1Die uitsondering is hy
wat homself toewy aan
en nadink oor die wet
van die Allerhoogste.
Hy sal die wysheid van al die
mense van die ou tyd naspeur,
en met profesieë besig wees.
2Hy sal die verhale van
beroemde mense bewaar,
en insig verkry in die nuanses
van gelykenisse.
3Hy sal die verborge betekenisse
van spreuke uitpluis,
en met die raaisels
van gelykenisse besig wees.
4Hy sal onder maghebbers dien
en voor leiers verskyn.
Hy sal reis in die lande
van vreemde nasies,
want hy het goed en kwaad
onder mense ervaar.
5Hy sal sy lewe daaraan wy
om vroeg op te staan,
om die Here wat hom
gemaak het, te nader,
en hy sal voor die Allerhoogste bid,
en hy sal sy mond oopmaak in gebed,
en oor sy sondes sal hy bid.
6As die magtige Here wil,
sal hy vervul word
met 'n gees van insig.
Hy sal die woorde van sy
wysheid laat uitstroom,
en in gebed sal hy die Here bely.
7Die Here sal sy raad en kennis rig,
en hy sal oor sy verborge dinge nadink.
8Hy sal die dissipline van sy
onderrig aan die lig bring,
en in die wet van die Here
se verbond sal hy roem.
9Baie sal sy insig prys,
en tot in ewigheid sal dit
nie uitgewis word nie;
sy nagedagtenis sal nie vervaag nie,
en sy naam sal van geslag
tot geslag voortleef.
10Nasies sal vertel van sy wysheid,
en die volksvergadering
sal sy lof verkondig.
11As hy volhard, sal hy 'n naam
groter as 'n duisend agterlaat,
en as hy tot rus kom,
sal dit tot sy voordeel wees.
Lof oor die skepping
12Nadat ek weer nagedink het,
het ek nog om te vertel –
ek is gevul soos die volmaan.
13Luister na my, heilige seuns,
en bloei soos 'n oleander
wat langs 'n waterstroom groei.
14En stuur 'n soet geur uit
soos wierook,
en bring 'n bloeisel voort
soos 'n narsing.
Versprei julle geur
en hef 'n loflied aan,
en prys die Here vir al sy werke.
15Verleen majesteit aan sy Naam
en bely Hom met lof,
met liedere op die lippe
en met die lier;
dit sal julle belydenis wees:
16“Al die werke van die Here –
hulle is baie goed
en elke bevel sal op sy tyd
uitgevoer word.
Dit is ongeoorloof om te vra,
‘Wat is dit? Waarvoor is dit?’
Alles sal immers op sy tyd
ondersoek word.
17Deur sy woord het die water
opgespring soos 'n kolom
en deur 'n woord van sy mond
het opgaarputte vol water ontstaan.
18Al sy goedgesindheid
lê opgesluit in sy gebod,
en daar is niemand wat sy
redding kan verminder nie.
19Die werke van elke mens
is voor Hom,
en dit is nie moontlik om van
sy oë weg te kruip nie.
20Van geslag tot geslag
het Hy toegekyk,
en niks is wonderbaarlik voor Hom nie.
21Dit is ongeoorloof om te vra,
‘Wat is dit? Waarvoor is dit?’
Want alles is geskep vir hulle eie doel.
22“Sy seën bedek soos 'n rivier,
en soos 'n vloed oorstroom
dit die dorre grond.
23So sal nasies sy toorn erf,
soos toe Hy soet water
in soutwater verander het.
24Sy paaie is reguit vir die heiliges;
net so is hulle struikelblokke
vir die wetteloses.
25Van die begin af is goeie
dinge geskep vir die goeies,
so ook slegte dinge vir die sondaars.
26Die basiese behoeftes
vir 'n mens se lewe
is water en vuur, en yster en sout,
en gesifte koringmeel,
en melk en heuning,
die sap van 'n druif,
en olie en kleding.
27Al hierdie dinge kom
die godvresendes ten goede;
net so sal dit vir die sondaars
ten kwade verander word.
28“Daar is winde wat geskep is
met die oog op vergelding,
en in hulle woede het hulle
hulle aanslae versterk;
in die voleindingstyd
sal hulle krag uitgiet,
en die toorn van Hom wat hulle
gemaak het, laat bedaar.
29Vuur en hael en hongersnood
en die dood,
al hierdie dinge is geskep
met die oog op vergelding –
30die tande van wilde diere
en skerpioene en adders,
en 'n swaard wat wraak neem
op die goddeloses en hulle vernietig.
31In sy gebod sal hulle hulle verbly,
en hulle sal voorberei word
vir diens op die aarde;
wanneer hulle tye aanbreek,
sal hulle nie sy woord
verontagsaam nie.”
32Daarom, van die begin af
is ek versterk,
en het ek nagedink en dit
op skrif gestel.
33Die werke van die Here
is almal goed,
en in elke behoefte sal Hy
op sy tyd voorsien.
34En dit is ongeoorloof om te sê:
“Hierdie dinge is slegter
as daardie dinge,”
want alles sal op die regte tyd
hoog geag word.
35En nou, met julle hele hart
en mond moet julle liedere sing,
en die Naam van die Here prys.