Oordeel oor Juda
1“Deurkruis die strate van Jerusalem;
kyk tog rond en let op!
Soek op haar pleine
of julle iemand vind,
of daar iemand is wat reg doen,
wat na betroubaarheid soek;
dan sal Ek haar vergewe.
2Al sê hulle,
‘So waar as die Here leef’,
sweer hulle tog vals.”
3Here, u oë, is dit nie gerig
op betroubaarheid nie?
U het hulle geslaan,
maar hulle het geen pyn gevoel nie.
U het hulle verniel,
maar hulle het geweier
om teregwysing te aanvaar.
Hulle het hulle gesigte
harder gemaak as 'n rots;
hulle het geweier om om te draai.
4Ek het by myself gedink:
Hulle is maar die armes;
hulle is dom,
want hulle ken nie die weg van die Here,
die beslissings van hulle God nie.
5Laat ek my na die belangrikes wend,
met hulle praat,
want hulle is mense wat die Here se weg
en hulle God se beslissings ken.
Maar gelyktydig het hulle die juk gebreek
en die stroppe stukkend geruk.
6Daarom trek 'n leeu uit die bos hulle plat,
gaan 'n wolf hulle verniel.
'n Luiperd hou hulle dorpe dop;
elkeen wat daar uitgaan, word verskeur.
Want hulle oortredings is talryk,
hulle afvalligheid is oorweldigend.
7“Om watter rede sou Ek jou vergewe?
Jou kinders het My verlaat,
en sweer by wat geen gode is nie.
Ek het hulle versadig,
maar hulle het egbreuk gepleeg,
in 'n hoerhuis onderdak gevind.
8Hulle het bronstige,
paarlustige hingste geword;
elkeen van hulle runnik
vir die vrou van sy medemens.
9Sou Ek daaroor nie rekenskap eis nie?”
is die uitspraak van die Here.
“Of sou Ek My nie wreek
op 'n nasie soos dié nie?
10“Klim op haar terrasse
en rig verwoesting aan,
maar moet dit nie heeltemal vernietig nie.
Verwyder haar hegranke,
want dit is nie die Here s'n nie.
11Ja, die huis van Israel
en die huis van Juda
het uiters verraderlik opgetree teenoor My,”
is die uitspraak van die Here.
12Hulle het die Here verloën;
hulle het gesê:
“Nie Hy nie!
'n Ramp sal nie oor ons kom nie;
en swaard en hongersnood
sal ons nie beleef nie.
13Die profete sal wind word;
die uitsprake van God
is nie by hulle te vinde nie.”
Mag dit met hulle so gaan!
14Daarom, so sê die Here,
die God van alle magte:
“Omdat julle hierdie woord spreek –
kyk, van my woorde in jou mond
gaan Ek 'n vuur maak,
en van hierdie volk brandhout.
Dit sal hulle verteer.
15Kyk, Ek gaan teen julle
'n nasie bring, van ver af,
huis van Israel,”
is die uitspraak van die Here.
“Dit is 'n bestendige nasie,
'n nasie wat van oudsher af daar is,
'n nasie wie se taal jy nie ken nie,
en jy sal nie verstaan wat hulle praat nie.
16Hulle pylkokers is soos oop grafte;
hulle is almal helde.
17Dié nasie sal jou oes
en jou brood verslind;
hulle sal jou seuns en dogters verslind;
hy sal jou kleinvee en beeste verslind;
hy sal jou wingerd en vyebome verslind;
hy sal jou versterkte stede
waarop jy vertrou,
verpletter met die swaard.
18“Maar ook in daardie dae,” is die uitspraak van die Here, “sal Ek julle nie heeltemal tot niet maak nie. 19En as julle sou vra, ‘Waarom het die Here ons God al hierdie dinge aan ons gedoen?’ moet jy vir hulle sê, ‘Soos wat julle My verlaat het en vreemde gode in julle land gedien het, sal julle vreemdes dien in 'n land wat nie aan julle behoort nie.’
20“Maak dit bekend in die huis van Jakob;
en kondig dit aan in Juda,
21 ‘Luister tog hierna,
dwase volk sonder verstand,
wat oë het, maar nie sien nie,
wat ore het, maar nie hoor nie!
22Het julle nie ontsag vir My nie,’ ”
is die uitspraak van die Here,
“of krimp julle nie ineen voor My nie.
Ek wat die sand gestel het
as grens vir die see,
as 'n ewige perk waaroor hy nie mag gaan nie?
Al slaan sy golwe donderend neer,
hulle rig niks uit nie;
al druis hulle,
hulle sal nie oor die grens gaan nie.
23Maar hierdie volk
het onversetlike harte
en is opstandig.
Hulle het afgewyk en weggegaan.
24Hulle het nie by hulleself gedink nie,
Ons moet tog ontsag hê
vir die Here ons God,
vir Hom wat reënbuie gee –
vroeë en laatreëns,
elkeen op sy tyd,
vir Hom wat die vasgestelde
weke van die oes
vir ons in stand hou.
25Julle sondeskuld het hierdie
dinge versteur;
julle sonde het die goeie van julle weggehou.
26“Ja, daar is goddeloses
wat hulle onder my volk bevind.
Gebukkend loer hulle,
asof in die skuiling van voëlvangers.
Hulle stel wippe;
mense, dié vang hulle.
27Soos 'n mandjie vol voëls,
so is hulle huise vol bedrog.
Daarom het hulle belangrik
en ryk geword.
28Hulle het vet en blink geraak;
hulle is ook onoortreflik
met dade van boosheid.
'n Regseis waaroor hulle
nie uitspraak lewer nie,
is die regseis van 'n vaderlose kind,
sodat hulle dit nie laat slaag nie.
Oor die regsaak van behoeftiges
gee hulle geen beslissing nie.
29Sou Ek daaroor nie rekenskap eis nie?”
is die uitspraak van die Here.
“Of sou Ek My op 'n nasie
soos hierdie nie wreek nie?
30Iets skrikwekkends,
iets afskuweliks gebeur in die land:
31Die profete profeteer leuens,
en die priesters skraap hande vol bymekaar.
En my volk hou daarvan so!
Wat meer sal julle nog doen?”