1“Luister hemele, ek wil praat,
en aarde, jy moet die woorde
van my mond hoor.
2Mag my onderrig neerstuif soos reën,
my woorde drup soos dou,
soos deurdringende reën
op groen gras,
soos reënbuie op plante.
3Ja, die Naam van die Here roep ek uit,
Erken die grootheid van ons God, 4die Rots!
Volmaak is sy werk,
ja, al sy paaie is 'n maatstaf.
'n Betroubare God, sonder onreg,
regverdig en onkreukbaar is Hy.
5“Sy volk het hulle teenoor Hom wangedra;
hulle is nie sy kinders nie,
maar 'n skandvlek,
'n vals en verworde geslag.
6Is dit hoe julle teenoor die Here optree,
dwase en onverstandige volk?
Is Hy nie jou Vader
wat jou geskep het nie?
Hy is die Een wat jou gemaak het,
wat jou gevestig het.
7Onthou die tye lank gelede,
dink aan die jare
van vorige geslagte;
vra jou vader, hy sal jou inlig;
jou ou mense,
hulle sal dit vir jou sê:
8Toe die Allerhoogste
vir die nasies hulle erfenis
gegee het,
toe Hy mensekinders
van mekaar geskei het,
het Hy die grense van volke vasgelê
volgens die getal
van die kinders van Israel;
9want die Here se deel is sy volk,
Jakob is sy afgemete erfenis.
10Hy het sy volk
in 'n woestynland gevind,
in 'n onherbergsame streek
met die wildernis se gehuil.
Hy het hom omring, hom versorg,
hom beskerm soos die appel
van sy oog.
11Soos 'n arend sy neskuiken aanspoor,
bo sy jong kuiken fladder,
sy vlerke oopsprei en hom vang,
hom op sy penvere dra,
12het net die Here hom gelei;
daar was geen vreemde god
by hom nie.
13Die Here het hom laat ry
oor die hoogtes van die aarde.
Hy het die opbrengs van die veld geëet.
Die Here het hom gevoed
met heuning uit 'n rotsskeur,
met olie uit 'n klipharde rots,
14met die dikmelk van beeste,
die melk van kleinvee,
ook met die vet van slaglammers,
ramme uit Basan, ook bokramme,
en met die fynste koringmeel.
En druiwebloed het jy gedrink –
gistende wyn.
15“Jesurun het vet geword
en agterop geskop.
Jy het vet geword, rond geword,
eiesinnig geraak.
Hy het die God wat hom
gemaak het, versaak,
die Rots wat hom verlos,
met minagting behandel.
16“Hulle het die Here
met vreemde gode ontstel,
met afstootlike dinge
het hulle Hom getart.
17Hulle het vir demone,
vir nie-gode, vir gode wat hulle
nie geken het nie, offers geslag –
nuwes wat maar onlangs
na vore gekom het,
gode wat vir julle voorouers
nie bestaan het nie.
18Die Rots wat jou verwek het,
het jy verontagsaam;
jy het die God wat jou
voortgebring het, vergeet.
19“Die Here het dit gesien,
en uit ergernis sy seuns
en dogters verstoot.
20Hy het gesê,
‘Ek wil my gesig vir hulle verberg;
Ek wil sien wat van hulle
gaan word,
want hulle is 'n verworde geslag,
kinders wat nie vertrou
kan word nie.
21Hulle het My ontstel
met nie-gode,
My uitgetart
met hulle nietige afgode.
Ek gaan hulle ontstel
met 'n nie-volk,
met 'n dwase nasie
gaan Ek hulle tart.
22Want 'n vuur is aangesteek
in my toorn,
en dit brand tot in die •doderyk
daar onder.
Dit verteer die aarde
en sy opbrengs,
dit laat die fondamente
van die berge in vlamme opgaan.
23Ek bring meer rampe oor hulle,
my pyle skiet Ek alles op hulle af:
24Uitgemergel deur honger,
uitgeteer deur plae
en die verskriklikste pessiekte,
lewer Ek hulle uit aan
verskeurende diere
en giftige slange.
25Buite maai die swaard af,
en in die binnekamers die vrees –
jong man sowel as jong meisie,
die suigeling saam met die grysaard.
26“ ‘Ek het gedink,
ek moet hulle uitwis,
die herinnering aan hulle
onder die mense laat verdwyn,
27was dit nie vir die ergernis
van vyande wat My
afgeskrik het nie.
Anders maak hulle teenstanders
'n verkeerde afleiding
en sê: “Ons mag het geseëvier;
die Here het niks hiervan gedoen nie.” ’
28“Ja, die vyand is 'n nasie
wie se planne gedaan is,
by wie daar geen insig is nie.
29As hulle wys was,
sou hulle dit begryp,
hulle sou nadink oor hulle einde.
30Hoe kan een dan duisend agtervolg,
en twee tienduisend
op die vlug jaag
as hulle rots hulle
nie verkoop het nie,
as die Here hulle
nie oorgelewer het nie?
31Ja, hulle rots is nie
soos ons Rots nie
– ons vyande gee dit toe –
32want uit Sodom se wingerd
kom hulle wingerdstokkies,
van die terrasse van Gomorra
is hulle druiwekorrels.
Dit is giftige druiwe,
hulle dra bitter trosse.
33Hulle wyn is slanggif,
die dodelike gif van kobras.
34Die Here sê,
‘Is dit nie by My weggebêre nie,
in my stoorkamers verseël
35vir die dag van wraak
en vergelding,
vir die tyd wanneer
hulle voete gaan wankel nie?
Want naby is die dag
van hulle teenspoed;
wat vir hulle gereed lê, kom gou.’
36“Maar die Here laat reg geskied
aan sy volk,
oor sy diensknegte
ontferm Hy Hom,
wanneer Hy sien
dat hulle mag verdwyn het,
en dat die einde aangebreek het
vir wie gevange is
en vir wie vrygelaat is.
37“Hy sal sê, ‘Waar is hulle gode,
die rots waar hulle geskuil het,
38wat die vet van hulle
slagoffers geëet,
en die wyn van hulle
•drankoffers gedrink het?
Laat hulle opstaan en julle help,
laat hulle oor julle
'n beskutting wees.
39Sien tog nou in dat Ek,
ja, Ek die Een is;
daar is geen god naas My nie.
Ek maak dood en Ek maak lewend;
Ek verpletter, ja, Ek maak gesond,
en niemand red uit my hand nie.
40Ja, Ek hef my hand op
na die hemel
en sê: “So waar as wat Ek ewig leef,
41Ek gaan my flitsende swaard
skerp maak,
en my hand sal dit vir die vonnis vasgryp.
Ek gaan wraak neem
op my teenstanders,
my haters gaan Ek vergeld.
42Ek gaan my pyle dronk maak
van bloed –
my swaard sal vleis verslind –
van die bloed van gesneuweldes
en gevangenes,
van die vyand se leiers
met die los hare.” ’
43“Nasies, juig sy volk toe,
want Hy gaan die bloed
van sy diensknegte wreek;
Hy gaan wraak neem
op sy teenstanders
en versoening doen vir sy grond,
sy volk.”
44So het Moses dan gekom en al die woorde van hierdie lied ten aanhore van die volk voorgedra, hy en Josua, die seun van Nun. 45Toe Moses klaar was met die voordra van al hierdie woorde vir die hele Israel, 46het hy vir hulle gesê: “Neem al die woorde waarmee ek julle vandag waarsku, ter harte – dat julle dit aan julle kinders moet opdra om al die woorde van hierdie wet nougeset na te kom. 47Want dit is nie 'n niksseggende saak vir julle nie, dit is immers julle lewe. Deur hierdie saak verleng julle die lewe op daardie grond waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem.”
Moses se seën
48Die Here het op daardie selfde dag met Moses gepraat en gesê: 49“Klim teen hierdie Abarimberge op, teen die berg Nebo, wat in die land Moab teenoor Jerigo lê. Kyk dan na die land Kanaän, wat Ek vir die Israeliete as besitting gaan gee. 50Sterf op die berg waarteen jy opklim en word so met jou mense verenig, net soos Aäron, jou broer, op die berg Hor gesterf en met sy mense verenig is, 51omdat julle aan My ontrou was tussen die Israeliete by die water van Meriba-Kades in die Tsinwoestyn; want julle het daar tussen die Israeliete nie my heiligheid in ag geneem nie. 52Ja, jy sal die land van die oorkant af sien; maar daarheen, na die land wat Ek aan die Israeliete gaan gee, sal jy nie gaan nie.”