1Maar onbarmhartige toorn
het tot die einde toe
oor die goddeloses gekom,
want God het hulle toekoms
vooruit geken –
2dat hulle, nadat hulle
die Israeliete toegelaat het
om te vertrek
en selfs met haas weggehelp het,
van plan sou verander
en hulle sou agtervolg.
3Terwyl hulle nog smart beleef
en rou bedryf het
by die grafte van hulle dooies,
het hulle 'n verdere
dwase besluit geneem
en dieselfde mense wat hulle
smekend laat gaan het,
as voortvlugtiges agtervolg.
4'n Noodlot, wat hulle verdien het,
het hulle tot die uiterste gedryf,
en hulle alles laat vergeet
wat gebeur het,
sodat hulle nog die smarte kon ly
wat nodig was om die straf te voltooi,
5en u volk 'n wonderbaarlike
reis kon onderneem,
maar die vyande
'n vreemde dood sou ervaar.
6Want die ganse skepping is in sy aard
weer van voor af gevorm
in onderdanigheid aan u bevele,
sodat u kinders ongedeerd
bewaar kon word.
7Die wolk wat die laer oorskadu het,
en die verskyning van droë land
waar vroeër water was, is gesien –
'n pad wat sonder hindernisse
uit die Rooisee lei
en 'n grasvlakte
wat uit 'n geweldige vloedgolf
te voorskyn kom.
8Onder die beskutting van u hand
het die hele volk daarlangs deurgetrek,
nadat hulle verstommende
wondertekens aanskou het.
9Want hulle was soos perde wat wei
en soos lammers wat huppel
terwyl hulle U, Here, prys –
U wat hulle gered het!
10Want wat in die land
van hulle vreemdelingskap gebeur het,
het hulle nog onthou:
Hoe die land in plaas van vee
insekte voortgebring het,
en die rivier in plaas van visse
'n menigte paddas uitgespoeg het.
11Later het hulle die ontstaan
van 'n nuwe voëlsoort aanskou;
toe hulle deur hulle aptyt gedryf is
en gebid het vir lekkernye om te eet,
12het daar tot hulle troos
kwartels van die see af
vir hulle opgestyg.
13Maar strawwe het die sondaars oorval,
nie sonder die geweld
van donderweer vooraf
as waarskuwingstekens nie.
Hulle het hulle verdiende loon
vir hulle eie booshede gekry,
want hulle het inderdaad
'n ongekende vreemdelingehaat gekoester.
14Want daar was mense
wat die onbekendes
wat by hulle aangekom het,
nie ontvang het nie,
maar hierdie mense het hulle gaste,
wat hulle weldoeners was,
tot slawe gemaak.
15En nie alleen dit nie,
maar 'n straf sal hulle te beurt val,
aangesien hulle die vreemdelinge
vyandig ontvang het.
16Maar daar is diegene
wat hulle met feesvieringe ontvang het,
en toe hulle reeds gelyke regte gehad het,
hulle met dwangarbeid onderdruk het.
17Daarom is hulle
met blindheid geslaan,
net soos daardie mense
by die deure van die regverdige man,
toe hulle omgewe is
van gapende duisternis
en elkeen getas het
na die ingang van sy eie deur.
18Want die natuurelemente
het onderling verander,
net soos die snare op 'n harp
die melodielyn verander
terwyl elke snaar steeds
sy eie toon behou,
soos 'n mens kan aflei
uit 'n noukeurige
waarneming van wat gebeur het.
19Want landdiere
het in waterdiere verander,
en swemmende diere
het land toe gekom.
20Vuur het te midde van water
sy eie krag behou,
en water het sy blussende aard vergeet.
21Vlamme, weer, kon nie
die vlees van verganklike
wesens wat daarin
rondgeloop het, verteer nie,
en die substansie van hemelse
voedsel kon nie langer smelt
soos ys wat maklik smelt nie.
22Want in alle opsigte, Here,
het U u volk groot gemaak en verheerlik
en hulle nie in die steek gelaat nie,
deurdat U hulle te alle tye
en op alle plekke bygestaan het.