Isak en Rebekka
1Abraham was oud, gevorderd in jare. Die Here het Abraham in alle opsigte geseën. 2Abraham het vir sy slaaf, die oudste in sy huis, wat beheer gehad het oor alles wat aan hom behoort, gesê: “Plaas jou hand onder my heup, 3sodat ek jou 'n eed kan laat aflê by die Here, die God van die hemel, en die God van die aarde, dat jy nie vir my seun 'n vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete in wie se midde ek woon nie, 4maar dat jy na my land, na my familie, sal gaan en vir my seun Isak 'n vrou sal gaan haal.” 5Die slaaf het vir hom gesê: “Miskien wil die vrou my nie volg na hierdie land nie. Moet ek u seun dan maar terugneem na die land waaruit u weggetrek het?” 6Maar Abraham het hom geantwoord: “Pasop dat jy nie my seun daarheen laat terugkeer nie! 7Die Here, die God van die hemel, wat my uit my ouerhuis en die land van my herkoms geneem het, en wat aan my 'n belofte gemaak en dit aan my met 'n eed bevestig het deur te sê, ‘Aan jou nageslag gee Ek hierdie land,’ Hy self sal sy engel voor jou uit stuur, en jy sal daar vir my seun 'n vrou gaan haal. 8As die vrou jou nie wil volg nie, is jy vry van hierdie eed teenoor my. My seun mag jy net nie daarheen terugneem nie.” 9Die slaaf het toe sy hand onder Abraham, sy heer, se heup geplaas en vir hom 'n eed afgelê oor hierdie saak.
10Die slaaf het tien van sy heer se kamele geneem en vertrek, met allerlei kosbaarhede van sy heer by hom. Hy het gereedgemaak en vertrek na Aram-Naharajim, na die dorp van Nahor. 11Hy het die kamele teen die aand buite die dorp by 'n put laat kniel, die tyd wanneer vroue uitgaan om water te skep. 12Hy het gesê: “Here, God van my heer Abraham, laat dit asseblief vandag vir my gebeur, en bewys so troue liefde aan my heer Abraham. 13Kyk, ek staan by die waterbron, en die dogters van die dorp se mans kom uit om water te skep. 14Mag dit so gebeur: Die jong meisie vir wie ek sê, ‘Hou asseblief jou kruik skuins dat ek kan drink,’ en wat my dan antwoord, ‘Drink! En ook jou kamele sal ek laat drink’ – dit is sy wat U bestem het vir u dienskneg, vir Isak; en daaraan sal ek weet dat U aan my heer troue liefde bewys het.”
15Hy het nog nie eers klaar gepraat nie, kyk, toe kom Rebekka – gebore vir Betuel, die seun van Milka, die vrou van Nahor, Abraham se broer – uit met haar kruik op haar skouer. 16Die jong meisie was beeldskoon, 'n maagd met wie 'n man nog nie gemeenskap gehad het nie. Sy het afgegaan na die fontein, haar kruik volgemaak en weer na bo gegaan. 17Die slaaf het haar tegemoet gehardloop en gesê: “Laat my asseblief 'n bietjie water drink uit jou kruik.” 18Sy het geantwoord: “Drink, meneer!” Sy het gou haar kruik op haar hand laat sak en hom laat drink. 19Toe sy hom klaar laat drink het, sê sy: “Ook vir u kamele sal ek water skep, totdat hulle klaar gedrink het.” 20Sy maak toe gou haar kruik in die drinkbak leeg en haas haar weer na die put om water te skep. Sy het vir al sy kamele water geskep. 21Die man het haar in stilte dopgehou om uit te vind of die Here sy reis goed laat afloop het of nie. 22Toe die kamele klaar gedrink het, haal die man 'n goue neusring uit, wat 'n beka weeg, en vir haar polse ook twee armbande waarvan die gewig tien sikkels goud was. 23Hy vra toe: “Wie se dogter is jy? Sê my asseblief! Is daar dalk in jou vader se huis vir ons plek om te oornag?” 24Sy het hom geantwoord: “Ek is die dogter van Betuel, die seun van Milka, wat sy vir Nahor in die wêreld gebring het.” 25Sy het verder vir hom gesê: “Daar is by ons sowel strooi as baie voer, en ook plek om te oornag.” 26Die man het gekniel, voor die Here in aanbidding gebuig 27en gesê: “Die Here, die God van my heer Abraham, moet geprys word, Hy wat sy liefde en trou nie van my heer weerhou het nie. Wat my betref: Die Here het my gelei op die pad na die huisgesin van my heer se broer.” 28Die jong meisie het toe gehardloop en by haar moeder se huis hierdie dinge gaan vertel.
29Rebekka het 'n broer gehad met die naam Laban. Laban het hom gehaas na die man daar buite by die fontein. 30Toe hy die neusring sien, en ook die armbande aan sy suster se polse, en hy die woorde hoor wat sy suster Rebekka sê, “So het die man met my gepraat,” gaan hy na die man toe. En kyk, hy staan toe nog daar by die kamele langs die fontein! 31Hy het vir hom gesê: “Kom in, geseënde van die Here! Waarom sal jy buite bly staan, terwyl ek self die huis en die plek vir die kamele gereedgemaak het?”
32Die man het die huis binnegegaan. Laban het die kamele losgemaak, strooi en voer vir die kamele gegee en water om sy en die manne wat by hom was, se voete te was. 33Daar is vir hom iets te ete voorgesit, maar het hy gesê: “Ek sal nie eet voordat ek my saak gestel het nie.” Laban het geantwoord: “Praat maar!” 34Toe sê hy: “Ek is 'n slaaf van Abraham. 35Die Here het my heer baie geseën, en hy het ryk geword. Hy het vir hom kleinvee en beeste gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies. 36Sara, die vrou van my heer, het vir hom 'n seun in die wêreld gebring nadat sy al oud geword het. My heer het alles wat hy besit, vir hom gegee. 37My heer het my 'n eed laat aflê, ‘Jy mag nie vir my seun 'n vrou neem uit die dogters van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie; 38maar jy moet na my familie en na my grootfamilie gaan en 'n vrou vir my seun gaan haal.’ 39Ek het vir my heer gesê, ‘Dalk sal die vrou my nie volg nie.’ 40Maar hy het vir my gesê, ‘Die Here voor wie ek leef, sal sy •engel saam met jou stuur, en Hy sal jou reis goed laat afloop, en jy sal 'n vrou vir my seun kry by my grootfamilie en my familie. 41Net dan sal jy vry wees van die eed aan my – as jy na my grootfamilie gaan en hulle gee haar nie aan jou nie. Jy sal dan vry wees van die eed aan my.’ 42Ek het vandag by die fontein aangekom en gesê, ‘Here, God van my heer Abraham, as U my reis waarop ek tans is, tog maar goed wil laat afloop! 43Kyk, ek staan hier by die waterbron; mag dit so wees dat die jong vrou wat uitkom om water te skep en vir wie ek vra, “Laat my asseblief bietjie water drink uit jou kruik,” 44en sy my dan antwoord, “Drink jy, dan sal ek ook vir jou kamele skep,” dat sy die vrou sal wees wat die Here vir die seun van my heer bestem het.’ 45Ek het self nog nie in my hart klaar gepraat nie, kyk, toe kom Rebekka uit met haar kruik op haar skouer, en sy gaan af na die fontein en skep water! Ek sê toe vir haar, ‘Laat my asseblief drink.’ 46Sy het gou haar kruik van haar skouer afgetel en gesê, ‘Drink! Ek sal ook jou kamele laat drink.’ Ek het toe gedrink, en sy het ook die kamele laat drink. 47Ek vra haar toe en sê, ‘Wie se dogter is jy?’ Sy het geantwoord, ‘Die dogter van Betuel, seun van Nahor, wat Milka vir hom in die wêreld gebring het.’ Toe het ek die ring aan haar neus en armbande om haar polse gesit. 48Ek het gekniel en voor die Here in aanbidding gebuig. Ek het die Here, die God van my heer Abraham, geprys, Hy wat my op die regte pad gelei het om die kleindogter van my heer se broer vir sy seun te verkry. 49Daarom, as julle liefde en trou aan my heer wil bewys, sê dit vir my. Maar indien nie, sê dit dan vir my, sodat ek regs of links kan afdraai.”
50Laban en Betuel het daarop gereageer en gesê: “Van die Here het die woord uitgegaan; ons kan vir jou nie iets goeds of slegs sê nie. 51Kyk, Rebekka is voor jou. Neem haar en gaan, sodat sy 'n vrou kan wees vir jou heer se seun, soos die Here gesê het.”
52Toe Abraham se slaaf hulle woorde hoor, het hy teen die grond in aanbidding gebuig voor die Here. 53Toe het die slaaf silwer- en goue voorwerpe en klere uitgehaal en aan Rebekka gegee. Hy het ook kosbaarhede vir haar broer en haar moeder gegee. 54Daarna het hy en die manne wat saam met hom was, geëet en gedrink, en die nag daar oorgebly.
Toe hulle die volgende oggend opstaan, sê hy: “Laat my na my heer gaan!” 55Maar haar broer en haar moeder het gesê: “Laat die jong meisie nog 'n dag of tien by ons bly. Daarna kan sy gaan.” 56Daarop sê hy vir hulle: “Moet my nie ophou nie. Dit is die Here wat my reis goed laat afloop het; laat my toe om na my heer te gaan.” 57Hulle sê toe: “Kom ons roep die jong meisie, sodat ons dit uit haar eie mond kan verneem.” 58Hulle het Rebekka geroep en haar gevra: “Wil jy saam met hierdie man gaan?” Sy het geantwoord: “Ek wil gaan.”
59Hulle het Rebekka, hulle suster, en haar oppasser, Abraham se slaaf en sy manne laat gaan. 60Hulle het Rebekka geseën en vir haar gesê:
“Ons suster,
mag jy duisend maal tienduisende word,
en mag jou nageslag die poorte van hulle vyande in besit neem.”
61Rebekka en haar diensmeisies het gereedgemaak, op die kamele geklim en die man gevolg. So het die slaaf Rebekka geneem en vertrek.
62Isak het uit die rigting van Beër-Lagai-Roï gekom; hy het toe in die gebied van die Negev gewoon. 63Isak het teen die aand uitgegaan om in die veld te gaan stap, en toe hy opkyk, sien hy: Daar kom kamele aan! 64Rebekka het opgekyk en Isak gesien. Sy het van die kameel afgegly 65en vir die slaaf gevra: “Wie is daardie man wat ons in die veld tegemoetkom?” Die slaaf het geantwoord: “Dit is my heer!” Toe neem sy haar sluier en bedek haarself.
66Die slaaf het vir Isak alles vertel wat hy gedoen het. 67Isak het haar in die tent van Sara, sy moeder, ingeneem. Hy het Rebekka geneem en sy het sy vrou geword, en hy het haar liefgehad. Isak is so getroos ná die dood van sy moeder.