Hy:
1Hoe mooi is jou voete in jou sandale,
dogter van 'n edele.
Die kurwes van jou heupe
is soos ornamente –
die werk van kunstenaarshande!
2Jou naeltjie is 'n ronde kelk –
mag dit vol kruiewyn bly.
Jou maag is 'n hopie koring,
met narsings omsoom.
3Jou borste is soos twee
jong bokkies,
die tweeling van 'n ribbokooi.
4Jou nek is soos 'n toring van ivoor,
jou oë soos die poele by Gesbon,
by die poort van Bat-Rabbim.
Jou neus is soos die toring
van Libanon wat uitkyk
oor Damaskus.
5Jou kop is soos Karmel,
jou los hare soos purperstof –
'n koning raak verstrengel in die lokke.
6Hoe mooi, hoe lieflik is jy,
liefling, hoe verruklik!
7Jou gestalte is soos 'n palmboom,
jou borste soos druiwetrosse.
8Ek het gedink:
Ek wil teen die palmboom opklim
en sy dadelpluime pluk.
Mag jou borste
soos trosse druiwe wees,
die geur van jou asem
soos appels,
9en jou mond
soos die beste wyn ...
Sy:
... wat glad vir my liefste vloei,
liggies oor die lippe
van slapendes gly.
10Ek behoort aan my liefste
en sy begeerte is na my.
11Kom, my liefste!
Kom ons gaan uit na die veld,
laat ons tussen die hennablomme oornag.
12Laat ons vroeg na die wingerde gaan,
gaan kyk of die wingerd bot,
of die botsels al oop is,
of die granaatbome in bloei staan.
Daar sal ek my liefde aan jou gee.
13Die alruin versprei sy geur
en voor ons deur is allerlei
heerlike vrugte van hierdie
en die vorige seisoen,
wat ek vir jou bewaar het,
my liefste.