Geskiedenis van Israel se opstand
1Dit was op die tiende dag van die vyfde maand in die sewende jaar. Manne uit die oudstes van Israel het gekom om die Here te raadpleeg. Hulle het voor my gaan sit. 2Die woord van die Here het tot my gekom: 3“Mensekind, praat met die oudstes van Israel; sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Is dit om My te raadpleeg dat julle gekom het? So seker as wat Ek leef, Ek laat My nie deur julle raadpleeg nie.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’
4“Sal jy oor hulle regspreek, mensekind, sal jy regspreek? Die afstootlike optrede van hulle voorouers, maak dit aan hulle bekend. 5Jy moet vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Die dag toe Ek Israel gekies het, het Ek my hand opgehef vir die nageslag van die huis van Jakob, en My aan hulle bekend gestel in Egipteland. Ek het my hand opgehef en gesê, ‘Ek, die Here, is julle God!’ 6Op daardie dag het Ek my hand vir hulle opgehef dat Ek hulle uit Egipteland sal uitlei na 'n land wat Ek vir hulle uitgesoek het, 'n land wat oorloop van melk en heuning; dit is 'n sieraad onder al die lande. 7Ek het vir hulle gesê, ‘Elkeen van julle moet die verfoeilike afgode waarvan hy nie wil afsien nie, wegwerp. Met die afgodsbeelde van Egipte mag julle julle nie verontreinig nie. Ek, die Here, is julle God.’
8“ ‘ “Maar hulle was opstandig teen My en wou nie na My luister nie. Nie een van hulle het die verfoeilike afgode waarvan hulle nie wou afsien nie, weggewerp nie. Die afgodsbeelde van Egipte het hulle nie laat vaar nie. Ek het dit oorweeg om my woede oor hulle uit te stort, om daar in Egipteland my toorn op hulle te laat uitwoed. 9Maar Ek het toe ter wille van my Naam opgetree, sodat dit nie ontheilig sou word in die oë van die nasies tussen wie hulle was nie – die nasies voor wie se oë Ek My aan Israel bekend gemaak het met die belofte om hulle uit Egipteland uit te lei.
10“ ‘ “Ek het hulle toe uit Egipteland uitgelei, hulle na die woestyn geneem, 11en vir hulle my vaste voorskrifte gegee. My bepalings het Ek aan hulle bekend gemaak, dit wat 'n mens moet doen, sodat hy daardeur kan leef. 12Ook my Sabbatte het Ek vir hulle gegee, sodat dit 'n teken sou wees tussen My en hulle, sodat hulle kon besef dat Ek, die Here, hulle heilig.
13“ ‘ “Maar die huis van Israel was opstandig teen My in die woestyn. My vaste voorskrifte het hulle nie gevolg nie, en my bepalings het hulle verwerp, dit wat 'n mens moet uitvoer sodat hy daardeur kan leef. My Sabbatte het hulle gruwelik ontheilig. Ek het dit oorweeg om my woede oor hulle uit te stort, om hulle in die woestyn te vernietig. 14Maar Ek het toe ter wille van my Naam opgetree, sodat dit nie ontheilig sou word in die oë van die nasies, ten aanskoue van wie Ek hulle uitgelei het nie. 15Op my beurt het Ek in die woestyn my hand vir hulle opgehef, dat Ek hulle nie sou inbring in die land wat Ek aan hulle sou gee nie, 'n land wat oorloop van melk en heuning, 'n sieraad onder al die lande. 16Dit is omdat hulle my bepalings verwerp het, my vaste voorskrifte nie gevolg het nie, en my Sabbatte ontheilig het; ja, hulle afgodsbeelde, dit is wat hulle harte bly volg het. 17Maar Ek het met soveel medelye na hulle gekyk dat ek hulle nie kon uitdelg nie; Ek het nie aan hulle 'n einde gemaak in die woestyn nie. 18Ek het egter vir hulle kinders in die woestyn gesê, ‘Die vaste voorskrifte van julle ouers moet julle nie volg nie; hulle bepalings moet julle nie nakom nie; met hulle afgodsbeelde moet julle julle nie verontreinig nie. 19Ek, die Here, is julle God. My vaste voorskrifte moet julle volg en my bepalings moet julle nakom; julle moet dit uitvoer. 20My Sabbatte moet julle heilig hou, sodat dit 'n teken kan wees tussen My en julle, sodat julle kan erken dat Ek, die Here, julle God is.’
21“ ‘ “Maar die kinders was opstandig teen My. My vaste voorskrifte het hulle nie gevolg nie; my bepalings het hulle nie nougeset nagekom nie – bepalings wat die mens moet uitvoer, sodat hy daardeur kan leef – en my Sabbatte het hulle ontheilig. Ek het dit oorweeg om my woede oor hulle uit te stort, om my toorn op hulle te laat uitwoed in die woestyn. 22Maar Ek het my hand teruggehou; Ek het ter wille van my Naam opgetree, sodat dit nie ontheilig sou word in die oë van die nasies ten aanskoue van wie Ek hulle uitgelei het nie. 23Op my beurt het Ek daar in die woestyn my hand vir hulle opgehef, dat Ek hulle sou versprei onder die nasies, hulle sou verstrooi in ander lande, 24omdat hulle my bepalings nie uitgevoer het nie, my vaste voorskrifte verwerp het en my Sabbatte ontheilig het. Hulle oë was net gevestig op die afgodsbeelde van hulle voorouers. 25Op my beurt het Ek vir hulle voorskrifte toegelaat wat nie goed was nie, en bepalings waardeur hulle nie sou bly leef nie. 26Ek het hulle •onrein laat word deur hulle geskenke, wanneer hulle elke eersteling van die moederskoot offer. Ek het dit toegelaat, sodat Ek hulle verbysterd kon laat, sodat hulle sou besef dat Ek die Here is.” ’
27“Daarom, praat met die huis van Israel, mensekind, en sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Ook nog hierin het julle voorouers My bespot deur hulle troubreuk wat hulle teenoor My gepleeg het: 28Ek het hulle na die land gebring waaroor Ek my hand opgehef het om dit aan hulle te gee. Maar hulle het elke hoë heuwel en elke blaarryke boom raakgesien, en daar hulle •offers geslag, daar tot my ergernis hulle offergawes aangebied, daar hulle geurige offers neergesit en daar hulle •drankoffers uitgegiet. 29Ek het toe vir hulle gevra, ‘Watter hoogte is dit dié waarheen julle gaan?’ ” ’ ” En hulle het dit •Offerhoogte genoem. Dit is vandag nog so.
30“Daarom, sê vir die huis van Israel, ‘So sê my Heer, die Here: “Wil julle julleself op dieselfde wyse as julle voorouers verontreinig en agter hulle verfoeilike afgode aan hoereer 31deur julle offergawes aan te bied, julle seuns te offer, julleself tot vandag toe te verontreinig met al julle verfoeilike afgode? Moet Ek My dan deur julle laat raadpleeg, huis van Israel? So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “Ek sal My nie deur julle laat raadpleeg nie. 32Wat in julle gedagte opgekom het, sal beslis nie gebeur nie, naamlik dat julle dink: Ons wil soos die nasies wees, soos die volksgroepe van ander lande, deur hout en klip te dien. 33So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “Ek sal met 'n sterk hand, met 'n uitgestrekte arm en met woede wat uitgestort word, oor julle regeer. 34Ek sal julle uitlei tussen die volke, julle byeenbring uit die lande waarheen julle versprei is, met 'n sterk hand, met 'n uitgestrekte arm, met woede wat uitgestort word. 35Ek sal julle na die woestyn van die volke neem, en daar sal Ek julle van aangesig tot aangesig voor die gereg daag. 36Soos Ek julle voorouers in die woestyn van Egipteland voor die gereg gedaag het, so sal Ek julle voor die gereg daag,” is die uitspraak van my Heer, die Here. 37“Ek sal julle onder my herderstaf laat deurgaan en julle in die band van die verbond laat ingaan. 38Ek sal van julle afskei dié wat in opstand is en teen My oortree. Uit die land waar hulle as •vreemdelinge vertoef, sal Ek hulle uitlei, maar op die grond van Israel sal hulle nie kom nie. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.
39“ ‘ “En julle, huis van Israel,” so sê my Heer, die Here, “gaan dien elkeen van julle sy afgodsbeelde! Maar daarna, as julle nie na My luister nie ...! My heilige Naam sal julle nie weer ontheilig met julle offergawes en julle afgodsbeelde nie! 40Want op my heilige berg, die hoë berg van Israel,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “daar sal die hele huis van Israel My dien, almal in die land. Daar sal Ek hulle aanvaar, en daar sal Ek julle •wydingsgeskenke, die keur van julle gawes, saam met al julle •heilige gawes, eis. 41As 'n geurige offer sal Ek julle aanvaar wanneer Ek julle van die volke af uitlei, julle byeenbring uit die lande waarheen julle versprei is. Ek sal My deur julle as die Heilige betoon voor die oë van die nasies. 42Julle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek julle na die grond van Israel bring, na die land waaroor Ek my hand opgehef het om dit vir julle voorouers te gee. 43Julle sal daar terugdink aan julle optrede, aan al julle dade waarmee julle julleself verontreinig het. Julle sal walg van julleself, van al die booshede wat julle aangerig het. 44Julle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek met julle handel ter wille van my Naam, en nie ooreenkomstig julle bose optrede, julle wangedrag nie, huis van Israel.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’ ”
God se vuur
45Die woord van die Here het tot my gekom: 46“Mensekind, draai jou gesig suidwaarts en preek driftig teen die suide, profeteer teen die struikgewas van die Negev. 47Jy moet vir die struikgewas van die Negev sê, ‘Hoor die woord van die Here. So sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek gaan nou 'n vuur in jou aansteek. Dit sal al die groen hout en al die droë hout in jou verbrand. Die vlammende vuur sal nie uitbrand nie, en die hele oppervlakte sal daardeur verskroei word, van die Negev af noordwaarts. 48Al wat leef, sal sien dat Ek, die Here, dit aangesteek het. Dit sal nie uitbrand nie.” ’ ”
49Daarop het ek gesê: “Ag, Here, my Heer, hulle sê oor my, ‘Praat hy nie maar net in raaisels nie?’ ”