1EN Dawid het die manskappe gemonster wat by hom was, en owerstes oor duisend en owerstes oor honderd oor hulle aangestel.
2En Dawid het die manskappe uitgestuur: 'n derde deel onder bevel van Joab, en 'n derde onder Abísai, die seun van Serúja, die broer van Joab, en 'n derde onder Íttai, die Gittiet; en die koning het aan die manskappe gesê: Ek sal ook seker saam met julle uittrek.
3Maar die manskappe het gesê: U mag nie uittrek nie, want as ons miskien vlug, sal hulle nie op ons ag gee nie; ja, al sterwe die helfte van ons, hulle sal nie op ons ag gee nie, want u is soos tienduisend van ons. Dit is dan nou beter dat u ons van die stad uit te hulp kom.
4Toe sê die koning vir hulle: Wat goed is in julle oë, sal ek doen. En die koning het langs die poort gaan staan, terwyl al die manskappe by honderde en by duisende uittrek.
5En die koning het Joab en Abísai en Íttai bevel gegee en gesê: Saggies met die jongman, met Absalom. En al die manskappe het gehoor toe die koning aan al die owerstes bevel gee omtrent Absalom.
6Daarop trek die manskappe uit, die veld in om Israel te ontmoet; en die geveg het plaasgevind in die bos van Efraim.
7En die manskappe van Israel is daar voor die dienaars van Dawid verslaan, en die neerlaag was dié dag daar groot, twintigduisend.
8Maar die geveg is daar uitgebrei oor die oppervlakte van die hele land, en die bos het daardie dag onder die mense meer verteer as wat die swaard verteer het.
9En die dienaars van Dawid het Absalom onverwags aangetref terwyl Absalom op 'n muil ry; en toe die muil onder die digte takke van 'n groot terpentynboom ingaan, het sy hoof in die terpentynboom vasgehaak, sodat hy tussen hemel en aarde bly hang het, terwyl die muil onder hom wegloop.
10Toe die man dit sien, het hy aan Joab berig gebring en gesê: Kyk, ek het Absalom aan 'n terpentynboom sien hang.
11En Joab sê vir die man wat hom die berig gebring het: En as jy dit gesien het, waarom het jy hom dan nie daar teen die grond neergeslaan nie? Dan moes ek jou tien silwerstukke en een gord gegee het.
12Maar die man sê vir Joab: Al kon ek ook duisend silwerstukke op my hande weeg, ek sou my hand tog nie uitsteek teen die seun van die koning nie; want die koning het u en Abísai en Íttai voor ons ore bevel gegee en gesê: Julle, wie dan ook, moet vir die jongman Absalom sorg.
13Of as ek vals teen sy lewe gehandel het — niks tog bly vir die koning verborge nie — dan sou u opsy gestaan het.
14Toe sê Joab: Ek wil nie so by jou vertoef nie! En hy het drie spiese in sy hand geneem en dié in die hart van Absalom gesteek, terwyl hy nog lewendig was binne-in die terpentynboom.
15En tien jongmanne, wapendraers van Joab, het nader gekom en Absalom doodgeslaan.
16Daarop blaas Joab op die ramshoring, en al die manskappe het omgedraai en Israel nie meer agtervolg nie, want Joab het die manskappe teruggehou.
17Toe het hulle Absalom geneem en hom in die bos in 'n groot kuil gegooi en 'n baie groot hoop klippe bo-op hom gestapel, onderwyl die hele Israel elkeen na sy tent vlug.
18En Absalom het gedurende sy lewe die gedenksteen wat in die koningsdal staan, geneem en vir homself opgerig met die woorde: Ek het geen seun om my naam in gedagtenis te hou nie; en hy het die gedenksteen na sy naam genoem, en dit word tot vandag toe genoem die gedenkteken van Absalom.
Dawid rou oor Absalom.
19DAAROP sê Ahímaäs, die seun van Sadok: Laat my tog hardloop en aan die koning die goeie boodskap bring dat die Here aan hom reg verskaf het teenoor sy vyande.
20Maar Joab sê vir hom: Jy is nie vandag 'n man vir 'n boodskap nie, maar anderdag kan jy 'n boodskap bring — vandag mag jy nie die boodskap bring nie juis omdat die seun van die koning dood is.
21Toe sê Joab vir die Kusiet: Gaan vertel die koning wat jy gesien het! En die Kusiet het voor Joab gebuig en gehardloop.
22Maar Ahímaäs, die seun van Sadok, het nog 'n keer aan Joab gesê: Laat kom wat wil — laat my tog ook agter die Kusiet aan hardloop. En Joab vra: Waarom wil jy dan nou hardloop, my seun? Vir jou is daar tog geen boodskappersloon te kry nie.
23Laat kom wat wil, sê hy, ek hardloop. En hy antwoord hom: Hardloop! En Ahímaäs het met die pad na die Jordaanstreek gehardloop en die Kusiet verbygegaan.
24En terwyl Dawid tussen die twee poortingange sit, het die wag op die dak van die poort op die muur geklim; en toe hy sy oë opslaan, sien hy meteens 'n man alleen hardloop.
25Toe het die wag uitgeroep en dit aan die koning meegedeel. En die koning sê: As hy alleen is, dan is daar 'n goeie boodskap in sy mond. Terwyl hy al nader en nader kom,
26sien die wag 'n ander man hardloop; en die wag het die poortwagter toegeroep en gesê: Kyk, daar hardloop nog 'n man alleen. Daarop sê die koning: Hy bring ook 'n goeie boodskap.
27Verder het die wag gesê: Ek sien die gang van die eerste is soos die gang van Ahímaäs, die seun van Sadok. Toe sê die koning: Hy is 'n goeie man, en hy kom met 'n goeie boodskap.
28En Ahímaäs het uitgeroep en aan die koning gesê: Vrede! En hy het hom voor die koning gebuig met sy aangesig na die aarde en gesê: Geloofd sy die Here u God wat die manne oorgelewer het wat hulle hand teen my heer die koning opgetel het.
29Toe vra die koning: Gaan dit goed met die jongman, met Absalom? En Ahímaäs antwoord: Ek het 'n groot gewoel gesien toe Joab die dienaar van die koning, naamlik u dienaar, gestuur het, maar ek het nie geweet wat dit was nie.
30Daarop sê die koning: Gaan opsy en kom hier staan. Toe hy dan opsy gaan en daar bly staan,
31kom die Kusiet juis aan; en die Kusiet sê: My heer die koning moet die blye boodskap ontvang dat die Here aan u vandag reg verskaf het teenoor almal wat teen u opgestaan het.
32En die koning het die Kusiet gevra: Gaan dit goed met die jongman, met Absalom? En die Kusiet sê: Mag dit met die vyande van my heer die koning en met almal wat teen u opstaan om kwaad te doen, gaan soos met dié jongman!
33Toe het die koning baie ontroerd geword en opgeklim na die bovertrek van die poort en geween; en hy het rondgeloop en só gesê: My seun Absalom, my seun, my seun Absalom! Ag, as ek self maar in jou plek gesterf het! Absalom, my seun, my seun!