1Moenie 'n veelheid nuttelose
kinders begeer nie,
en moenie verheug wees
oor goddelose seuns nie.
2As hulle meer word,
moet jy nie oor hulle verheug wees nie,
tensy die ontsag vir die Here
met hulle is.
3Moenie jou vertroue
op hulle lewe stel nie
en moenie op hulle veelheid
ag slaan nie.
Want een is beter as duisend
en om kinderloos te sterf,
beter as om goddelose kinders te hê.
4Want deur een verstandige
kan 'n stad bevolk word,
maar 'n stam van wetteloses
sal dit verlate maak.
5Baie sulke dinge het my oog gesien;
selfs gewigtiger dinge as dit
het my oor gehoor.
6In 'n vergadering van sondaars
sal 'n vuur ontsteek word,
en in 'n ongehoorsame nasie
ontbrand toorn.
7Die Here het nie versoening
bewerk vir die reuse van ouds nie,
hulle wat in opstand gekom het
deur hulle mag.
8Hy het nie die bure van Lot
gespaar nie,
wat Hy verafsku het
as gevolg van hulle hoogmoed.
9Hy het nie medelye betoon
met 'n nasie gedoem tot uitwissing –
die mense wat weggevoer is
as gevolg van hulle sonde –
10en so ook nie met
seshonderdduisend voetsoldate
wat in hulle hardkoppigheid
versamel is nie.
11Selfs al is daar net een
hardnekkige persoon
sal dit 'n wonder wees
as hy ongestraf bly.
Want ontferming en toorn is by Hom,
'n versoenende Heerser
wat ook toorn uitgiet.
12So oorvloedig soos sy ontferming,
so oorvloedig is sy teregwysing.
Hy sal 'n mens volgens sy dade oordeel.
13'n Sondaar sal nie met sy buit wegkom nie,
en die volharding van die godvresende
sal beslis nie tekortskiet nie.
14Hy sal ruimte skep vir elke
barmhartige daad;
elkeen sal ontvang
ooreenkomstig sy dade.
17Moenie sê nie:
“Ek sal my vir die Here verberg,
en wie, uit die hoogte, sal my onthou?
Onder 'n groot aantal mense
sal ek beslis nie bekend wees nie.
Want wat is my siel
in 'n onmeetlike skepping?”
18Kyk, die hemel, en die hemel
van die hemele,
die onpeilbare diepte
en die aarde sal geskud word met sy besoeking.
19Tesame word die berge
en die fondamente van die aarde
al trillend geskud wanneer
Hy hulle aanskou.
20Ja, daaroor sal die hart
nie kan nadink nie
en sy weë, wie sal dit kan bepeins?
21En daar is 'n storm
wat 'n mens nie sal raaksien nie,
en die meeste van sy dade
is in die geheim.
22Dade van geregtigheid,
wie sal dit aankondig,
of wie sal daarop wag?
Die verbond is immers ver weg.
23Wie sonder begrip is,
bedink sulke dinge,
en 'n dwase en misleide mens
dink na oor dwase dinge.
24Luister na my, kind,
en verkry kennis,
en slaan van harte ag op my woorde.
25Ek sal volgens die norm onderrig gee,
en kennis met presiesheid weergee.
26Deur die beslissing van die Here
is sy werke van die begin af daar,
en toe Hy hulle gemaak het,
het Hy hulle grense bepaal.
27Hy het sy werke vir altyd georden
en hulle magsgebiede geslagte lank.
Hulle het nóg honger gely,
nóg moeg geword,
en ook nie hulle funksies versaak nie.
28Nie een het die ander verdruk nie
en hulle sal nooit sy opdrag
verontagsaam nie.
29En hierna het die Here
die aarde beskou
en dit met goeie dinge gevul.
30Hy het die oppervlak daarvan
bedek met die siel
van elke lewende wese
en daarheen keer hulle terug.