1Moenie oor die volgende dinge
skaam wees nie,
en moenie partydig wees
en daardeur sondig nie:
2oor die Wet van die
Allerhoogste en sy verbond,
en oor die besluit om die
goddelose te regverdig,
3oor die rekening
van 'n metgesel en reisigers
en oor die verdeling
van vriende se erfdeel,
4oor die akkuraatheid
van 'n weegskaal en gewigte,
en oor die verkryging van baie of min,
5oor die wins van besigheid
met handelaars,
en oor die streng
dissiplinering van kinders,
en oor die trek van bloed
met sweepslae uit die sy
van 'n slegte huiskneg.
6In die geval van 'n slegte vrou
is dit goed om dinge te verseël,
en waar daar vele hande is,
moet jy toesluit.
7Wat jy ook al oorhandig,
in getal of gewig,
of gee of ontvang, skryf alles op.
8Moenie skaam wees
oor die dissiplinering
van 'n onverstandige
en van 'n dwaas,
en van 'n grysaard skuldig
teenoor jong mans nie;
dan sal jy werklik opgevoed wees
en elke lewende wese
se goedkeuring wegdra.
9'n Dogter is vir 'n vader
'n verborge bron van slapeloosheid
en besorgdheid oor haar
neem die slaap weg –
as sy jonk is,
dat sy nie die fleur
van haar jeug verloor nie,
en as sy getroud is,
dat sy nie gehaat word nie;
10as sy 'n maagd is,
dat sy nie onteer word
en swanger is in haar vader
se huis nie;
as sy by 'n man is,
dat sy nie oortree nie,
en as sy getroud is,
dat sy nie onvrugbaar sal wees nie.
11Oor 'n eiesinnige dogter
moet jy streng waak,
sodat sy nie voor jou vyande
van jou 'n gek maak nie –
die onderwerp word
van skinderpraatjies in die stad,
en opgeroep word
tot verhoor deur die volk –
en sy jou so voor 'n menigte
mense in die skande steek.
12Moenie na die skoonheid
van enige mens kyk nie;
moet ook nie in die midde
van vroue beraadslaag nie.
13Want uit klere kom 'n mot
te voorskyn
en uit 'n vrou die boosheid van 'n vrou.
14Beter is die boosheid van 'n man
as 'n vrou wat goed doen,
en as 'n vrou wat skandes
maak tot op die punt van belediging.
15Ek sal inderdaad die werke
van die Here onthou,
en wat ek gesien het,
sal ek oorvertel;
deur die woorde van die Here
het sy werke ontstaan.
16Die stralende son kyk af op alles,
en sy werk is vol van die glorie
van die Here.
17Die Here laat nie sy heiliges
toe om te vertel van al
sy wonders wat Hy, die Here,
die Almagtige, tot stand
gebring het nie,
sodat die heelal vas kan
staan in sy heerlikheid.
18Die onpeilbare diepte
en die hart ondersoek Hy,
en Hy oordink hulle slinkse planne,
want die Allerhoogste besit alle kennis,
en Hy sien die teken van die tye,
19terwyl Hy vertel oor wat
verbygegaan het en wat sal wees,
en spore van verborge dinge openbaar.
20Geen gedagte ontgaan Hom nie;
geen enkele woord is vir Hom
verborge nie.
21Die grootshede van sy
wysheid orden Hy,
aangesien Hy van voor alle tye
en tot in alle tye is.
Niks is tot Hom toegevoeg
of aan Hom verminder nie,
en Hy het geen raadgewer nodig nie.
22Hoe begeerlik is al sy werke,
en hulle is soos skitterende
vonke om te aanskou.
23Al hierdie dinge leef en duur
vir altyd binne hulle funksies,
en alles is gehoorsaam.
24Alles kom in pare,
die een teenoor die ander,
en Hy het niks onvolkome geskep nie.
25Een versterk die goeie
kenmerke van die ander,
en wie sal genoeg kry by die
aanskoue van sy glorie?