1Die Israeliete wat in Judea gewoon het, het gehoor van alles wat Holofernes, die opperbevelvoerder van koning Nebukadnesar van die Assiriërs, aan die nasies gedoen het, en op watter manier hy al hulle heiligdomme geplunder en laat vernietig het. 2'n Ontsettende vrees vir hierdie man het hulle beetgepak en hulle was diep ontsteld oor Jerusalem en ook oor die •tempel van die Here hulle God. 3Hulle het immers kort tevore eers teruggekeer uit gevangenskap, en die hele volk van Juda het pas byeengekom en die tempelgerei, die altaar en die tempel weer gewy, nadat dit verontreinig was. 4Toe stuur hulle boodskappers na die hele gebied van Samaria en na Kona, Bet-Horon, Belmain en Jerigo, en na Goba, Aisora en die Vallei van Salem. 5Hulle het dadelik, as voorbereiding vir oorlog, die kruine van die hoë heuwels beset, die dorpe tussenin versterk en voorrade opgeberg – want die landerye was pas afgeoes. 6Die hoëpriester Jojakim, wat daardie tyd in Jerusalem was, het aan die inwoners van Betulua en Betomestajim, wat aan die kant van die vlakte Esdrelon naby Dotan geleë is, 7skriftelik opdrag gegee om die bergpasse te beset, aangesien hulle toegang verleen het tot Judea. Dit was maklik om diegene te keer wat daar wou opgaan, want die deurgang was smal, net wyd genoeg vir twee mans langs mekaar. 8Die Israeliete het gemaak soos die hoëpriester Jojakim en die Raad van Oudstes van die hele volk Israel, wat in Jerusalem vergader het, hulle beveel het. 9Toe het die hele Israel vurig en hardop geroep na God, en hulle met diepe erns verootmoedig. 10Hulle en hulle vroue en kinders en hulle vee, en elke •vreemdeling en huurarbeider en gekoopte slaaf, het rouklere om hulle heupe vasgemaak. 11Elke man en vrou en die kinders wat in Jerusalem gewoon het, het hulle voor die tempel neergewerp en as op hulle koppe gestrooi en hulle rouklere voor die aangesig van die Here oopgesprei. 12Hulle het ook die brandofferaltaar met growwe materiaal bedek en eendragtig en vurig tot die God van Israel geroep om nie hulle kindertjies uit te lewer om weggevoer te word, en hulle vroue om beroof te word, en die stede wat hulle geërf het om verwoes te word, en die heiligdom om verontreinig, beskimp en bespot te word deur die nasies nie. 13Die Here het hulle geroep gehoor en hulle benoudheid gesien; die volk in die hele Judea en in Jerusalem het baie dae lank voor die heiligdom van die Almagtige Here gevas. 14Ook die hoëpriester Jojakim en al die priesters wat voor die Here gestaan het en wat vir die Here diens gedoen het, het met rouklere om hulle heupe gebind die gereelde •brandoffer, die •gelofte-offers en die vrywillige offergawes van die volk geoffer. 15Daar was as op hulle tiaras, en hulle het met alle mag tot die Here geroep om guns te betoon aan die hele huis van Israel.