Tobit 12
Rafael se identiteit
1Toe die •bruilofsfees verby was, het Tobit sy seun Tobias geroep en vir hom gesê: “Kind, sorg dat jy die man betaal wat saam met jou gegaan het en gee vir hom nog iets ekstra by sy vergoeding.” 2Tobias vra hom toe: “Hoeveel sal ek hom betaal, Vader? Dit sal my nie skade doen as ek vir hom die helfte van die besittings gee wat hy saam met my teruggebring het nie. 3Hy het my veilig laat terugkeer, my vrou genees, saam met my die geld teruggebring en u gesond gemaak. Hoeveel verdere vergoeding moet ek hom gee?” 4Tobit sê vir hom: “Kind, dit is reg dat hy die helfte kry van alles wat hy saamgebring het.” 5Tobias roep hom toe en sê vir hom: “Neem die helfte van alles wat jy saamgebring het as jou vergoeding. Reis veilig verder.”
6Toe het Rafael dié twee in die geheim geroep en vir hulle gesê: “Loof God en bely voor almal wat leef die goeie dinge wat Hy vir julle gedoen het, sodat julle sy Naam kan loof en besing. Maak die woorde van God eerbiedig aan alle mense bekend en moenie traag wees om Hom te bely nie. 7Dit is reg om 'n koning se geheim te bewaar, maar eweneens om die dade van God bekend te maak en eerbiedig te bely. Doen die goeie, en die slegte sal julle nie tref nie. 8Gebed met waarheid en die gee van aalmoese in opregtheid is goed – beter as rykdom met onreg. Dit is goed om aalmoese te gee – beter as om 'n skat van goud bymekaar te maak. 9Die gee van aalmoese red 'n mens uit die dood; dit reinig van alle sonde. Dié wat aalmoese gee, sal versadig word met die lewe, 10maar dié wat sonde en onreg doen, is vyande van hulle eie lewe.
11“Ek sal julle die volle waarheid vertel en hoegenaamd niks vir julle wegsteek nie. Ek het reeds vir julle aangedui, ‘Dit is reg om 'n koning se geheim te bewaar, maar dit is ook reg om die dade van God eerbiedig bekend te maak.’ 12Nou ja, toe jy gebid het, en Sara ook, was dit ek wat julle gebede ingeneem het na die heerlike teenwoordigheid van die Here sodat Hy dit in herinnering kon roep – ook toe jy die dooies begrawe het. 13En toe jy nie gehuiwer het om op te staan en jou ete daar te laat en die dooie man te gaan begrawe nie – toe is ek gestuur om jou te toets. 14God het my terselfdertyd gestuur om jou en Sara, Tobias se bruid, te genees. 15Ek is Rafael, een van die sewe engele wat by die Here diens doen en ingaan in sy heerlike teenwoordigheid.”
16Die twee was lam van skrik en het met hulle gesigte op die grond neergeval; hulle was bevrees. 17Maar Rafael het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie. Vrede vir julle. Loof God tot in alle ewigheid. 18Toe ek by julle was, was my aanwesigheid nie aan my te danke nie, maar aan die wil van God. Loof Hom al julle dae. Besing Hom! 19Alhoewel julle my die hele tyd gesien het, het ek tog nie iets geëet nie, maar wat julle die hele tyd gesien het, was 'n visioen. 20Loof nou die Here hier op aarde en bely God met dankbaarheid. Kyk, ek gaan terug na Hom wat my gestuur het. Skryf al die dinge neer wat met julle gebeur het.” En hy het opgevaar.
21Hulle het opgestaan en kon hom nie meer sien nie. 22Hulle het God geloof en geprys. Hulle het tot sy eer bely dat Hy hierdie groot dade verrig het – toe 'n engel van God aan hulle verskyn het.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.