1'n Onverstandige mens
het leë en valse hoop,
en drome maak dwase opgewonde.
2Soos een wat probeer
om skaduwees te gryp en wind najaag,
so is hy wat ag slaan op drome.
3'n Verskyning in drome
is 'n blote refleksie,
'n gesig wat terugkyk na sy eie beeld.
4Wat sal rein gemaak kan word
uit iets •onreins?
En wat sal waar kan wees
uit iets vals?
5Waarsêery en voortekens,
asook drome, is onwerklik,
en die hart fantaseer soos dié
van 'n vrou in barensnood.
6Behalwe as dit deur
die Allerhoogste gestuur is,
deur 'n besoeking,
moet jy nie jou hart vir hulle gee nie.
7Want drome het baie mislei,
en dié wat op hulle gehoop het,
het tot 'n val gekom.
8Sonder valsheid sal die wet
vervul word,
en wysheid is volmaak
in 'n betroubare mond.
9'n Mens wat rondgereis het,
weet baie,
en iemand met veel ervaring,
sal met insig kan vertel.
10Wie geen ervaring het nie,
weet min,
maar hy wat rondgereis het,
sal sy vernuftigheid laat toeneem.
11Ek het baie dinge gesien
in my omswerwinge,
en meer as wat my woorde
kan sê, is my insig;
12dikwels was ek in lewensgevaar,
en is ek gered as gevolg hiervan.
13Die gees van hulle wat ontsag het vir die Here sal leef,
want hulle hoop is gevestig
op die Een wat hulle kan red.
14Wie ontsag het vir die Here
sal vir niks bevrees wees nie,
en hy sal beslis nie terugdeins nie,
want die Here is sy hoop.
15Gelukkig is die mens
wat ontsag het vir die Here;
op wie is hy gerig?
En wie is sy steun?
16Die oë van die Here
is op hulle wat Hom liefhet;
Hy is 'n sterke skild
en 'n kragtige steunpilaar:
'n beskutting teen skroeiende hitte
en 'n beskutting teen die middagson,
'n wag teen struikeling
en 'n hulp om nie te val nie.
17Hy is die Een wat die siel ophef en die oë verlig,
wat gesondheid, lewe en seën verskaf.
18Wanneer iemand 'n offerande
bring wat uit onreg verkry is,
is dit 'n besoedelde een,
en die geskenke van wetteloses
is nie aanvaarbaar nie.
19Die Allerhoogste is nie tevrede met die offerandes van goddeloses nie,
ook versoen Hy nie sondes
weens 'n menigte offers nie.
20Wie 'n seun offer voor sy vader,
is hy wat 'n offer bring
uit die besittings van die armes.
21Brood is 'n lewensaar vir die armes;
hy wat dit weerhou, is 'n mens
wat bloed vergiet.
22Wie lewensmiddele wegneem
van sy naaste, vermoor hom,
en wie die loon van 'n huurarbeider
terughou, vergiet bloed.
23Een persoon bou
en 'n ander breek af –
wat het dit vir hulle
meer opgelewer as moeite?
24Een persoon bid
en 'n ander vervloek –
na wie se stem
sal die Here luister?
25Wanneer iemand hom was
nadat hy 'n lyk aangeraak het,
en hy dit dan weer aanraak,
watter nut was daar in sy wassing?
26So is 'n mens as hy vas
ter wille van sy sondes,
en hy gaan en doen weer
dieselfde dinge –
wie sal na sy gebed luister,
en wat het hy gebaat
deur homself te verneder?