1Kind, het jy gesondig?
Moet dit nie meer doen nie,
en bid oor jou vorige sondes.
2Vlug van die sonde,
soos voor 'n slang,
want as jy nader gaan,
sal hy jou pik;
sy tande is soos leeutande
wat mense se lewens verwoes.
3Soos 'n tweesnydende swaard
is alle wetteloosheid;
vir die wond wat hy toedien,
bestaan daar geen genesing nie.
4Paniek en oormoed
sal rykdom vernietig;
so sal die huishouding
van 'n hoogmoedige vernietig word.
5Die gebed van 'n arme gaan
uit sy mond tot God se ore,
en sy beslissing kom spoedig.
6Iemand wat vermaning verafsku,
volg in die voetstappe van 'n sondaar,
maar hy wat ontsag het vir die Here,
sal 'n hartsverandering ondergaan.
7Bekend van ver af is hy
wat magtig van tong is,
maar hy wat insig het,
weet wanneer hy 'n fout begaan.
8Hy wat sy huis oprig
met ander se geld,
is soos een wat klippe versamel
teen 'n winterstorm.
9'n Versameling wetteloses
is saamgebinde vlas,
en hulle uiteinde is 'n vlam van vuur.
10Die pad van sondaars
is met klippe uitgeplavei,
maar aan die einde daarvan
is die put van Hades.
11Wie die wet bewaar,
is in beheer van sy denke,
en die uiteinde van die ontsag
vir die Here is wysheid.
12Wie nie slim is nie,
sal nie onderrig word nie,
maar daar is 'n slimheid
wat bitterheid vermeerder.
13'n Wyse se kennis sal
vermeerder soos 'n watervloed
en sy raad is soos 'n fontein van lewe.
14Die binneste van 'n dwaas
is soos 'n stukkende houer
en hy sal geen kennis behou nie.
15'n Wyse woord –
as 'n verstandige mens dit hoor,
sal hy dit aanprys en daarop uitbrei.
Hy wat uitspattig leef, hoor dit,
en is ontevrede daarmee,
en hy werp dit weg agter sy rug.
16Die stories van 'n dwaas
is soos 'n las op jou pad,
maar op die lippe
van 'n verstandige mens
sal innemendheid gevind word.
17Die mond van 'n verstandige
mens sal in die volksvergadering
gesoek word,
en die vergadering sal sy woorde
in hulle harte oordink.
18Soos 'n huis wat verwoes is,
so is wysheid vir 'n dwaas,
en 'n onkundige persoon se
kennis is onsinnige woorde.
19Opvoeding is vir 'n onverstandige mens boeie aan sy voete,
en soos handboeie aan sy regterhand.
20'n Dwaas verhef sy stem
wanneer hy lag,
maar 'n verstandige mens swyg
en glimlag skaars.
21Soos 'n goue ornament
is opvoeding
vir 'n verstandige persoon,
en soos 'n armband om die regterarm.
22Die voet van 'n dwaas
is haastig om 'n huis te betree,
maar 'n ervare mens sal beskeie
buite wag.
23'n Onverstandige loer
van die deur af by 'n huis in,
maar 'n opgevoede mens
sal buite staan.
24Dit dui op 'n gebrek aan
opvoeding vir 'n mens
om by die deur te staan en luister,
en 'n verstandige mens sal dit
as oneer ervaar.
25Die lippe van vreemdes
sal oor hierdie dinge uitwei,
maar die woorde van verstandige
persone sal op 'n skaal geweeg word.
26In die mond van dwases is hulle hart,
maar die hart van wyses, is hulle mond.
27Wanneer 'n goddelose
die teenparty vervloek,
vervloek hy sy eie siel.
28Hy wat fluister, besmet sy eie siel,
en hy sal gehaat word in die buurt.