1'n Ruk later, in die tyd van die koringoes, het Simson sy vrou gaan besoek met 'n bokkie. Hy het gedink: “Ek wil by my vrou ingaan, in die binnekamer.” Maar haar vader het hom toegang geweier. 2Haar vader het gesê: “Ek was vas oortuig dat jy haar heeltemal verwerp het; toe het ek haar vir jou vertroueling gegee. Is haar jonger suster nie mooier as sy nie? Laat sy maar joune word in haar plek.” 3Maar Simson het vir hulle gesê: “Hierdie keer is ek sonder blaam teenoor die Filistyne wanneer ek by hulle gaan skade aanrig.”
4Simson het gegaan en driehonderd jakkalse gevang. Hy het fakkels gevat, die jakkalse stert aan stert gedraai, en 'n fakkel in die middel tussen elke twee sterte vasgemaak. 5Toe steek hy die fakkels aan die brand en laat die jakkalse los in die ongeoeste graanlande van die Filistyne. Hy het alles, die gepakte gerwe, die ongeoeste graan, selfs die wingerde en olyfboorde aan die brand gesteek.
6Die Filistyne het gevra: “Wie het dit gedoen?” Die mense het gesê: “Simson, die skoonseun van die man in Timna, omdat hy sy vrou geneem en haar vir sy vertroueling gegee het.” Daarna het die Filistyne opgetrek en haar en haar vader verbrand. 7Simson het toe vir hulle gesê: “As dit is hoe julle optree, dan sal ek nie ophou voordat ek my op julle gewreek het nie.” 8Hy het hulle kort en klein geslaan – 'n groot slagting! Toe het hy afgegaan en in die rotsskeur by Etam gaan woon.
9Die Filistyne het opgetrek, in Juda kamp opgeslaan en hulle troepe in Legi ontplooi. 10Die manne van Juda het gevra: “Waarom het julle teen ons opgetrek?” Hulle het geantwoord: “Om Simson gevange te neem, daarom het ons opgetrek, om aan hom te doen wat hy aan ons gedoen het.”
11Drieduisend man uit Juda het toe afgegaan na die rotsskeur by Etam. Hulle het vir Simson gesê: “Weet jy dan nie dat die Filistyne oor ons heers nie? Wat het jy ons nou aangedoen?” Maar hy het vir hulle gesê: “Wat hulle aan my gedoen het, het ek net so aan hulle terug gedoen.” 12Hulle sê toe vir hom: “Dit is om jou gevange te neem dat ons hierheen afgekom het; om jou in die hande van die Filistyne oor te gee.” Simson het vir hulle gesê: “Lê vir my 'n eed af dat julle my nie self sal aanval nie.” 13Hulle het hom geantwoord: “Nee, want ons gaan jou net goed vasbind en aan hulle oorhandig, maar ons sal jou beslis nie doodmaak nie.” Hulle het hom toe met twee nuwe toue vasgebind en hom uit die rotsskuiling opgevat na buite.
14Toe hy by Legi aankom, het die Filistyne hom juigend tegemoetgegaan. Maar die Gees van die Here het van hom besit geneem, en die toue wat om sy voorarms was, het geword soos vlas wat vlam vat – die koorde het van sy hande af gesmelt. 15Hy kry toe die vars kakebeen van 'n donkie, steek sy hand uit, gryp dit vas en vel daarmee 'n duisend man neer. 16Simson sê toe:
“Met die kakebeen van 'n donkie
lê daar 'n hoop, twee hope.
Met die kakebeen van 'n donkie
het ek duisend man verslaan.”
17Toe hy klaar gepraat het, gooi hy die kakebeen neer en noem daardie plek Ramat-Legi. 18Hy was baie dors en het na die Here geroep. Hy het gesê: “Dit is U wat deur die hand van u dienskneg hierdie groot oorwinning bewerk het. Moet ek dan nou van die dors sterf, en in die hand van die onbesnedenes val?” 19Daarop het God die hol plek wat by Legi is, oopgekloof en daar het water uitgekom. Simson het gedrink, sy asem teruggekry en weer nuwe lewe gehad. Daarom noem hulle dit En-Hakkore, wat in Legi is; dit is vandag nog so. 20Hy het Israel in die tyd van die Filistyne twintig jaar lank gerig.