1'n Wyse regter sal sy volk opvoed
en die leierskap van 'n verstandige mens
sal ordelik wees.
2Soos die volk se regter,
so is ook sy amptenare,
en soos die stad se leier,
so is ook al sy inwoners.
3'n Onkundige koning
sal sy volk ten gronde laat gaan,
maar deur die insig van sy heersers
sal 'n stad bewoonbaar gemaak word.
4Die mag oor die aarde
is in die hande van die Here,
en Hy sal 'n geskikte persoon
vir 'n bepaalde tyd daaroor aanstel.
5'n Mens se voorspoed
is in die hande van die Here,
en Hy sal aan 'n skrifkenner
sy eer skenk.
6Moenie vir jou naaste kwaad wees
oor elke oortreding nie,
en moet glad nie vermetel optree nie.
7Verwaandheid is haatlik
vir die Here en vir die mens,
en vir albei is onreg verfoeilik.
8Heerskappy word van een
nasie na 'n ander oorgedra
vanweë onreg, hoogmoed en geld.
9Waarom is die mens,
wat net stof en as is, verwaand?
Sy ingewande verrot immers
terwyl hy nog leef.
10'n Lang siekte spot met die dokter –
vandag is hy koning,
môre is hy dood.
11Want wanneer 'n mens sterf,
sal kruipende en wilde diere
en wurms sy deel word.
12Die begin van die mens se hoogmoed
is om die Here te versaak;
sy hart het dan sy Skepper versaak.
13Want die begin van
hoogmoed is sonde,
en hulle wat daarin volhard,
sal 'n gruwel laat opborrel.
Daarom stuur die Here ongekende ellende
en vernietig Hy hulle heeltemal.
14Die Here werp die trone
van die heersers omver
en Hy stel nederiges aan in hulle plek.
15Die Here ruk die nasies se wortels uit
en Hy plant ootmoediges in hulle plek.
16Die Here verwoes die
grondgebied van die nasies
en vernietig dit tot in
die fondamente van die aarde.
17Hy verdryf en roei sommige
van die nasies uit
en wis hulle nagedagtenis uit op aarde.
18Verwaandheid pas nie vir mense nie,
ook nie onbeteuelde woede vir hulle
wat uit 'n vrou gebore is nie.
19Watter soort nageslag is geëerd?
Die menslike nageslag.
Watter soort nageslag is geëerd?
Hulle wat vir die Here ontsag het.
Watter soort nageslag is nie geëerd nie?
Die menslike nageslag.
Watter soort nageslag is nie geëerd nie?
Hulle wat die gebooie oortree.
20Onder broers is hulle leier geëerd,
en hulle wat vir die Here ontsag het,
is geëerd in sy oë.
22Die ryke en die geëerde en die arme,
hulle roem bestaan in ontsag
vir die Here.
23Dit is nie reg om 'n verstandige,
arm mens se eer te ontneem nie,
ook is dit nie gepas
om 'n sondige mens te vereer nie.
24'n Maghebber en 'n regter
en 'n heerser sal geëer word,
maar nie een van hulle is groter
as hy wat ontsag het vir die Here nie.
25Mense wat vry is,
sal 'n wyse huisbediende bedien
en 'n verstandige mens
sal nie daaroor murmureer nie.
26Moenie jou probeer slim hou
as jy jou werk doen nie,
en moenie op jouself roem
in die tyd van jou benouing nie.
27Iemand wat werk
en in alles oorvloed het,
is beter as een wat rondloop
en spog, maar broodgebrek ly.
28Kind, toon in beskeidenheid
agting vir jouself
en skat jouself na waarde.
29Wie sal iemand regverdig ag
wat homself te na kom?
Wie sal iemand eer
wat sy lewe minag?
30'n Arm man word geëer
oor sy kennis,
maar 'n ryke word geëer
op grond van sy rykdom.
31Hy wat in sy armoede geëer word –
hoeveel te meer as hy ryk was?
En hy wat in sy rykdom
nie geëer word nie –
hoeveel te meer as hy arm was?