1Josef het gegaan, die farao ingelig en gesê: “My vader en my broers met hulle kleinvee en grootvee en alles wat aan hulle behoort, het uit die land Kanaän hier aangekom. Hulle is nou daar in die Gosenstreek.” 2Uit sy broers se geledere het hy vyf manne geneem en hulle voor die farao gebring. 3Die farao het vir sy broers gevra: “Wat is julle daaglikse werk?” Hulle het die farao geantwoord: “U dienaars is herders van kleinvee, ons sowel as ons voorvaders.” 4Hulle sê toe vir die farao: “Ons het gekom om net as •vreemdelinge in die land te woon, want daar is nie weiding vir die kleinvee wat aan u dienaars behoort nie; ja, die hongersnood is erg in die land Kanaän. Laat u dienaars asseblief dan nou in die Gosenstreek bly.”
5Die farao het vir Josef gesê: “Jou vader en jou broers het na jou toe gekom. 6Egipteland lê oop voor jou. Laat woon jou vader en jou broers in die beste deel van die land. Hulle mag in die Gosenstreek bly. As daar na jou wete bekwame manne onder hulle is, moet jy hulle aanstel as kuddebestuurders oor my vee.”
7Josef het daarna sy vader Jakob ingebring en hom voor die farao laat staan. Jakob het die farao met 'n seënwens gegroet. 8Toe vra die farao vir Jakob, “Hoeveel lewensjare het u agter die rug?” 9Jakob het die farao geantwoord: “My vreemdelingskap was honderd-en-dertig jaar lank. Min en vol teenspoed was my lewensjare – nie naastenby die lewensjare van my voorvaders in die tyd van hulle vreemdelingskap nie.” 10Jakob het die farao geseën en uit die farao se teenwoordigheid vertrek.
11Josef het sy vader en sy broers woonplek gegee. Hy het aan hulle erfgrond gegee in Egipteland, in die beste deel van die land, in die gebied Ramses, soos die farao beveel het. 12Josef het sy vader en sy broers en sy hele familie van kos voorsien volgens die getal afhanklikes.
Gevolge van die hongersnood
13Kos was nêrens in die land te kry nie, want die hongersnood was baie erg. Egipteland en die land Kanaän het versmag van die honger. 14Josef het al die silwer wat in Egipteland en in die land Kanaän te vinde was, ingesamel in ruil vir die graan wat die mense kom koop het. Josef het die silwer na die farao se paleis geneem. 15Toe daar nie meer silwer in Egipteland en die land Kanaän was nie, het al die Egiptenare na Josef gekom en gesê: “Gee vir ons brood! Waarom moet ons hier voor u sterf omdat daar nie meer silwer is nie?” 16Josef het geantwoord: “Bring julle vee, dan gee ek vir julle brood in ruil vir julle vee, as julle nie meer silwer het nie.”
17Hulle het toe hulle vee na Josef gebring, en Josef het vir hulle brood gegee in ruil vir perde, kleinveekuddes, beeskuddes en donkies. Hy het hulle daardie jaar deurgehelp met brood in ruil vir hulle hele veestapel. 18Toe daardie jaar om is, kom hulle toe die tweede jaar by Josef aan en sê vir hom: “Ons kan dit nie vir my heer wegsteek nie, maar ons silwer is opgebruik en ons veekuddes is by my heer. Daar het niks vir my heer oorgebly nie, behalwe ons liggame en ons landerye. 19Waarom moet ons voor u oë omkom, ons en ook ons landerye? Koop ons en ons landerye met brood. Ons en ons grond sal in die farao se diens wees; en gee dan vir ons saad, sodat ons kan leef en nie sterf nie, en ons landerye nie verlate lê nie.”
20Josef het al die landerye in Egipte vir die farao opgekoop; ja, elke Egiptenaar het sy saailand verkoop, want die hongersnood oor hulle was straf. Die land het toe die farao se eiendom geword, 21en die mense het hy na die dorpe verskuif, van die een grens van Egipte tot die ander. 22Net die landerye van die priesters het hy nie gekoop nie, want daar was van die kant van die farao 'n vaste toelaag vir die priesters. Hulle het genoeg te ete gehad van die vaste toelaag wat die farao vir hulle gegee het. Daarom het hulle nie hulle landerye verkoop nie.
23Josef sê toe vir die volk: “Kyk, ek het julle en julle landerye vandag vir die farao gekoop. Hier is vir julle saad, dan kan julle die landerye saai. 24Maar wanneer daar oeste is, moet julle 'n vyfde aan die farao afstaan. Die vier dele sal aan julle behoort as saad vir die saailand, en as julle kos, en ook vir dié wat in julle huise is, as kos vir julle afhanklikes.”
25Hulle sê toe: “U het ons aan die lewe gehou. As ons guns vind in die oë van my heer, sal ons die farao se slawe word.” 26Josef het dit toe 'n vaste reëling gemaak wat tot vandag toe geld vir die landerye van Egipte: 'n vyfde van die opbrengs behoort aan die farao. Net die priesters se landerye het nie die farao se eiendom geword nie.
Jakob se seën vir Josef se seuns
27Israel het in Egipteland, in die Gosenstreek, gewoon. Hulle het erfgrond daar verkry; hulle was vrugbaar en het talryk geword. 28Jakob het nog sewentien jaar lank in Egipteland geleef, sodat die getal lewensjare van Jakob honderd sewe-en-veertig jaar was.
29Toe die tyd vir Israel nader kom om te sterf, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: “As ek guns vind in jou oë, plaas dan asseblief jou hand onder my heup. Bewys liefde en trou aan my: Moet my asseblief nie in Egipte begrawe nie. 30Wanneer ek by my voorvaders gaan rus, moet jy my uit Egipte neem en my in hulle graf gaan begrawe.” Hy het geantwoord: “Ek sal maak soos pa sê.” 31Toe sê hy: “Lê vir my 'n eed af!” Hy het toe vir hom 'n eed afgelê. Israel het daarna in aanbidding gebuig by die koppenent van die bed.