1Kind, as jy die Here nader
om Hom te dien,
berei jou voor om getoets te word.
2Rig jou hart op die regte pad
en volhard;
moenie ongeduldig wees
in tye van swaarkry nie.
3Verbind jou aan Hom
en moet Hom nie versaak nie,
sodat jy tot aan jou einde kan groei.
4Aanvaar alles wat oor jou
gebring word.
Onder vernederende omstandighede
moet jy geduldig wees,
5want goud word deur vuur gelouter,
en aanvaarbare mense deur
die oond van vernedering.
6Glo in Hom en Hy sal jou help;
maak jou paaie reguit en hoop op Hom.
7Wag op sy ontferming,
julle wat vir die Here ontsag het,
en moenie afwyk nie,
sodat julle nie struikel nie.
8Vertrou op Hom,
julle wat vir die Here ontsag het,
dan sal julle beslis nie julle
beloning verbeur nie.
9Hoop vir die goeie,
julle wat vir die Here ontsag het,
ja, op ewige vreugde en genade.
10Kyk na die geslagte van ouds
en let op:
Wie het in die Here geglo
en is beskaam?
Of wie het volhard om aan Hom
ontsag te betoon,
maar is in die steek gelaat?
Of wie het Hom aangeroep,
vir wie Hy dan verontagsaam het?
11Want die Here is vol deernis
en ontferming,
ja, Hy vergewe sondes
en red in 'n tyd van verdrukking.
12Wee dié met bang harte
en slap hande
asook die sondaars
wat dubbelhartig leef.
13Wee die mens
met 'n lamsakkige hart,
want hy glo nie;
daarom sal hy geen beskerming
geniet nie.
14Wee julle
wat die moed verloor het
om te volhard;
wat sal julle doen wanneer
die Here julle kom ondersoek?
15 Wie vir die Here ontsag het,
sal sy woorde nie verontagsaam nie,
en hulle wat Hom liefhet,
sal sy paaie bewaar.
16Wie vir die Here ontsag het,
sal daarna streef om Hom
tevrede te stel –
ja, hulle wat Hom liefhet,
sal met die Wet vervul word.
17Wie vir die Here ontsag het,
sal hulle harte voorberei
en sal hulle siele
voor Hom verneder.
18Mag ons in die hande
van die Here val
en nie in die hande
van mense nie!
Want net soos sy majesteit,
so ook is sy ontferming.