1NADAT Dawid van die top af 'n entjie verder getrek het, kom Siba, die dienaar van Mefibóset, meteens hom tegemoet met 'n paar opgesaalde esels en op hulle tweehonderd brode en honderd rosynekoeke en honderd somervrugte en 'n sak wyn.
2En die koning het Siba gevra: Wat wil jy hiermee maak? En Siba sê: Die esels is vir die huis van die koning om op te ry, en die brood en die somervrugte vir die dienaars om te eet, en die wyn vir die vermoeides in die woestyn om te drink.
3En die koning vra: Maar waar is die seun van jou heer? En Siba sê vir die koning: Kyk, hy het daar in Jerusalem gebly, want hy dink: Vandag sal die huis van Israel my vader se koningskap aan my teruggee.
4Daarop sê die koning vir Siba: Kyk, alles wat aan Mefibóset behoort, is joue. En Siba sê: Ek buig my neer! Mag ek genade vind in u oë, my heer die koning!
5En toe koning Dawid tot by Bahúrim gekom het, kom daarvandaan juis 'n man te voorskyn uit die geslag van die huis van Saul met die naam van Símeï, die seun van Gera; hy het uitgekom en gedurigdeur gevloek
6en Dawid en al die dienaars van koning Dawid met klippe gegooi, alhoewel al die mense en al die helde aan sy regter- en aan sy linkerkant was.
7En dit het Símeï gesê terwyl hy vloek: Weg, weg, jou bloedvergieter en jou deugniet!
8Die Here het al die bloed van die huis van Saul, in wie se plek jy koning geword het, op jou laat neerkom; en die Here het die koningskap in die hand van jou seun Absalom gegee, en hier is jy nou in jou ongeluk, omdat jy 'n bloedvergieter is.
9Toe vra Abísai, die seun van Serúja, vir die koning: Waarom moet hierdie dooie hond my heer die koning vloek? Laat ek tog oorstap en sy kop afslaan!
10Maar die koning sê: Wat het ek met julle te doen, seuns van Serúja? As hy vloek, en as die Here aan hom gesê het: Vloek Dawid! wie mag dan vra: Waarom maak jy so?
11Verder het Dawid aan Abísai en al sy dienaars gesê: Kyk, my seun wat uit my liggaam voortgekom het, soek my lewe: hoeveel te meer dan nou die Benjaminiet? Laat hom staan, dat hy vloek, want die Here het hom dit beveel.
12Miskien sal die Here my ellende aansien en sal die Here my goed vergelde vir die vloek wat my vandag tref.
13Dawid en sy manne het toe met die pad getrek, terwyl Símeï al langs hom aan die kant van die berg gedurig loop en vloek, en al langs hom met klippe gooi en stof maak.
14En moeg het die koning en al die mense wat by hom was, by die Jordaan aangekom en daar asem geskep.
Die raad van Agitófel en dié van Húsai.
15INTUSSEN het Absalom en al die manskappe, die manne van Israel, in Jerusalem aangekom, en Agitófel was by hom.
16En net toe Húsai, die Arkiet, die vriend van Dawid, by Absalom kom, sê Húsai vir Absalom: Mag die koning leef, mag die koning leef!
17Maar Absalom vra vir Húsai: Is dit jou liefde teenoor jou vriend? Waarom het jy nie saam met jou vriend getrek nie?
18Toe sê Húsai vir Absalom: Nee, maar aan hom wat die Here verkies, en hierdie volk en al die manne van Israel, aan hom behoort ek, en by hom sal ek bly.
19En ten tweede: Wie sal ék dien? Is dit nie voor die aangesig van sy seun nie? Soos ek voor u vader gedien het, so sal ek voor u wees.
20Daarop sê Absalom vir Agitófel: Julle moet raad gee onder mekaar wat ons moet doen.
21En Agitófel sê vir Absalom: Gaan in by die byvroue van u vader wat hy laat agter bly het om die huis op te pas. Dan sal die hele Israel hoor dat u u gehaat gemaak het by u vader, en die hande van almal wat by u is, sal versterk word.
22Hulle het toe vir Absalom 'n tent op die dak opgeslaan, en Absalom het voor die oë van die hele Israel by die byvroue van sy vader ingegaan.
23En die raad wat Agitófel in dié dae gegee het, was asof 'n mens die woord van God geraadpleeg het. So was elke raad van Agitófel vir Dawid sowel as vir Absalom.