1Toe dit laat begin word, het sy diensknegte hulle haastig onttrek. Bagoas het die tent van buite af toegemaak en só die dienaars uitgesluit van die teenwoordigheid van sy heer. Hulle het na hulle beddens gegaan, want almal was moeg omdat die fees baie lank aangehou het. 2Judit is alleen in die tent agtergelaat. Holofernes het vooroor op sy bed gelê, want hy was papdronk. 3Toe het Judit haar slavin aangesê om buitekant haar slaapplek te staan en wag tot sy uitkom, soos wat sy elke dag gedoen het, want, het sy gesê, sy sou uitgaan vir haar gebede. Sy het dié woorde ook vir Bagoas gesê. 4Almal het weggegaan, en niemand, klein of groot, het in die slaapvertrek agtergebly nie. Judit het toe by sy bed gaan staan en in haar hart gesê: “Here, God van alle mag, sien tog in hierdie uur die werke van my hande aan sodat Jerusalem daardeur verhoog kan word. 5Want dit is nou die regte tyd om u erfdeel by te staan en my onderneming te ondersteun om die vyande wat teen ons opgestaan het, te vernietig.” 6Toe gaan sy na die bedstyl waar Holofernes se kop was, en haal sy swaard van hom af. 7Sy het nader aan die bed gegaan, die hare van sy kop vasgegryp en gesê: “Gee vandag vir my krag, Here, God van Israel!” 8Toe het sy sy nek twee maal geslaan, met al haar krag – en sy het sy kop van sy lyf afgekap. 9Sy het sy liggaam van die bed afgerol en die muskietnet van die bedstyl afgehaal. Kort daarna het sy uitgegaan en Holofernes se kop vir haar diensmeisie gegee. 10Sy het dit in haar reissak met die kosvoorrade gesit. Toe het die twee saam uitgegaan, volgens hulle gebruik om te gaan bid. Hulle het deur die kamp gegaan, óm daardie vallei beweeg, teen die berg opgegaan na Betulua en by die poorte daarvan aangekom. 11Judit het van ver af geroep na die wagte by die poorte: “Maak oop! Maak oop die poort! God, ons God, is met ons om nog steeds sy mag in Israel en sy krag teen die vyande te toon, soos Hy ook vandag gedoen het.”
Oorwinning vir Israel en feesviering
12Toe die manne van haar stad haar stem hoor, het hulle hulle gehaas om af te gaan na die poort van hulle stad en hulle het die Oudstes van die stad bymekaargeroep. 13Almal van hulle het saamgestroom, van klein tot groot, want haar terugkeer was vir hulle ongelooflik. Hulle het die poort oopgemaak en hulle verwelkom. Hulle het vuur aangesteek om lig te maak, en toe het hulle rondom Judit en haar diensmeisie saamgedrom. 14Toe sê sy met 'n harde stem vir hulle: “Prys, ja, prys God! Prys God wat nie sy barmhartigheid aan die huis van Israel onttrek het nie, maar ons vyande vannag deur my hand vernietig het!” 15Toe haal sy die kop uit die reissak en wys dit en sê vir hulle: “Kyk, hier is die kop van Holofernes, opperbevelvoerder van die Assiriese leër, en kyk, die muskietnet waaronder hy in sy dronkenskap gelê het! Die Here het hom neergevel deur die hand van 'n vrou! 16So waar as die Here leef, wat my bewaar het op my pad wat ek geloop het: My voorkoms het hom verlei tot sy ondergang, sonder dat hy sonde met my gepleeg het tot my oneer en skande.” 17Die hele volk was heeltemal verbysterd. Hulle het neergebuig, God aanbid en met een stem gesê: “Lofwaardig is U, ons God, wat op hierdie dag van vandag die vyande van u volk tot niet gemaak het.” 18Toe sê Ussia vir haar: “Geseënd is jy, dogter, voor die Allerhoogste God, bo alle vroue wat op aarde is, en lofwaardig is die Here God, wat die hemele en die aarde geskep het, wat jou gelei het om die aanvoerder van ons vyande se kop af te kap. 19Want die hoop wat jy gekoester het, sal tot in ewigheid nie wyk uit die harte van mense wat die krag van God onthou nie. 20Mag God dit vir jou toestaan as 'n ewigdurende eer, om jou te beloon met goeie dinge, aangesien jy nie jou lewe in ag geneem het toe ons geslag verneder is nie, en jy ons ondergang gewreek het terwyl jy 'n reguit pad voor ons God geloop het.” En die hele volk het gesê: “Mag dit so wees! Mag dit so wees!”