1Kind, moenie die arme
sy lewe ontneem nie;
moet ook nie behoeftige oë
wegwys nie.
2Moenie die een wat honger ly,
leed aandoen nie;
moet ook nie iemand
wat uitsigloos is,
kwaad maak nie.
3Moenie 'n vertoornde mens
verder ontstel nie;
moet ook nie 'n aalmoes
vir 'n behoeftige uitstel nie.
4Moenie iemand
wat in die moeilikheid is
en hulp vra, verwerp nie;
moet ook nie jou gesig wegdraai
van 'n arme nie.
5Van 'n behoeftige moet jy
jou oog nie wegkeer nie,
en moet geen mens
die geleentheid bied
om jou te vervloek nie,
6want as iemand jou vervloek
in die bitterheid van sy siel,
sal die Een wat hom
geskep het, sy versoek verhoor.
7Maak jouself geliefd
in die byeenkoms,
en verootmoedig jou
voor 'n maghebber.
8Neig jou oor tot 'n arme,
en antwoord hom vriendelik
en sagmoedig.
9Bevry die verontregte
uit die hand van die een
wat hom verontreg,
en moenie huiwer
wanneer jy oordeel nie.
10Wees vir weeskinders
soos 'n vader,
en wees soos 'n man
vir hulle moeder.
Dan sal jy wees soos 'n seun
van die Allerhoogste,
en Hy sal jou meer liefhê
as jou eie moeder.
Verwerwing van Wysheid
11Wysheid verhoog haar seuns
en ondersteun diegene
wat na haar soek.
12Die mens wat haar liefhet,
het die lewe lief,
en dié wat haar vroegdag opsoek,
sal met vreugde vervul word.
13Die mense wat haar beheers,
erf eer,
en waar sy ingaan,
seën die Here die huis.
14Die mense wat hulle aan haar wy,
dien die Heilige,
en die mense wat haar liefhet,
vir hulle is die Here lief.
15Wie haar gehoorsaam,
sal nasies oordeel,
en wie aan haar aandag skenk,
sal vol vertroue leef.
16As 'n mens haar vertrou,
sal hy haar erf,
en sy nageslag sal haar besit.
17Want aan die begin sal sy hom
krom paaie laat loop,
vrees en angs oor hom bring
en hom kasty met haar dissipline
totdat sy op sy siel kan vertrou;
sy sal hom toets met haar
voorskrifte.
18Dan sal sy weer met 'n reguit
pad na hom terugkom
en hom gelukkig maak;
sy sal aan hom haar geheime openbaar.
19As hy egter afdwaal,
sal sy hom verlaat
en hom oorgee aan die greep
van sy eie ondergang.
20Wag vir die geskikte geleentheid,
wees bedag op die kwaad
en moenie vir jouself skaam wees nie,
21want daar is 'n skaamte
wat aanleiding gee tot sonde,
en daar is 'n skaamte
wat eer en guns inhou.
22Moenie tot jou eie skade
partydig wees teenoor mense nie,
en moenie eerbied betoon
tot jou eie ondergang nie.
23Moenie 'n woord weerhou
wanneer die geleentheid dit vereis nie,
24want dit is deur die woord
dat wysheid geken sal word,
en opvoeding deur die woord
van die tong.
25Moenie die waarheid weerspreek nie,
en skaam jou oor jou onkunde.
26Moenie skaam wees
om jou sonde te erken nie,
en moenie teen die loop
van 'n rivier stry nie.
27Moenie jou aan 'n onnosele
onderwerp nie,
en moenie partydig wees
teenoor maghebbers nie.
28Veg tot die dood toe vir die waarheid,
en die Here God sal vir jou veg.
29Moenie met jou tong vermetel wees,
en lui en nalatig in jou dade nie.
30Moenie soos 'n leeu wees
in jou huis nie,
en moenie jou huisbediendes
teister nie.
31Laat jou hand nie uitgestrek
wees om te ontvang,
maar terughoudend om te gee nie.