1Wysheid strek haar kragtig uit
van die een uiteinde tot die ander
en bestuur alle dinge voortreflik.
2Ek het haar liefgehad
en van my jeug af gesoek
en begeer om haar as bruid
vir myself te neem;
ek het 'n liefhebber geword
van haar skoonheid.
3Sy verleen glans
aan haar adellike afkoms
deur met God te leef,
en die Here oor alle dinge
het haar lief.
4Sy is immers 'n ingewyde
in die kennis van God
en sy maak 'n keuse uit sy werke.
5As rykdom 'n begeerlike
besitting in die lewe is,
wat is ryker as Wysheid
wat alles bewerkstellig?
6En as insig dinge tot stand bring,
wie is 'n groter ontwerper
van die bestaande dinge as sy?
7En as iemand geregtigheid liefhet –
die vrug van haar arbeid is deugde.
Sy leer mense immers soberheid
en insig,
geregtigheid en moed.
Niks in die lewe is vir mense
van groter waarde
as hierdie dinge nie.
8En as iemand ook sou strewe
na groter ervaring –
sy ken die verlede
en het 'n vermoede
van wat in die toekoms lê;
sy dra kennis van die nuanses
van woorde en die oplossing
van raaisels;
tekens en wonders ken sy vooraf,
en so ook die uitkomste
van seisoene en tye.
9Ek het daarom besluit
om haar te neem
om saam met my te leef,
in die wete dat sy vir my
'n raadgewer van goeie dinge sal wees
en 'n aansporing te midde
van sorge en smart.
10Deur haar sal ek aansien
verkry onder die menigtes,
en eer onder die ouer mans,
al is ek jonk.
11Ek sal skerpsinnig bevind
word in die oordeel,
en bewondering afdwing
in die oë van die magtiges.
12Wanneer ek swyg,
sal hulle wag,
en wanneer ek praat,
sal hulle aandag gee,
en as ek lank die woord voer,
sal hulle die hand op die mond lê.
13Deur haar sal ek
onsterflikheid besit
en 'n ewige herinnering nalaat
aan dié wat ná my kom.
14Ek sal volke regeer, en nasies
sal hulle aan my onderwerp.
15Skrikwekkende heersers
sal my vrees wanneer
hulle van my hoor;
onder die menigte sal ek my
as goeie koning bewys
en in die oorlog as dapper man.
16Wanneer ek by die huis aankom,
sal ek by haar rus vind,
want om saam met haar te verkeer,
bring geen verbittering mee nie,
en om saam met haar te leef,
ook nie droefheid nie,
slegs vreugde en blydskap.
17Dit het ek in my binneste oordink
en in my hart bepeins –
dat 'n verbintenis met Wysheid
onsterflikheid inhou,
18en vriendskap met haar
loutere genot meebring,
dat in die moeitevolle arbeid
van haar hande
onuitputlike rykdom lê,
dat insig gekweek word
wanneer 'n mens in haar
skool onderrig word,
en dat 'n roemryke naam verkry word
deur met haar gesprek te voer.
Ek het toe rondgegaan op soek
na 'n manier waarop ek haar
vir myself kon bekom.
19As kind was ek van nature skrander
en 'n goeie siel het my toegeval –
20en meer nog: omdat ek goed was,
het ek 'n vlekkelose liggaam bewoon.
21Omdat ek besef het dat ek haar
op geen ander manier
sou kon besit nie
tensy God haar skenk
– en dit was inderdaad 'n teken
eie aan insig om te weet
van wie die gawe kom –
het ek die Here genader,
tot Hom gebid,
en met my hele hart gesê: