1Judit het toe op haar gesig neergeval, as op haar kop gestrooi en die roukleed wat sy aangehad het, afgestroop. Op dieselfde tyd as wat die •reukoffer vir daardie aand in Jerusalem in die huis van God gebring is, het Judit met 'n harde stem tot die Here geroep en gesê: 2“Here, God van my voorvader Simeon, vir wie U 'n swaard in die hand gegee het om wraak te neem op die vreemdelinge wat 'n maagd se skoot oopgemaak het om haar te verontreinig, haar dye ontbloot het om skande oor haar te bring en haar skoot besoedel het om haar te verneder – U het immers gesê, ‘Dit mag nie so wees nie,’ en tog het hulle dit gedoen. 3Daarom het U hulle heersers oorgegee om doodgemaak te word en om hulle bed – waarop ontering gepleeg is en waaroor skaamte gewek is – met bloed deurdrenk te laat word; U het slawe saam met eienaars doodgemaak, en ook maghebbers op hulle trone. 4U het hulle vroue oorgegee as buit, hulle dogters tot gevangenskap verdoem en al hulle oorlogsbuit gegee om verdeel te word onder u geliefde kinders wat met ywer vir U besiel was. Die kinders is met afgryse vervul oor die ontering van hulle bloed en het tot U geroep om hulp. O God, my God, luister tog na my, die weduwee! 5Want U het daardie dinge gedoen, sowel as die dinge daarvóór en daarná; U het die dinge beplan wat nou gebeur en dit wat nog kom. Wat U in gedagte gehad het, het plaasgevind, 6en die dinge waarop U besluit het, het te voorskyn gekom en gesê, ‘Hier is ons!’ want al u paaie is gereedgemaak, en u oordeel kom met voorkennis. 7Want kyk, die Assiriërs het vermenigvuldig deur hulle mag; hulle het roem verwerf deur hulle perde en ruiters, hulle het gespog met die mag van hulle voetsoldate, en hulle het vertroue gestel in skild, spies, boog en slingervel. Hulle het egter nie besef dat U die Here is wat oorloë beëindig nie. 8Here is u Naam! Verbreek U hulle mag deur u krag en verbreek hulle sterkte met u woede! Want hulle was van plan om u heiligdom te verontreinig, om die plek waar u heerlike Naam woon, te besoedel en om met die swaard die horing van u altaar af te kap. 9Kyk hoe verwaand is hulle, rig u woede teen hulle koppe; maak my hand, die hand van die weduwee, sterk vir wat ek beplan het! 10Tref deur die bedrog van my lippe die slaaf saam met die regeerder en die regeerder saam met sy ampsdraer; vernietig hulle verwaandheid deur die hand van 'n vrou! 11Want u mag setel nie in getalle nie, en u krag nie in menslike vermoë nie, maar U is die God van die nederiges, helper van die geringes, beskermer van die swakkes, verdediger van dié wat aan hulle lot oorgelaat is, redder van die wanhopiges. 12Ja, waarlik, God van my vader en God van die erfdeel van Israel, Here van die hemele en die aarde, Skepper van die waters, Koning van u ganse skepping – luister tog na my smeekgebed 13en sorg dat my misleidende woord diegene verwond en skend wat erge dinge beplan het teen u verbond, teen u heilige woning, teen die piek van Sion en teen u kinders se woning. 14Bring insig by u hele nasie, ja, by elke stam, sodat hulle kan besef dat U God is, die God van alle mag en krag, en dat daar niemand anders as U is wat die geslag van Israel beskerm nie.”