1Wanneer Efraim gepraat het,
het almal gebewe;
hy was hoog geag in Israel.
Maar hy het skuld op hom gelaai
deur Baäl en gesterf;
2en nou gaan hulle voort om te sondig.
Hulle het vir hulle gegote beelde gemaak –
afgode van hulle silwer,
met vaardigheid,
alles die handewerk van ambagsmanne.
Van die beelde sê hulle:
“Mense wat offer,
moet die kalwers soen!”
3Daarom sal hulle word
soos 'n môrewolk,
soos dou wat vroeg verdwyn,
soos kaf wat van die dorsvloer,
soos rook wat uit 'n venster,
weggewaai word.
4“Ek is die Here jou God
– al van Egipteland af.
Buiten My het jy geen ander god geken nie,
en naas My was daar geen redder nie.
5Dit is Ek wat jou in die woestyn versorg het,
in 'n bitter droë land.
6Maar toe hulle weiding kry,
het hulle versadig geraak;
hulle het versadig geraak
en hoogmoedig geword –
daarom het hulle My vergeet.
7Ek het vir hulle soos 'n leeu geword,
soos 'n luiperd langs die pad
hou Ek hulle dop.
8Ek sal hulle aanval soos 'n beer
wat haar kleintjies verloor het.
Ek sal hulle borskas oopskeur.
Soos 'n leeuwyfie sal ek hulle
net daar verslind;
die wilde diere sal hulle uitmekaar skeur.
9Dit het jou vernietig, Israel,
dat jy teen My, jou Helper, is.
10Waar is jou koning dan,
dat hy jou kan red in al jou stede?
En waar is jou rigters, oor wie jy gesê het,
‘Gee vir my 'n koning en •hoë amptenare’?
11Ek gee vir jou 'n koning in my toorn,
en Ek neem hom weg in my gramskap.
12“Die sondeskuld van Efraim is toegebind,
sy sonde word veilig bewaar.
13Die geboortepyne het vir hom aangebreek,
maar hy is 'n kind sonder insig.
Wanneer die tyd aanbreek,
lê hy nie reg in die baarmoeder nie.
14Moet Ek hulle bevry uit die mag van die •doderyk?
Moet Ek hulle van die dood loskoop?
Waar is jou pessiektes, Dood?
Waar is jou epidemie, Doderyk?
Medelye is vir my oë verberg.”
15Ja, hy bring skeiding tussen broers.
Die oostewind, die wind van die Here,
steek al op in die woestyn,
sodat Efraim se waterbron sal wegdroog,
sy fontein sal opdroog.
Dit sal die voorraadkamers plunder
van alle kosbare voorwerpe.