Belofte van God aan Dawid
1Toe Dawid in sy huis gevestig was, het hy vir die profeet Natan gesê: “Kyk, ek woon in 'n huis van sederhout, maar die verbondsark van die Here staan onder tentdoeke.” 2Daarop het Natan vir Dawid gesê: “Alles wat u in gedagte het, doen dit, want God is met u.”
3Maar in daardie nag het dit gebeur – die woord van God het tot Natan gekom: 4“Gaan sê vir Dawid, my dienskneg, ‘So sê die Here: “Dit is nie jy wat vir my 'n huis sal bou om in te woon nie. 5Ek het, vanaf die dag dat Ek Israel laat optrek het uit Egipte tot vandag toe, mos nie in 'n huis gewoon nie. Ek was van die een tent na die ander, van die een woonplek na die ander. 6Het Ek ooit, oral waar Ek in die hele Israel rondgetrek het, met een van die rigters van Israel wat Ek aangestel het om my volk op te pas, die saak aangeroer en gesê, ‘Waarom het julle nie vir My 'n huis van sederhout gebou nie?’ 7Daarom, so moet jy sê vir my dienskneg, vir Dawid, “ ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Ek is die Een wat jou uit die weiveld agter die kleinvee weggeneem het om 'n leier te wees oor my volk Israel. 8Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en Ek het al jou vyande voor jou uitgeroei. Ek sal vir jou 'n naam maak soos die naam van die grotes wat op aarde is. 9Ek sal vir my volk Israel, 'n plek aanwys; Ek sal hom plant, en hy sal op sy plek woon en nie weer beef van angs nie. Skurke sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie, 10soos van die tyd af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. Ek sal al jou vyande verneder. Ek maak aan jou bekend dat die Here 'n huis vir jou sal oprig. 11Wanneer jou tyd aangebreek het om na jou voorvaders te gaan, sal Ek jou nakomeling ná jou, een van jou eie seuns, na vore laat tree, en Ek sal sy koningskap vestig. 12Hy is die een wat vir My 'n huis sal bou, en Ek sal sy troon vir altyd laat vasstaan. 13Ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir My 'n seun wees. My troue liefde sal Ek nie aan hom onttrek soos wat Ek dit aan jou voorganger onttrek het nie. 14Ek sal hom vir altyd in my huis en koninkryk aanstel, en sy troon sal altyd bestendig wees.” ’ ”
15Ooreenkomstig al hierdie woorde en hierdie hele onthulling, presies so het Natan die boodskap aan Dawid oorgedra.
Dawid se gebed
16Koning Dawid het toe ingegaan en voor die Here gaan sit. Hy het gesê:
“Wie is ek, Here God;
en wie is my huis
dat U my tot hier gebring het?
17En asof dit nie genoeg is
in u oë nie, o God,
het U ook oor die huis
van u dienskneg gepraat,
tot in die verre toekoms;
ja, U het my vorentoe gesien
as 'n dinastie, Here God.
18Maar wat kan Dawid verder
vir U sê oor die eerbewys
aan u dienskneg?
U ken self u dienskneg.
19Here, ter wille van u dienskneg,
en volgens u wil
het U hierdie hele groot saak
uitgevoer,
om so al die grootse dade
bekend te maak.
20Here, daar is niemand
soos U nie.
Daar is geen God behalwe U nie,
volgens alles wat ons
met ons eie ore gehoor het.
21En wie is soos u volk Israel –
die enigste nasie op aarde
van wie dit geld dat God gegaan het
om hulle vir Homself vry te koop
as 'n volk,
en om vir U naam te maak
deur grootse en wonderlike dade,
om nasies te verdryf voor u volk
wat U uit Egipte vrygekoop het?
22U het u volk Israel vir U
as 'n volk bestem vir altyd,
en U, Here, het hulle God geword.
23Here, doen dan nou
die woord gestand
wat U gespreek het
oor u dienskneg en sy huis,
laat dit altyd vasstaan.
Doen wat U gesê het,
24sodat dit sal vasstaan,
en u Naam vir ewig groot sal wees,
en daar gesê sal word,
‘die Here, Heerser oor alle magte,
die God van Israel, is God vir Israel,’
en sodat die huis
van u dienskneg Dawid
bestendig sal wees voor U.
25Want U, my God, het aan
u dienskneg geopenbaar
dat U vir hom 'n huis sal bou.
Daarom het u dienskneg
dit moontlik gevind
om voor U te bid.
26En nou, Here, U is God;
U het hierdie goeie woord
oor u dienaar uitgespreek.
27U het nou besluit om die huis
van u dienskneg te seën
sodat dit vir altyd voor U sal wees.
Omdat U, Here, dit geseën het,
is dit vir altyd geseën.”