Dawid spaar Saul se lewe.
1EN daarvandaan het Dawid opgetrek en in die bergvestings van Éngedi gebly.
2En net toe Saul terugkom agter die Filistyne vandaan, is aan hom meegedeel en gesê: Kyk, Dawid is in die woestyn van Éngedi.
3Daarop het Saul drieduisend uitgesoekte manne uit die hele Israel geneem en heengegaan om Dawid en sy manne te soek teenoor die Steenbokrotse.
4Toe hy kom by die skaapkrale langs die pad waar 'n spelonk was, het Saul daar ingegaan om sy voete te bedek, terwyl Dawid en sy manne agter in die spelonk sit.
5En die manne van Dawid sê aan hom: Kyk, dit is die dag dat die Here aan u sê: Nou gee Ek jou vyand in jou hand, en maak met hom soos goed is in jou oë. Toe staan Dawid op en sny stilletjies die slip van Saul se mantel af.
6Maar daarna het Dawid se gewete hom gepla, omdat hy die slip van Saul afgesny het,
7en hy het aan sy manne gesê: Mag die Here my bewaar dat ek so iets aan my heer, die gesalfde van die Here, sou doen om my hand teen hom uit te steek; want hy is die gesalfde van die Here.
8En Dawid het sy manne streng bestraf en hulle nie toegelaat om teen Saul op te staan nie. En Saul het uit die spelonk uit opgestaan en sy koers gegaan.
9Daarna staan Dawid ook op en gaan uit die spelonk uit en roep agter Saul aan en sê: My heer die koning! Toe Saul agter hom omkyk, buig Dawid met sy aangesig na die aarde toe en val neer.
10En Dawid sê vir Saul: Waarom luister u na die woorde van mense wat sê: Kyk, Dawid soek u onheil?
11Kyk, vandag sien u eie oë dat die Here u vandag in die spelonk in my hand gegee het; en hulle het gesê ek moet u doodmaak, maar ek het u verskoon en gesê: Ek sal my hand nie uitsteek teen my heer nie, want hy is die gesalfde van die Here.
12En kyk, my vader, ja, kyk die slip van u mantel in my hand! Want toe ek die slip van u mantel afgesny het, het ek u nie gedood nie. Erken en sien dat daar by my geen kwaad of oortreding is en ek nie teen u gesondig het nie, alhoewel u op my lewe loer om dit weg te neem.
13Die Here sal oordeel tussen my en u, en die Here sal my aan u wreek; maar my hand sal teen u nie wees nie.
14Soos die spreekwoord van die voorvaders sê: Uit die goddelose gaan goddeloosheid uit. Maar my hand sal nie teen u wees nie.
15Agter wie aan het die koning van Israel uitgetrek? Agter wie kom u aangejaag? Agter 'n dooie hond, agter een enkele vlooi aan!
16Maar die Here sal regter wees en oordeel tussen my en u. Ja, mag Hy toesien en my saak verdedig en aan my reg verskaf teenoor u.
17Toe Dawid hierdie woorde ten einde toe tot Saul gespreek het, sê Saul: Is dit jou stem, my seun Dawid? En Saul het sy stem verhef en geween
18en aan Dawid gesê: Jy is regverdiger as ek, want jy het aan my goed gedoen terwyl ek aan jou kwaad gedoen het.
19En jy het vandag bewys dat jy goed aan my gedoen het; dat naamlik die Here my in jou hand oorgelewer het, maar jy het my nie gedood nie.
20Want as iemand sy vyand aantref, sal hy hom op 'n goeie pad laat gaan? Maar die Here sal jou die goeie vergelde vir wat jy vandag aan my gedoen het.
21En nou, kyk, ek weet jy sal sekerlik koning word, en die koningskap oor Israel sal in jou hand standhou.
22Sweer dan nou vir my by die Here dat jy my geslag ná my nie sal uitroei en my naam uit my familie nie sal uitdelg nie.
23Toe sweer Dawid vir Saul. En Saul het na sy huis gegaan, maar Dawid en sy manne het na die bergvesting opgetrek.