Jakob se seënspreuke voor sy dood
1Jakob het sy seuns laat roep en gesê: “Kom bymekaar, sodat ek julle kan inlig oor wat met julle gaan gebeur in die toekoms.
2“Kom bymekaar en luister, seuns van Jakob,
luister na Israel, julle vader.
3Ruben, jy is my eersgeborene,
my sterkte, die eersteling
van my manlike krag –
uitsonderlik in verhewenheid,
uitsonderlik in krag.
4Onbeheerbaar soos water,
sal jy nie voorrang geniet nie;
want jy het op jou vader se beddens geklim,
en dit toe verontreinig.
Hy het op my slaapbank geklim.
5“Simeon en Levi is broers –
werktuie van geweld
is hulle besnydenismesse.
6In hulle kring moet ek self nie kom nie;
met hulle vergadering wil ek my
nie vereenselwig nie.
Want in hulle toorn het hulle mense vermoor,
uit moedswilligheid het hulle beeste se hakskeensenings afgekap.
7Vervloek is hulle toorn,
want dit is fel,
en hulle gramskap,
want dit is meedoënloos.
Ek sal hulle uitmekaarjaag in Jakob,
hulle verstrooi in Israel.
8“Juda, jy, jou broers sal jou prys!
Jou hand sal op die nek
van jou vyande wees;
die seuns van jou vader
sal diep voor jou buig.
9'n Leeuwelpie is Juda;
van die prooi, my seun,
het jy opgestaan.
Hy sak af, gaan lê soos 'n leeu,
soos 'n leeuwyfie.
Wie sal hom opjaag?
10Die septer sal nie van Juda wyk nie,
ook nie die heerserstaf
tussen sy voete nie,
totdat Hy aan wie dit behoort, kom,
en volke aan Hom gehoorsaam is.
11Aan 'n wingerdstok maak hy
sy donkiehings vas,
aan 'n edeldruif die vul
van sy donkiemerrie.
Hy was sy bokleed in wyn,
en sy klere in die sap van druiwe.
12Die oë is donkerder as wyn,
die tande witter as melk.
13“Sebulon – aan die strand
van die seë sal hy woon;
ja, hy is by die strand waar die skepe is,
met sy verste gebied langs Sidon.
14“Issaskar is 'n bonkige donkie
wat gaan lê tussen die saalsakke.
15Hy het gesien hoe goed
die rusplek is,
en hoe lieflik die land.
Hy het sy skouer laat sak vir die las,
hy het 'n dwangarbeider geword.
16“Dan handhaaf die reg van sy volk
as een van die stamme van Israel.
17Dan is 'n slang op die pad,
'n horingslang op die gebaande weg,
wat die hakskene van 'n perd pik,
en sy ruiter val agteroor.
18“Op u verlossing wag ek, Here.
19“Gad – 'n bende val hom aan,
maar hy val die hakskeen aan.
20“Uit Aser kom dit:
Ryk is sy kos,
hy self gee lekkernye
geskik vir 'n koning.
21“Naftali is 'n vrygelate rooitakbokooi wat mooi lammers gee.
22“'n Vrugbare jong wynstok is Josef,
'n vrugbare jong wynstok
langs 'n fontein;
die ranke hang oor die putmuur.
23Hulle het hom uitgetart
en op hom geskiet;
die boogskutters het hom verwoed teengestaan.
24Maar sy boog het bestendig gebly,
en sy voorarms was behendig,
vanweë die hande van die Magtige van Jakob,
vanweë die roem van die Herder,
die Rots van Israel,
25vanweë die God van jou vader,
sodat Hy jou sou help,
ja, God, die Almagtige,
sodat Hy jou sou seën
met seëninge uit die hemel daarbo,
seëninge van die •oerwater
wat daar onder lê,
seëninge van borste en moederskoot.
26Die seëninge van jou Vader
oortref die seëninge
van die ewige berge,
die begeerlikhede van die oeroue heuwels.
Mag dit rus op die kop van Josef,
op die hoof van die prins onder sy broers.
27“Benjamin is 'n wolf wat verskeur.
In die oggend verslind hy geroofde goed,
en teen die aand verdeel hy buit.”
28Hulle almal is die twaalf stamme van Israel; en dit is wat hulle vader vir hulle gesê het toe hy hulle geseën het. Hy het hulle geseën, elkeen met sy gepaste seën.
Jakob se dood en begrafnis
29Jakob het vir hulle sy laaste opdragte gegee. Hy het vir hulle gesê: “Ek gaan met my mense verenig word. Begrawe my by my voorouers in die grot op die stuk grond van Efron, die Hetiet, 30in die grot wat op die stuk grond by Magpela is, oos van Mamre, in die land Kanaän. Abraham het die stuk grond by Efron, die Hetiet, as eiendom gekoop vir 'n begraafplek. 31Daar het hulle Abraham en sy vrou Sara begrawe. Daar het hulle Isak en sy vrou Rebekka begrawe. En daar het ek Lea begrawe. 32Die aankoop van die stuk veld en die grot wat daarop is, was van die Hetiete.”
33Toe Jakob klaar was met die opdragte aan sy seuns, het hy sy voete teruggetrek op die bed. Hy het sy asem uitgeblaas en is met sy mense verenig.