Verdere reëlings deur Nehemia
1In daardie tyd is daar ten aanhore van die volk voorgelees uit die •boekrol van Moses. Daar is toe ontdek dat daarin geskryf staan dat 'n Ammoniet of 'n Moabiet tot in ewigheid nie in die byeenkoms van God mag kom nie, 2omdat hulle die Israeliete nie met brood en water tegemoetgegaan het nie, en Bileam teen Israel gehuur het om hulle te vervloek, maar dat ons God die vervloeking in 'n seën verander het.
3Toe hulle die wet hoor, het hulle alle mense van ander afkoms uit Israel uitgesluit. 4Voor hierdie gebeure het Eljasib, die priester, wat oor die vertrekke van die huis van ons God aangestel is, 'n nabye familielid van Tobija, 5vir Tobija 'n groot vertrek ingerig waar die •graanoffers, die wierook en die tempeltoerusting voorheen opgeberg was, ook die tiendes van koring, •nuwe wyn en olie wat regtens die Leviete, die sangers en die poortwagte toegekom het, asook die •wydingsgeskenke vir die priesters.
6Terwyl dit alles gebeur het, was ek nie in Jerusalem nie, want in die twee-en-dertigste regeringsjaar van Artasasta, die koning van Babilonië, het ek na die koning gegaan. Ná verloop van tyd het ek by die koning verlof gevra 7en na Jerusalem gegaan. Toe ek agterkom watter kwaad Eljasib ten gunste van Tobija aangerig het deur vir hom 'n vertrek in te rig in die voorhowe van die huis van God, 8het dit my erg ontstel. Ek het al die huisraad van Tobija wat in die vertrek was, buite uitgegooi 9en opdrag gegee dat die vertrekke gereinig moet word. Toe het ek die toerusting van die huis van God en die graanoffers en wierook weer daar teruggeplaas.
10Ek het ook verneem dat die rantsoene van die Leviete nie gegee is nie, en dat hulle, die Leviete en die sangers wat moes diens doen, padgegee het, elkeen na sy grond. 11Ek het die gesagsdraers verwyt en gevra: “Waarom word die huis van God verwaarloos?” Toe het ek die Leviete byeengebring en hulle op hulle plekke laat aantree.
12Die hele Juda het die tiendes van koring, nuwe wyn en olie na die stoorkamers gebring. 13Ek het Selemja, die priester, Sadok, die skrifgeleerde, en Pedaja, een van die Leviete, oor die stoorkamers aangestel, en Ganan, seun van Sakkur, seun van Mattanja, as hulle regterhand, omdat hulle betroubaar geag is. Dit was hulle taak om die rantsoene aan hulle ampsgenote uit te deel.
14Dink hieroor aan my, my God, en moet tog nie my troue liefdesdiens uitwis wat ek in die huis van my God, en vir die diensbeurte daarvan, gedoen het nie.
Onderhouding van die Sabbat
15In daardie tyd het ek in Juda mense gesien wat op die Sabbat druiwe uittrap in parskuipe, en graangerwe inbring wat hulle op donkies gelaai het, ook wyn, druiwe, vye en allerhande ander vragte, en dit dan in Jerusalem inbring op die Sabbatdag. Ek het hulle dadelik tereggewys oor hulle verkoop van lewensmiddele. 16Die mense van Tirus wat in die stad woon, het vis en allerhande koopware ingebring en dit op die Sabbat verkoop aan die Judeërs – en dit in Jerusalem! 17Ek het die hoëlui van Juda verwyt, en vir hulle gevra: “Wat is hierdie bose ding wat julle aanvang? Julle ontheilig die Sabbatdag! 18Het julle voorouers nie net so gemaak nie? Ons God het al hierdie onheil toe oor ons en oor hierdie stad gebring. Julle vermeerder die toorngloed oor Israel deur die Sabbat te ontheilig.”
19Net toe dit voor die Sabbat donker geword het by die poorte van Jerusalem, het ek opdrag gegee, en die poortdeure is gesluit. Ek het ook opdrag gegee dat dit nie oopgemaak moes word tot ná die Sabbat nie, en van my werkers het ek by die poorte aangestel, sodat geen vrag op die Sabbatdag sou inkom nie. 20Toe het die handelaars en verkopers van allerhande koopware 'n paar keer buite Jerusalem oornag. 21Ek het hulle tereggewys en vir hulle gevra: “Waarom oornag julle langs die muur? As julle dit weer doen, sal ek julle laat verwyder.” Van toe af het hulle nie meer op die Sabbat gekom nie. 22Ek het toe vir die Leviete gesê dat hulle hulleself telkens moet reinig en die poorte moet kom bewaak, om sodoende die Sabbatdag heilig te hou.
Ook hieroor, my God, moet U tog aan my dink en besorg oor my wees, ooreenkomstig u oorvloedige troue liefde.
Huwelike met vreemde vroue
23Ook in daardie tyd het ek Judeërs gesien wat getroud was met vroue uit Asdod, Ammon en Moab. 24Die helfte van hulle kinders het Asdods gepraat. Hulle was nie in staat om Judees te praat nie, maar slegs die taal van een of ander volk. 25Ek het hulle verwyt, hulle vervloek, sommige van die mans geslaan en hulle hare uitgepluk. Ek het hulle by God besweer: “Julle mag nie julle dogters aan hulle seuns gee nie, en julle mag nie van hulle dogters as vroue neem vir julle seuns of vir julleself nie. 26Is dit nie op dieselfde wyse wat Salomo, die koning van Israel, gesondig het nie? Onder die talle nasies was daar nie 'n koning soos hy nie. Hy was die geliefde van sy God, en God het hom oor die hele Israel koning gemaak. Maar selfs vir hom het die vreemde vroue tot sonde verlei. 27Moet ons nou ook van julle hoor dat julle al hierdie verskriklike kwaad doen, ontrou is aan ons God deur getroud te wees met vreemde vroue?” 28Een van die seuns van Jojada, seun van Eljasib, die hoëpriester, was 'n skoonseun van Sanballat uit Goron. Ek het hom van my af weggejaag.
29Onthou hulle, my God, oor die besoedeling van die priesterskap en van die verbond van die priesterskap en die Leviete.
30Ek het die priesters en Leviete gereinig van alles wat vreemd is. Ek het diensbeurte opgestel vir die priesters en die Leviete, vir elkeen met die oog op sy dienswerk, 31en vir die lewering van hout op vasgestelde tye, en vir die lewering van die eerste vrugte.
Dink aan my, my God, tot my voordeel.