Die Filistyne verslaan Israel en neem die verbondsark. Dood van Eli se seuns en van Eli self.
1EN die woord van Samuel het tot die hele Israel gekom. En Israel het uitgetrek vir die geveg, die Filistyne tegemoet, en hulle het laer opgeslaan by Ebenhaéser; maar die Filistyne het laer opgeslaan by Afek.
2Toe die Filistyne hulle opstel om Israel te ontmoet, en die geveg ontwikkel, is Israel voor die Filistyne verslaan; en hulle het op die vegterrein in die veld omtrent vierduisend man doodgeslaan.
3Terwyl die manskappe die laer inkom, sê die oudstes van Israel: Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne verslaan? Laat ons die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe bring, dat dit onder ons inkom en ons verlos uit die hand van ons vyande.
4Daarop het die manskappe na Silo gestuur, en hulle het die verbondsark van die Here van die leërskare wat op die gérubs troon, daarvandaan gaan haal; en die twee seuns van Eli, Hofni en Pínehas, was daar by die verbondsark van God.
5En net toe die verbondsark van die Here in die laer inkom, hef die hele Israel 'n groot krygsgeskreeu aan, sodat die aarde gedreun het.
6En die Filistyne het die geluid van die gejuig gehoor en gesê: Watter geluid van 'n groot krygsgeskreeu is dit in die laer van die Hebreërs? Toe verneem hulle dat die ark van die Here in die laer gekom het.
7En die Filistyne het bang geword, want hulle het gesê: God het in die laer gekom! En hulle het gesê: Wee ons, want so iets het gister en eergister nie gebeur nie.
8Wee ons! Wie sal ons red uit die hand van hierdie geweldige gode? Dit is dieselfde gode wat die Egiptenaars met allerhande plae getref het in die woestyn.
9Wees dapper en gedra julle soos manne, Filistyne, dat julle nie miskien die Hebreërs dien soos hulle julle gedien het nie; gedra julle dan soos manne, en veg.
10Toe het die Filistyne geveg, en Israel is verslaan, sodat hulle gevlug het, elkeen na sy tente toe. En die slagting was baie groot: van Israel het daar dertigduisend voetgangers geval.
11Die ark van God is ook geneem, en die twee seuns van Eli, Hofni en Pínehas, het gesterwe.
12Toe het 'n Benjaminiet van die slagveld af gehardloop en dieselfde dag in Silo aangekom met geskeurde klere en grond op sy hoof.
13Terwyl hy aankom, sit Eli juis en uitkyk op 'n stoel aan die kant van die pad, want hy was besorg oor die ark van God. En die man het gekom om dit in die stad mee te deel, en die hele stad het geskreeu.
14Toe Eli dan die geluid van die geskreeu hoor, sê hy: Wat is dit vir 'n rumoerige geluid? En die man het gou gekom en dit aan Eli meegedeel.
15(Eli was agt-en-negentig jaar oud, en sy oë het styf gestaan, sodat hy nie kon sien nie.)
16En die man het vir Eli gesê: Dit is ek wat van die slagveld gekom het; ja, ek het vandag van die slagveld gevlug. En hy vra: Wat het daar gebeur, my seun?
17En die boodskapper antwoord en sê: Israel het voor die Filistyne gevlug, en daar was ook 'n groot neerlaag onder die manskappe, en u twee seuns, Hofni en Pínehas, het ook gesterwe, en die ark van God is geneem.
18Net toe hy melding maak van die ark van God, val hy agteroor van die stoel af aan die kant van die poort, sodat hy sy nek gebreek en gesterf het; want die man was oud en swaar. En hy het Israel veertig jaar lank gerig.
19En sy skoondogter, die vrou van Pínehas, was vér heen in haar swangerskap. Toe sy dan die tyding hoor dat die ark van God geneem is, en dat haar skoonvader en haar man gesterf het, het sy haar krom gebuig en gebaar, want haar barensweë het haar oorval.
20En terwyl sy op sterwe lê, sê die vroue wat by haar staan: Wees nie bevrees nie, want jy het 'n seun gebaar; maar sy het nie geantwoord en dit nie ter harte geneem nie,
21maar die seuntjie Íkabod genoem en gesê: Weggevoer is die eer uit Israel — met die oog op die wegneming van die ark van God en met die oog op haar skoonvader en haar man.
22En sy het gesê: Weggevoer is die eer uit Israel, omdat die ark van God geneem is.