1Oor hom wat ontsag het vir die Here
sal geen onheil kom nie,
maar wanneer hy in versoeking kom,
sal hy telkens weer verlos word.
2'n Wyse man sal die wet nie haat nie,
maar hy wat skynheilig daaroor is,
is soos 'n boot in 'n storm.
3'n Verstandige mens
sal op die wet vertrou,
en die wet is vir hom betroubaar
soos 'n raadpleging van die orakel.
4Berei 'n voordrag voor
en so sal jy gehoor word;
verbind jou aan onderrig
en gee 'n antwoord.
5Die emosies van 'n dwaas
is soos 'n wawiel,
en sy argument is soos 'n draaiende as.
6'n Teelhings is soos
'n spottende vriend;
onder elkeen wat op hom sit, runnik hy.
7Waarom oortref een dag 'n ander
terwyl al die daglig in die jaar
van die son af kom?
8Deur die kennis van die Here
is hulle afgebaken,
en Hy het seisoene en feeste
verskillend gemaak.
9Sommige van hulle het Hy
verhef en geheilig,
en ander van hulle het Hy
as gewone dae gestel.
10En alle mense is uit die grond,
en uit die aarde is Adam geskep.
11In die volheid van sy kennis
het die Here hulle afgebaken,
en hulle paaie verskillend gemaak.
12Sommige van hulle het Hy geseën en verhoog,
en van hulle geheilig en naby Hom gebring;
ander van hulle het Hy vervloek en verneder,
en hulle uit hulle posisies verwyder.
13Soos klei in die hand
van die pottebakker,
so is mense in die hand van Hom
wat hulle gemaak het,
om hulle te beloon volgens sy oordeel,
want al God se paaie is ooreenkomstig sy goeddunke.
14Teenoor die kwaad is die goeie
en teenoor die dood, die lewe,
en net so teenoor 'n godvresende, 'n sondaar.
15Kyk ook so na al die werke
van die Allerhoogste,
twee-twee, die een teenoor die ander.
16En as die laaste een het ek wag gehou,
soos een wat agter
die druiweplukkers opruim.
17Deur die seën van die Here
het ek eerste aangekom,
en 'n wynvat gevul
soos 'n druiweplukker.
18Neem kennis dat ek nie slegs
vir myself geswoeg het nie,
maar ook vir almal
wat opvoeding nastreef.
19Luister na my,
maghebbers van die volk,
en leiers van die volksvergadering, gee aandag.
20Moenie aan seun en vrou,
aan broer en vriend,
gesag oor jou gee in jou leeftyd nie,
en moenie jou besittings
aan 'n ander gee,
sodat jy dit met berou terugvra nie.
21Solank jy nog leef
en daar asem in jou is,
moet jy jouself nie met enige mens laat uitruil nie.
22Want dit is beter dat jou kinders van jóú vra,
as dat jy na die hande
van jou seuns moet kyk.
23Wees soos een wat uitblink
in al jou werke
en laat geen vlek toe
op jou reputasie nie.
24Op die dag van die voltooiing
van jou lewensdae,
en ten tye van jou dood,
moet jy jou erflating verdeel.
25Voer en 'n stok en vragte
vir 'n donkie,
brood en onderrig en werk
vir 'n huisbediende.
26Hou jou kneg aan die werk,
en jy sal rus vind;
maak sy hande los
en hy sal vryheid soek.
27'n Juk en 'n sweep
sal 'n nek buig,
en vir 'n slegte huisbediende
is daar marteltuie en folteringe.
28Steek hom in die werk,
sodat hy nie ledig rondsit nie,
want ledigheid leer 'n mens baie euwels.
29Steek hom in die werk
soos dit vir hom gepas is,
en as hy nie gehoorsaam is nie,
maak sy voetboeie swaar.
30En moenie oordrewe reageer
op enige mens nie,
en moet niks doen sonder oorleg nie.
31As jy 'n huisbediende het,
laat hy net soos jy wees,
want met bloed het jy hom verkry.
32As jy 'n huisbediende het,
behandel hom soos 'n broer,
want jy sal hom nodig kry
soos jy jouself nodig het.
33As jy hom mishandel en hy jou verlaat en weghardloop,
op watter pad sal jy hom soek?