1Moet jou nie op jou rykdom
verlaat nie,
moet ook nie sê,
“Ek het genoeg” nie.
2Moenie aan jou siel
en jou krag toegee
om volgens die begeertes
van jou hart te leef nie.
3Moenie sê,
“Wie het mag oor my?” nie,
want die Here sal beslis
reg laat geskied.
4Moenie sê,
“Ek het oortree,
en wat het my oorgekom?” nie,
want die Here is geduldig.
5Moenie vreesloos wees
wat betref versoening
deur sonde by sonde te voeg nie.
6Moet ook nie sê,
“Sy ontferming is groot;
Hy sal my menigte sondes versoen” nie,
want medelye sowel as toorn
is by Hom te vinde,
maar op sondaars rus sy woede.
7Moenie wag om na die Here
terug te keer nie
en moet dit nie van dag tot dag
uitstel nie,
want die toorn van die Here
kan onverwags ontbrand
en in die tyd van vergelding
kan jy vernietig word.
8Moenie vertrou op rykdom
wat onregverdig verkry is nie,
want dit sal jou nie baat
op die dag van rampspoed nie.
9Moenie koring uitwan
in enige wind nie
en moet jou nie op enige
afdraaipad begewe nie,
soos die sondaar,
die een met twee tonge.
10Hou onwrikbaar vas aan jou insig
en laat jou woord eenduidig wees.
11Wees gou om te luister,
maar traag om te antwoord.
12As jy insig het, antwoord jou naaste;
indien nie, plaas jou hand
voor jou mond.
13Eer sowel as skande
kom deur dit wat gesê word,
en 'n mens se tong kan lei tot sy val.
14Moenie 'n kwaadprater
genoem word nie
en moenie met jou tong
valstrikke stel nie,
want op die dief wag daar skande
en op die een met twee tonge,
genadelose veroordeling.
15Moenie onkundig wees
in groot of klein sake nie,
en moenie 'n vyand wees
in plaas van 'n vriend nie,
want 'n slegte naam sal skande
en vernedering oor jou
laat kom,
soos gebeur met die sondaar,
die een met twee tonge.