ל LAMED
1Waarom, Here, bly U so ver staan,
waarom verberg U Uself
in tye van nood?
2In hulle hoogmoed agtervolg
goddeloses die magtelose.
Mag hulle verstrik raak
in die sameswerings
wat hulle beplan!
3Ja, 'n goddelose spog
oor sy hartsbegeertes,
en terwyl hy wins maak,
vervloek en verag hy die Here.
4Die goddelose sê
met sy neus in die lug:
“God vra nie rekenskap nie;
daar is geen God nie” –
dit is al sy gedagtes.
5Sy paaie is altyd voorspoedig.
U beslissings is ver buite sy gesigsveld.
Hy minag al sy teenstanders.
6Hy sê in sy hart:
“Ek sal nie struikel nie;
van geslag tot geslag is ek die een
wat nie teenspoed sal ervaar nie.”
פ PE
7Sy mond is vol vervloeking,
bedrog en verdrukking;
onder sy tong is gemeenheid en onreg.
8Naby dorpies lê hy in 'n hinderlaag;
in skuilplekke vermoor hy
die onskuldige;
sy oë is op die loer vir die weerlose.
ע AJIN
9In 'n skuilplek lê hy
soos 'n leeu in die ruigte;
hy lê die magtelose voor
om hom te vang;
hy vang die magtelose
deur sy vangnet toe te trek.
10Verpletter krimp die weerlose ineen;
hy val in sy mag.
11Die goddelose sê in sy hart:
“God vergeet.
Hy hou sy oë toe;
Hy sien dit nooit raak nie.”
ק KOF
12Staan op, Here;
God, lig u hand;
vergeet die magteloses tog nie!
13Waarom verag 'n goddelose mens God?
Hy sê in sy hart
U eis nie rekenskap nie.
ר RESJ
14U sien tog self die moeite en verdriet,
U sien dit raak.
Deur dit in u hand te gee,
laat weerloses dit aan U oor;
vir weeskinders is U 'n helper.
שׁ SJIN
15Breek die arm van die goddelose,
ja, eis rekenskap van 'n bose mens
oor sy goddeloosheid
totdat U niks meer vind nie.
16Die Here is Koning vir altyd en ewig;
nasies verdwyn uit sy land.
ת TAW
17U het gehoor wat die verdruktes
graag wil hê, Here.
U versterk hulle harte,
U oor luister aandagtig
18om aan die weeskind
en die onderdrukte
reg te laat geskied.
Niemand sal meer voortgaan
om mense uit die land te verdryf nie.