Salomo word verlei tot afgodery. God kondig hom sy straf aan.
1EN koning Salomo het baie uitlandse vroue liefgehad; en wel behalwe die dogter van Farao, Moabitiese, Ammonitiese, Edomitiese, Sidoniese, Hetitiese —
2uit die nasies waarvan die Here aan die kinders van Israel gesê het: Julle mag nie met hulle meng nie, en hulle mag nie met julle meng nie; hulle sal voorwaar julle hart verlei agter hulle gode aan — Salomo het hulle met liefde aangehang.
3En hy het sewehonderd vroue, vorstinne, gehad, en driehonderd byvroue, sodat sy vroue sy hart verlei het.
4En in die tyd van Salomo se ouderdom het sy vroue sy hart verlei agter ander gode aan, sodat sy hart nie volkome met die Here sy God was soos die hart van sy vader Dawid nie.
5En Salomo het agter Astárte, die godin van die Sidoniërs, en agter Milkom, die verfoeisel van die Ammoniete, aan geloop.
6So het Salomo dan gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here en nie volgehou om die Here te volg soos sy vader Dawid nie.
7Toe het Salomo 'n hoogte gebou op die berg wat oostelik van Jerusalem lê, vir Kamos, die verfoeisel van die Moabiete, en vir Molog, die verfoeisel van die kinders van Ammon.
8En so het hy gedoen vir al sy uitlandse vroue wat rook laat opgaan het en geoffer het aan hulle gode.
9Daarom was die Here toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die Here, die God van Israel, wat twee maal aan hom verskyn het,
10en hom bevel gegee het omtrent hierdie saak om nie agter ander gode aan te loop nie; maar hy het die bevel van die Here nie gehou nie.
11Daarom het die Here vir Salomo gesê: Omdat dit so ver is met jou dat jy my verbond en my insettinge wat Ek jou beveel het, nie hou nie, sal Ek verseker die koningskap van jou afskeur en dit aan jou dienaar gee.
12Maar in jou dae sal Ek dit nie doen nie ter wille van jou vader Dawid; uit die hand van jou seun sal Ek dit afskeur.
13Maar Ek sal nie die hele koningskap afskeur nie; een stam sal Ek aan jou seun gee ter wille van my kneg Dawid en ter wille van Jerusalem wat Ek verkies het.
Vyande van Salomo.
14EN die Here het vir Salomo as teëstander verwek Hadad, die Edomiet; hy was van die koninklike familie in Edom.
15Toe Dawid dan met Edom besig was, en Joab, die leërowerste, opgetrek het om die gesneuweldes te begrawe, het hy al wat manlik was, in Edom doodgeslaan —
16want ses maande lank het Joab daar gebly met die hele Israel totdat al die manlike persone in Edom deur hom uitgeroei was —
17maar Hadad het ontvlug, hy en saam met hom Edomitiese manne uit die dienaars van sy vader, om na Egipte te gaan; en Hadad was 'n jong seun.
18En hulle het uit Mídian weggetrek en in Paran aangekom, en uit Paran manne met hulle saamgeneem en in Egipte aangekom by Farao, die koning van Egipte, wat hom 'n huis gegee en aan hom voedsel toegesê en hom grond gegee het.
19En Hadad het groot guns gevind in die oë van Farao, sodat dié aan hom sy vrou se suster, die suster van Tágpenes, die gebiedster, as vrou gegee het.
20En die suster van Tágpenes het vir hom sy seun Genúbat gebaar, maar Tágpenes het hom in die huis van Farao gespeen, sodat Genúbat in die huis van Farao was onder die kinders van Farao.
21Maar toe Hadad in Egipte hoor dat Dawid met sy vaders ontslaap het en Joab, die leërowerste, dood was, sê Hadad vir Farao: Laat my gaan, dat ek na my land kan trek.
22Daarop sê Farao vir hom: Maar wat ontbreek jou by my, dat jy meteens begeer om na jou land te trek? En hy antwoord: Niks nie, maar laat my tog maar gaan.
23God het ook as teëstander vir hom verwek Reson, die seun van Éljada, 'n vlugteling van sy heer Hadadéser, die koning van Soba.
24In die tyd toe Dawid hulle gedood het, het hy manne om hom versamel, sodat hy owerste van 'n bende was; en hulle het na Damaskus getrek en daarin gewoon en in Damaskus geregeer.
25En hy was 'n teëstander van Israel al die dae van Salomo — en dit nog by die kwaad wat Hadad gedoen het — want hy het 'n afsku van Israel gehad, en hy het oor Aram koning geword.
Ahía profeteer dat Jeróbeam koning sal word oor Israel.
26OOK Jeróbeam, die seun van Nebat, 'n Efraimiet uit Seréda — die naam van sy moeder was Serúa, 'n weduwee — 'n dienaar van Salomo, het sy hand opgehef teen die koning.
27En dít was die aanleiding dat hy die hand teen die koning opgehef het: Salomo het Millo gebou en daardeur die skeur aan die stad van sy vader Dawid toegemaak.
28En die man Jeróbeam was 'n dapper held. Toe Salomo sien dat die jongman 'n bekwame arbeider was, het hy hom aangestel oor al die dwangarbeiders van die huis van Josef.
29Terwyl Jeróbeam in dié tyd uit Jerusalem uitgaan, kry die profeet Ahía, die Siloniet, hom op die pad; en dié was bekleed met 'n nuwe mantel; en hulle twee was alleen in die veld.
30Toe gryp Ahía die nuwe mantel wat hy aangehad het, en skeur dit in twaalf stukke,
31en hy sê vir Jeróbeam: Neem vir jou tien stukke, want so spreek die Here, die God van Israel: Kyk, Ek gaan die koninkryk uit die hand van Salomo afskeur en aan jou die tien stamme gee;
32maar die een stam sal syne wees ter wille van my kneg Dawid en ter wille van Jerusalem, die stad wat Ek verkies het uit al die stamme van Israel —
33omdat hulle My verlaat en hul neergebuig het voor Astárte, die godin van die Sidoniërs, voor Kamos, die god van die Moabiete, en voor Milkom, die god van die kinders van Ammon, en nie gewandel het in my weë deur te doen wat reg is in my oë, naamlik my insettinge en my verordeninge, soos sy vader Dawid nie.
34Ek sal ewenwel die koningskap as geheel nie uit sy hand neem nie, maar Ek sal hom as vors aanstel al die dae van sy lewe ter wille van my kneg Dawid wat Ek verkies het, wat my gebooie en my insettinge gehou het.
35Maar uit die hand van sy seun sal Ek die koningskap neem en dit aan jou gee, die tien stamme;
36en aan sy seun sal Ek een stam gee, sodat my kneg Dawid altyd 'n lamp kan hê voor my aangesig in Jerusalem, die stad wat Ek vir My verkies het om my Naam daar te vestig;
37en Ek sal jou neem, en jy sal regeer oor alles wat jou siel begeer, en jy sal koning word oor Israel.
38En as jy luister na alles wat Ek jou beveel en wandel in my weë en doen wat reg is in my oë deur my insettinge en my gebooie te hou, soos my kneg Dawid gedoen het, dan sal Ek met jou wees en vir jou 'n bestendige huis stig, soos Ek vir Dawid gestig het, en Israel aan jou gee.
39Want Ek wil om hierdie rede die nageslag van Dawid verneder, maar nie vir altyd nie.
40En Salomo het geprobeer om Jeróbeam om te bring; maar Jeróbeam het hom klaargemaak en gevlug na Egipte, na Sisak, die koning van Egipte, en was in Egipte tot die dood van Salomo.
Dood van Salomo.
41EN die verdere geskiedenis van Salomo en alles wat hy gedoen het, en sy wysheid, is dit nie beskrywe in die Geskiedenisboek van Salomo nie?
42En die dae wat Salomo in Jerusalem oor die hele Israel geregeer het, was veertig jaar.
43Daarna het Salomo met sy vaders ontslaap en is begrawe in die stad van sy vader Dawid; en sy seun Rehábeam het in sy plek koning geword.