Egipte 'n gevalle seder
1In die elfde jaar op die eerste dag van die derde maand het die woord van die Here tot my gekom: 2“Mensekind, sê vir die farao, die koning van Egipte, en vir sy hordes,
‘Met wie kan jy vergelyk word in grootte?
3Kyk, Assirië was 'n seder
op die Libanon
met mooi takke wat die woud oorskadu;
sy hoogte was geweldig,
en tussen die wolke sy top.
4Water het hom laat groei;
die •oerwater het hom hoog laat word,
dit het sy strome laat vloei
rondom die plek
waar die seder geplant was.
Die oerwater het daarna
sy vore uitgestuur
na al die bome in die veld.
5Daarom was hy hoër
as al die bome in die veld,
en het sy takke baie geword,
was sy lote wat hy uitgestoot het,
lank van al die water.
6In sy takke het al die voëls
van die hemel nesgemaak,
onder sy lote het al die wilde diere
kleintjies gekry,
en in sy skaduwee het al die
verskillende nasies gewoon.
7Hy was pragtig in sy volle grootte
met sy lang, blaarryke takke,
want sy wortels was by baie water.
8Seders in die tuin van God
kon hom nie oorskadu nie;
sipresse kon met sy takke
nie vergelyk word nie,
en platane was nie so groot
soos sy lote nie.
Nie een boom in die tuin van God
kon met sy skoonheid
vergelyk word nie.
9Pragtig het Ek hom gemaak,
met sy oorvloed blare.
Al die bome van Eden
in die tuin van God het hom beny.
10“ ‘ “Daarom,” so sê my Heer, die Here: “omdat hy so hoog uitgestaan het, en hy sy top tot tussen die wolke gestoot het, en hy hooghartig was oor sy grootte, 11het Ek hom oorgegee in die hand van 'n maghebber van die nasies. Hy sou beslis teenoor hom optree ooreenkomstig sy goddeloosheid. Ek het hom uitgedryf. 12Vreemdes, die gewelddadigstes van die nasies, het hom afgekap en hom daar laat lê. Op die berge en in al die valleie het sy blare geval, en gebreek het sy lote in al die stroombeddings van die aarde gelê. Van sy skaduwee af het al die volke van die aarde weggegaan en hom daar laat lê. 13Op sy omgevalle stam was al die voëls van die hemel tuis, en op sy takke al die wilde diere. 14Dit het gebeur, sodat al die ander bome by die water nie in hoogte sou uitstaan en hulle toppe tot tussen die wolke sou stoot nie, en sodat geen bome wat water kry op hulle eie, daar staan in hulle hoogheid nie. Hulle is immers almal vir die dood bestem, in die wêreld daar onder tussen gewone mense, by hulle wat afdaal in die put.”
15“ ‘So sê my Heer, die Here: “Die dag toe hy afgedaal het na die •doderyk, het Ek 'n rouklag laat opklink: Oor hom het Ek die oerwater toegemaak; Ek het sy strome gestuit; die watermassa is teruggehou. Ek het oor hom die Libanon in swart geklee, en oor hom het al die bome in die veld versmag. 16Met die geluid van sy val het Ek nasies laat bewe. Dit het gebeur toe Ek hom laat afgaan het na die doderyk, saam met dié wat afdaal in die put. In die wêreld daar onder was daar berusting by al die bome van Eden, die keur en die bestes van die Libanon, almal wat water trek. 17Ook hulle het saam met hom afgedaal na die doderyk, na dié wat deur die swaard gesneuwel het – hulle, sy hulp, wat in sy skaduwee gesit het tussen die nasies.
18“ ‘ “Met wie kan jy, Egipte, vergelyk word in eer en grootte onder die bome van Eden? Maar jy sal neergehaal word saam met die bome van Eden, af na die wêreld daar onder. Tussen onbesnedenes sal jy lê, saam met dié wat deur die swaard gesneuwel het.
“ ‘ “Dit is die farao en al sy hordes,” is die uitspraak van my Heer, die Here.’ ”