Oorsprong en euwels van afgodery
1Daarom, alle mense by wie
daar onkunde oor God is,
is van nature dwase –
mense wat nie Hom wat Is
uit die sigbare goeie dinge
kon leer ken nie.
Ook het hulle nie die Ontwerper
van die werke wat hulle
bestudeer het, herken nie.
2Nee, hulle het vuur of wind
of vinnige lugstrome,
of die kringloop van sterre
of onstuimige water,
of die ligte aan die hemel,
as gode, as heersers
van die wêreld, beskou.
3As hulle, bekoor
deur die skoonheid
van hierdie dinge,
dit as gode aanvaar het,
dan moet hulle daaruit aflei
hoeveel beter die Here
daarvan is,
want Hy wat die dinge geskep het,
is die Oorsprong van die skoonheid.
4En as hulle stomgeslaan was
oor die mag en werking
van hierdie dinge,
moet dit hulle laat besef
hoeveel magtiger
die Maker daarvan is.
5Want ooreenkomstig
die grootheid en skoonheid
van die geskape dinge,
kan 'n mens 'n besef kry
van die Skepper daarvan.
6Nietemin moet ons
hierdie mense nie te veel blameer nie,
want hulle beland miskien
op 'n dwaalspoor
in hulle soeke na God
en hulle begeerte om Hom te vind.
7Terwyl hulle omring
van die werke van God leef
en dit noukeurig bestudeer,
vertrou hulle op hulle oë,
omdat wat hulle sien, mooi is.
8Maar weer is daar geen
verskoning vir hulle nie.
9Want as hulle soveel kon weet
dat hulle 'n beskouing
oor die wêreld kon vorm,
waarom het hulle die Here
van hierdie dinge
nie gouer gevind nie?
10En ook betreurenswaardig
is die mense wie se verwagtinge
op dooie dinge gerig is,
wat die werk van mensehande
gode noem –
kunstig gevormde goud en silwer,
afbeeldinge van lewende wesens,
of 'n nuttelose klip,
die handewerk van lank gelede.
11'n Houtwerker kan dalk
'n geskikte boom afsaag,
vaardig al die bas daarvan afstroop,
en die boomstomp kunstig afwerk
en tot 'n nuttige en alledaagse
gebruiksvoorwerp maak,
12en die stukkies hout wat van
sy handewerk oorbly,
gebruik ter voorbereiding
van sy kos,
waarvan hy versadig word,
13en daar bly dalk 'n nuttelose
stuk afvalhout oor,
krom en vol knoetse,
en hy neem dit en in sy vrye tyd
kerf hy dit sorgvuldig,
en met kundige ervaring
omskep hy dit tot 'n beeld
en vorm dit tot 'n beeld van 'n mens,
14of hy laat dit ooreenkom
met een of ander verfoeilike dier;
as hy dit met vermiljoen bestryk
en die oppervlak rooi kleur,
sal hy elke vlek daarop bedek.
15Daarna maak hy
'n gepaste nis daarvoor,
hang dit teen 'n muur
en beveilig dit met yster,
16sodat dit nie kan afval nie.
Dus tref hy voorsorg omdat
hy weet dat die beeld
nie homself kan help nie;
dit is immers net 'n beeld
en het hulp nodig.
17Maar as hy bid vir sy besittings
en sy huwelik en kinders,
dan skaam hy hom nie
om die lewelose voorwerp
aan te spreek nie,
en vir gesondheid roep hy
die magtelose voorwerp aan;
18vir lewe bid hy tot die dooie ding,
en vir hulp smeek hy 'n voorwerp
wat geheel en al onbevoeg is,
en vir 'n voorspoedige reis
'n voorwerp wat nie 'n tree
kan gee nie;
19en vir wins in die handel
en sukses op wat sy hande aanpak,
bid hy vir krag tot 'n voorwerp
waarvan die hande
totaal kragteloos is.