Sofar se eerste betoog
1Sofar uit Naäma het hierop gereageer en gesê:
2“Moet 'n stortvloed woorde
onbeantwoord gelaat word,
of 'n loslippige man
gelyk gegee word?
3Sou jou leë praatjies mense laat swyg,
en sou jy die spot dryf
en niemand jou beskaam nie?
4Jy beweer, ‘My siening is suiwer,
ek is rein in u oë.’
5Maar, as God maar net sou praat,
sy mond teen jou oopmaak,
6jou die geheime
van die wysheid meedeel,
dat dit dubbele voordele bied,
dan sou jy besef dat God jou 'n deel
van jou sondeskuld laat vergeet.
7Kan jy die geheimenisse van God ontrafel,
of tot die volmaaktheid
van die Almagtige deurdring?
8Dit is hoër as die hemel –
wat kan jy vermag?
Dit is dieper as die •doderyk –
wat kan jy weet?
9Langer as die aarde
is die maat daarvan,
en breër as die see.
10As Hy verbygaan,
gee Hy prys of hou bymekaar;
en wie kan Hom keer?
11Want Hy is die een
wat vals mense ken
en onreg raaksien.
Sal Hy nie daaraan aandag gee nie?
12As iemand met 'n leë kop
verstand kon kry,
sou 'n wildedonkiehings
as 'n mens gebore kon word.
13“As jy maar net iemand was
wat jou hart daarop gerig het,
en jou handpalms na Hom
uitgestrek het!
14As daar onreg aan jou hande kleef,
raak ontslae daarvan!
Moenie ongeregtigheid
in jou tente laat woon nie!
15Want dan sal jy jou kop kan lig
sonder 'n skandvlek;
jy sal stewig staan en nie vrees nie.
16Ja, jy sal van teenspoed vergeet;
as water wat verbygevloei het,
sal jy daaraan dink.
17Die lewe sal hoër styg
as die middagson,
die donker sal soos die oggend wees.
18Jy sal geborge voel,
want daar is hoop.
Jy sal alles deurkyk
en veilig gaan slaap;
19jy sal gaan lê,
en niemand sal jou opjaag nie.
Baie mense sal jou guns soek.
20Maar die oë van goddeloses
raak dof
en die moontlikheid van ontvlugting
is vir hulle verlore;
hulle enigste verwagting
is om die asem uit te blaas.”