Omdat ek nie afgode aanbid wat met hande gemaak is nie, maar die lewende God wat die hemel en die aarde geskep het en heerskappy uitoefen oor alles wat leef.”
6Die koning het hom gevra: “Dink jy dan Bel is nie 'n lewende god nie? Of sien jy nie hoe baie hy elke dag eet en drink nie?”
7Daniël het gelag en gesê: “Moenie mislei word nie, Koning, want hy is net klei binnekant en koper buitekant. Hy het nog nooit iets geëet of gedrink nie!” 8Die koning het woedend geword, sy priesters geroep en vir hulle gesê: “As julle nie vir my sê wie al hierdie kos opeet nie, sal julle sterf! Maar as julle bewys dat Bel dit opeet, sal Daniël sterf, omdat hy Bel belaster het.” 9Daniël sê toe vir die koning: “Laat dit wees soos u gesê het.”
Daar was sewentig priesters van Bel, afgesien van hulle vroue en kinders. 10Die koning is toe saam met Daniël na die huis van Bel. 11Die priesters van Bel het gesê: “Kyk, ons gaan nou uit. Koning, sit u self die kos uit, meng die wyn en sit dit neer. Sluit die deur en verseël dit met u seëlring. As u môre terugkom en u vind nie dat alles deur Bel opgeëet is nie, kan ons maar sterf. Anders sterf Daniël wat leuens oor ons vertel.”
12Hulle was nie bekommerd nie omdat hulle 'n geheime ingang onder die offertafel gemaak het. Daardeur het hulle gewoonlik ingegaan en die kos opgeëet. 13Toe hulle uit is, het die koning die kos vir Bel uitgesit. 14Maar Daniël het sy dienaars opdrag gegee, en hulle het as gebring en dit in die hele tempel gestrooi, in die teenwoordigheid van die koning alleen. Hulle is uit, en het die deur gesluit en dit met die seëlring van die koning verseël. Toe het hulle vertrek. 15Die priesters het oudergewoonte gedurende die nag gekom, saam met hulle vroue en kinders, en alles geëet en gedrink.
16Vroeg die volgende oggend het die koning opgestaan en Daniël saam met hom. 17Die koning het gevra: “Is die seëls nog heel, Daniël?” Hy antwoord: “Hulle is heel, Koning.” 18En terwyl hulle die deure oopmaak, kyk die koning na die offertafel en roep hard uit: “Bel, u is groot! By u is daar nie bedrog nie, nee, hoegenaamd geen bedrog nie!”
19Maar Daniël het gelag en gekeer dat die koning na binne gaan. Hy het gesê: “Kyk na die vloer en let op wie se voetspore dit is.” 20Die koning het geantwoord: “Ek sien die voetspore van mans, vroue en kinders!”
21Die koning het kwaad geword en toe die priesters en hulle vroue en kinders laat arresteer. Hulle het hom die geheime deure gewys waardeur hulle gewoonlik ingekom het en dit wat op die tafel was, geëet het. 22Die koning het hulle laat doodmaak en Bel vir Daniël gegee, en hy het hom en sy heiligdom vernietig.
Daniël dood die draak
23Daar was ook 'n groot draak wat deur die Babiloniërs aanbid is. 24Die koning het vir Daniël gesê: “Jy kan nie sê dat hy nie 'n lewende god is nie, en jy moet hom aanbid.” 25Toe antwoord Daniël: “Ek sal die Here, my God, aanbid omdat Hy 'n lewende God is. Maar u, Koning, gee u my volmag en ek sal die draak sonder 'n swaard of 'n septer doodmaak.” 26Die koning sê toe: “Ek gee jou volmag.”
27Daniël het teer, vet en hare gevat, dit saam gekook en koekies daarvan gemaak. Hy het dit in die draak se bek gestop en die draak het dit geëet en oopgebars. Toe sê Daniël: “Kyk wat het julle aanbid!”
28Toe die Babiloniërs hiervan hoor, was hulle woedend en het hulle teen die koning saamgespan en gesê: “Die koning het 'n Jood geword! Hy het Bel vernietig en die draak doodgemaak en die priesters met geweld om die lewe gebring.” 29Hulle het na die koning gegaan en vir hom gesê: “Lewer Daniël aan ons uit, anders maak ons u en u huisgesin dood!” 30Die koning sien toe dat hulle hom behoorlik in 'n hoek gedryf het en onder dwang het hy Daniël aan hulle uitgelewer.
Daniël in die leeukuil
31Hulle het Daniël in die leeukuil gegooi. Hy was ses dae daarin. 32Daar was sewe leeus in die kuil. Hulle is elke dag met twee lyke en twee skape gevoer, maar in daardie tyd is hulle niks gegee nie sodat hulle Daniël kon opvreet.
33Die profeet Habakuk was in Judea. Hy het bredie gemaak en brood in 'n bak gebreek en was op pad na die saailand om dit vir die mense wat oes, te gee. 34Maar 'n engel van die Here het vir Habakuk gesê: “Vat die kos wat jy het na Babilon, na Daniël in die leeukuil.” 35Habakuk het geantwoord: “Meneer, Babilon het ek nog nooit gesien nie en van die kuil weet ek nie.” 36Die engel van die Here gryp hom toe aan sy kop en neem hom aan sy hare tot in Babilon en sit hom bo die kuil neer – alles soos met die suising van wind.
37Habakuk roep toe: “Daniël! Daniël! Vat die kos wat God vir jou gestuur het!” 38Toe sê Daniël: “U het my onthou, o God! U het nie dié wat vir U liefhet, in die steek gelaat nie!” 39Daniël het opgestaan en geëet. Die engel van God het Habakuk dadelik weer teruggeneem na sy eie plek.
40Op die sewende dag het die koning gekom om oor Daniël te treur. Hy het by die kuil gekom, ingekyk, en sowaar, daar sit Daniël! 41Hy het met 'n harde stem geroep en gesê: “Groot is U, Here, God van Daniël! Daar is niemand soos U nie!” 42Die koning het Daniël laat uithaal, en dié wat sy ondergang wou bewerkstellig, in die kuil gegooi. Hulle is dadelik ten aanskoue van Daniël opgevreet.